Allerliefste, ek stuur vir jou
’n please call me
want niemand sal ’n student wat broke is
blameer nie
my ma het selfmoord try pleeg
en ’n houer pille geword
nou maak die nikotien nie die duiwels stil nie
en wyn bring nie waarheid nader nie
en as jy bel stuur tog jou hande
en as jy kom bring tog jou hitte
nie jou mond nie
ek weet jou mond word stom oor goed wat breek is
bring jou arm en ’n been
jou bene dra my as my oë glas is
bel tog
kom tog
ek weet nie
ek weet nie
of sy orrait gaan wees nie
ooit weer godin sal wees nie
ek is bang.
ek is bang sy dood
ek is bang sy lewe en sy’s dood
bel tog
kom tog
ek het nie airtime nie.
KREDIET: www.avbobpoetry.co.za Meer oor Lynthia Julius. Afrikaans.com
0 comments on ““Vir Al Jarreau” deur Lynthia Julius”