i Paar jaar gelede het www.afrikaans.com i wonderlike veldtog geloots om die publiek bewus te maak van die kleurvolle en flambojante baadjie wat Afrikaans dra. Die Hoe lyk jóú Afrikaans-veldtog het al die unieke, eienaardige en beeldskone maniere waarop daar in Afrikaans geskryf, gepraat en geleef word ge-celebrate. En dit is waaraan Ons Skryf Afrikaans jou daagliks wil herinner – aan al die sappige idiome; sprokiesagtige woorde; eiesoortige terme; unieke lingo en even die morsige slang wat die Afrikaanssprekende se laslappie-landskap vorm, versier, verheerlik.
Nes jy, dink ek in Afrikaans, praat in Afrikaans, omarm ek my menswees in Afrikaans, maar ek klink nie soos jy nie. Allermins. Daar is waarskynlik honderde taalpuriste wat die horrie-piep sal kry as hulle moet hoor hoe ek my taal meng, maar weet jy wat? Daar is nie hierdie uptight hoofstroom-Afrikaans wat haar neus snobbisties vir my bastertaal optrek nie. Nuh uh. Afrikaans is meer ruimhartig as dit. Soveel ryker, voller, vrolik.
Afrikaans bestaan uit i mengelmoes dialekte,
aksente, klanke en uitsprake. Sy durf nie in ’n
doos geprop word nie.
Haar onderrok is skelpienk met skalkse valletjies terwyl haar hare in i ouvrou-bolla op haar kop pryk, haar oorkrabbertjies is van stainless steel terwyl daar i sagte glimlag om haar vol lippe vou. Dít is hoe multi dimensioneel sy is. Daar is standaardafrikaans; Gariep-Afrikaans, allerlei ander kontrei-Afrikaans; Kaaps; Afrikaans wat soms deurspek word met Engelse woorde, soms met vloekwoorde en tien teen een i hele paar ander waarvan ek onbewus is. So, Afrikaans se wortelstelsel is wel gesetel in i suiwer woordeskat, maar haar takke groei wyd en suid en hou nooit op om charming nuwe blare te produseer nie!
Natuurlik is daar vir my NIKS mooier as wanneer Chris Chameleon Afrikaans praat nie. Hoendervleis rippel oor my vel soos i waansinnige aardbewing … Maar dit is ongelukkig nie een van my talente om so sagkens en teer en toweragtig met die taal om te gaan nie. So, skoenmaker hou jou by jou lees. Ek is nie vol genoeg iepiekonders om voor te gee wie en wat ek nie is nie. Ek skryf soos wat ek praat. Jy skryf soos jy praat.
Afrikaans is die taal van my hart. Afrikaans is die taal van jou hart. My hart en jou hart klop nie teen dieselfde tempo nie, die taal wat ons praat het nie dieselfde tekstuur nie, proe nie dieselfde op ons lippe nie.
Woorde het smake en jy kies dié wat genotvol oor jou tong dans.
En dis okay om van mekaar te verskil, want ons is mens, emosionele, komplekse, fynbesnaarde human beings.
My enigste beroep op jou? Respekteer daai verskille. My ma sê altyd: “As jy nie iets goed kan sê nie, bly dan eerder stil”. So as jy iets sou lees waarvan jy nie hou nie, as iemand se skryftaal jou grief of as hul opinie(s) jou de moer in maak, moenie verder lees nie. So maklik (en moeilik) soos dit. Moenie jou siel versondig nie. As jy nié jou nuuskierigheid kan beteuel nie en aanhou lees, is dit op eie risiko. Moet asseblief nie jou kosbare tyd en energie verder mors deur i snedige of beterweterige string woorde daarna te comment nie. Net boelies en snotty trolle gebruik woorde om seer te maak en te belittle. Walk away, child.
Oor die volgende paar maande gaan jy i incredible groep skrywers ontmoet wat jou brein gaan kielie met hul gedigte en kortverhale. Miskien sal i opinion driven skryfstuk jou inspireer of kwaad maak of stof tot nadenke los.
Die blogs mag en gaan heel moontlik sterk opinies, humor, ligte vermaak of filosofieë huisves. Hier gaan jy basies enige iets wat i skrywer se hartsnare tokkel en hul pen gierig laat dans, ontdek.
Neem, eet en drink.
Vrede
Irene
Woorde leef op die lippe van mense, nie in woordeboeke nie.
— Ampie Van Straten
Irene Fischer is mal oor bier; crunchy peanut butter melkskommels en Moulin Rouge. Sy verafsku bokse van enige aard en kan onregverdigheid nie verdra nie, veral wanneer dit kom by diskriminasie en onbedagsaamheid teenoor disabilities. Irene het ‘n diploma in Televisie- en Rolprentvervaardiging; ‘n graad in Joernalistiek en is tans ‘n voltydse skrywer wat droom dat haar bloed soos alphabet soup lyk.
Besoek Irene se webtuiste by www.irenefischer.co.za.
0 comments on ““Hoe Lyk Jóú Afrikaans?” deur Irene Fischer”