Afrikaans Poësie

“Boom” deur Jan de Bruyn

Ek is nie ‘n boom nie
as jy glo jy kan in die verbyloop
‘n mondvol soene pluk
vir ‘n oomblik
in die koelte van my omhelsing staan
onthou
ek is nie ‘n boom nie
ek het ook nodig

behalwe kos en kraanwater
die diep grond van jou heupe en hande
die reën van jou nagte en lag
vir lower vir my arms
vir my mond om ryp te word.

*
Ek stuur vir jou
-behalwe groete-
alles wat ek sonder antwoord sê,
alles wat ek met die ver hande
van my oë pluk,
die wit blomme wolke
in ‘n blou vlei;
die varings van stilte
wat in die berge van die jare groei.

Ek stuur vir jou ook
‘n handvol van ‘n môre hier
om teen jou oor te hou
soos ‘n skulp
as die dae aanhou knars.

En ek stuur vir jou
die son die rooi lemoen
wat ek opgetel het
net anderkant vandag
net duskant die nag
vir lig om te drink
as ‘n vaal reën aanhou val.


Meer oor Jan de Bruyn, Zoutnet.co.za

Google books, Witvuurlig

0 comments on ““Boom” deur Jan de Bruyn

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: