Dit is byna twee jaar ná die geboorte van my dogtertjie en vir die eerste keer in byna 24 maande het ek weer die dryfkrag, energie en tyd om te skryf.
Wel, “tyd” is ’n groot woord vir die uur wat ek het voor my monstertjie ontwaak, but here goes…
In die vroeë dae van moederskap was daar baie tye wat ek teen elf-uur die oggend moes kies of ek my tande wou borsel of wou piepie, want nie een van daai “bederfies” was meer vanselfsprekend tussendeur al die bottels steriliseer, winde uitvryf, doeke ruil, selfbejammering en besef dat my lewe soos wat ek dit geken het vir ewig verby is nie.
Namate my dogtertjie ouer geword het, het ek meer tyd gekry vir eksotiese en opwindende aktiwiteite soos om ‘n koppie tee te drink of om my hare te was, maar my “Mombie” toestand (die wetenskaplike term vir iets tussen ‘n “Mom” en ‘n “Zombie”) het eers onlangs begin verbeter.
Een van die beste quotes wat ek al ooit oor moederskap gelees het is: “Becoming a mother is like winning the lotto, but also losing your arm.”
Ja, ek is ongelooflik gelukkig dat ek die lotto gewen het en nee, ek verruil dit obviously vir niks, maar hel, soms mis ek my arm – my arm was cool!
Die bogenoemde quote het onmiddellik met my geresoneer – ek gebruik ook deesdae anglisismes soos “resoneer”, want ek is eenvoudig te uitgeput om aan die regte woord te dink.
Hier is nog ’n paar gewaardwordings:
Die bevalling is nie die einde nie – dis maar net die begin!
Ek gun elke vrou haar geboorteplan en as dit uitwerk soos wat jy gehoop het dan is dit wonderlik, maar ek persoonlik het heeltemal te veel waarde aan die geboorte geheg, sonder om regtig die impak van wat sou volg, te oorweeg.
Ek was vasbeslote om natuurlik te kraam, ek het elke boek op die rak oor natuurlike geboorte gelees, voorgeboorteklasse bygewoon, ‘n doula gehad en selfs yoga gedoen om my spiere “voor te berei” op natuurlike geboorte, maar op die ou einde — ná 15 ure van die mees intense hel wat ek al ooit beleef het — moes ek in elk geval ‘n noodkeiser kry.
Die gevolg was gevoelens van teleurstelling en mislukking wat ek nog nooit werklik kon verwerk nie bloot omdat ek nie tyd het om aan enigiets te dink (never mind te verwerk!) vandat ek ’n ma geword het nie.
My raad aan voornemende ma’s is dus om nie te veel vooropgestelde idees te hê oor die “perfekte geboorte” nie. Die meeste geboortes is in elk geval ‘n horror movie met ‘n happy ending. Die enigste belangrike uitkoms is ’n gesonde ma met ‘n gesonde baba.
En dan eers begin jou walk in the Park – Jurassic Park.
Borsvoeding is nie vir almal ewe maklik nie
Behalwe om vir my unabridged geboortesertifikaat by Binnelandse Sake aansoek te doen, was borsvoeding die moeilikste ding wat ek nog ooit moes aanpak.
My ma (wat my broer geborsvoed het tot hy amper drie jaar oud was) is lief daarvoor om te sê “borsvoeding is die natuurlikste ding op aarde!”, maar vir my was dit die seerste ding op aarde.
Toe ek uiteindelik die latch uitgesorteer het nadat ek miljoene aan borsvoedingkonsultante spandeer het en amper 12 keer Mastitis gekry het, het my baba toe besluit sy verkies in elk geval die bottel.
Omdat ek sterk gevoel het oor die voordele van borsmelk het ek vir die volgende agt maande dag en nag soos ’n besetene melk uitgepomp. Dit was natuurlik baie goed vir my baba en ek is bly ek het volhard, maar dit het my amper geknak en ek en my man het amper geskei nog voor ons getroud is.
’n Paar weke voor ons troue het ek uiteindelik besluit om die pomp weg te pak (ek het sterk ooweeg om dit te verbrand, maar die herverkoopwaarde was te goed). Ek dink daai dag was een van die gelukkigste dae van my hele lewe!
Ek wil vroue beslis nie ontmoedig om te borsvoed nie – ek wens ek kon dit vir langer doen! En as jy nie kan borsvoed nie is om melk uit te pomp ’n goeie alternatief.
Maar as dit jou vreugde steel en jou meer hormonaal onstabiel en histeries maak as wat jy reeds is, of as jy álles probeer het en steeds nie genoeg melk het nie is daar altyd die gewraakte f-woord-formule!
Elke ma fight haar eie battles
Ek is gelukkig dat my dogtertjie redelik goed slaap (maar omdat ek dit nou gesê het gaan dit sekerlik verander), maar haar eetgewoontes laat veel te wense. Dis nie dat sy sleg eet nie, sy eet in fact ALLES… behalwe kos!
Dit het begin by grond, haarrekkies en yskasmagnete en sy probeer gereeld om die kat te eet, maar van gewone, outydse kos wil sy niks weet nie. Ek het gedink die borsvoeding scenario maak my mal, maar niks breek my siel meer as wanneer etenstye aanbreek nie.
Ek het al alles probeer, die mees asemrowende disse opgetower, haar kos in gesiggie-vorms gerangskik sodat dit meer aanloklik moet lyk en haar gunstelingliedjies gesing terwyl my “hier kom die treintjie”- bewegings al hoe meer aggressief word, maar al wat sy doen is om my wondermaaltyd een kyk te gee, die bordjie hoog in die lug op te tel en aan te kondig “ek gooi” en dan gooi sy.
Uit pure desperaatheid het ek nou die dag vir haar ‘n olyf gegee wat sy bo alle verwagting nie gegooi het nie, maar geeët het. Nou leef sy maar van olywe, melk en ’n paar ander uitgesoekte maaltye.
Behalwe om die kos fisiek in haar keel af te dwing, of haar aan ‘n drup te koppel het ek geen ander keuse as om dit te aanvaar nie. Solank sy gesond is en op die chart bly is die enigste goed wat ek kan doen, om haar te laat begaan deur al haar leftovers self op te eet.
So fight elke ma maar haar eie battle en ek kan jou waarborg sy het al alles gedoen om die probleem wat sy ervaar te probeer oplos.
Probeer om nie ’n “Captain Obvious” te wees en vir haar die raad te gee wat sy waarskynlik al honderd keer gehoor en probeer het nie.
Bied ‘n simpatieke oor en vertel haar van die stryd wat jy met jou eie kind voer – dit laat my altyd beter voel as ek hoor ek is nie die enigste een wat suffer nie!
Maandae is nie meer so terrible soos wat dit altyd was nie
Ek het Maandae altyd verafsku, maar nou is daar tye wat dit nie vinnig genoeg kan aanbreek nie. Veral ná ’n laaaaaaaaaang naweek.
Ek moet myself soms keer om nie te begin praise and worship nadat ek my dogtertjie op ’n Maandag-oggend by die skool afgelaai het nie.
My kar spin sommer soos wat ek wegjaag uit die parkeerarea en ’n triomfantlike stofwolk agterlaat.
Uiteindelik het ek “vrye tyd”. O nee wag, dis Maandag – die begin van my werksweek! Maar darem kan ek vandag koffie drink en middagete eet.
Teen so 10-uur die oggend begin ek my kind so mis dat ek wonder of ek haar nie maar moet gaan oplaai nie.
Dis nou maar eenmaal “the mother’s curse” – jy voel altyd skuldig oor iets!
‘n Mens bond nie noodwendig dadelik met jou kind nie
Hierdie een is seker die moeilikste vir ‘n ma om te aanvaar en aan haarself te erken.
Omdat ek op sterk antibiotika was ná my keiser as gevolg van ‘n bakteriële infeksie, was ek heeltemal out of it en het ons dogtertjie vir die eerste aand op haar pa se bors geslaap.
Ek het daai golden hours misgeloop omdat ek hoog op drugs was.
In die maande daarná het ek my lewe weggepomp (nie daai soort pomp nie!) om te sorg dat my baba slegs borsmelk drink en dit het ook die gevolg gehad dat daar spesiale oomblikke was wat ek nie ervaar het soos wat ek graag sou wou nie.
Ek was die dikwels angstig en histeries oor die feit dat my baba geweier het om te borsvoed en omdat ek ook nog besig was om ’n troue te reel en ons uit die Kaap na Pretoria toe moes verhuis, voel daai eerste paar maande vandag vir my soos ‘n totale blur.
Die baba-stadium was vir my uiters uitdagend, maar dinge hét beter geword (mense jok nie wanneer hulle dit sê nie) en vandag het ek ‘n hegte band met my kind (hierdie band is egter minder heg tydens etenstye).
Ek is steeds doodmoeg – ek was beslis nie een van daai ma’s wat “geslaap het wanneer my baba slaap nie”, want wanneer moes ek dan skottelgoed was? Terwyl die baba skottelgoed was?
Soos meeste ander ma’s is my lewe nie eenvoudig nie. Ek sukkel om vrae soos “So, hoe is dit om ‘n ma te wees?” in minder as 1 500 woorde op te som (soos in hierdie rubriek gedemonstreer word).
Daar is goeie dae en slegte dae. Daar is dae wat ek nie kan wag om my kind by die skool te gaan haal nie en daar is dae wat ek eerder Hatfield Square toe wil ry (en nou bestaan dit nie eens meer nie!) net om vinnig weer soos ‘n student te voel.
My hartsbegeerte is om net vir één dag in my lewe nie enige verantwoordelikhede te hê nie, maar ek voel terselfdetyd sterker daaroor om elke keer daar te wees wanneer my dogtertjie in die oggend, of ná haar middagslapie wakker word en met ’n groot glimlag op haar gesiggie sê “Hajou Mamma”.
Moederskap is verantwoordelik vir die beste én die moeilikste emosies wat ek al ooit beleef het.
Maar daar is een ding wat soos ‘n paal bo water uitstaan – ek is van dag een af hartbreeklief vir my dogtertjie.
Ek was nog net te moeg om dit te besef.
Tanya van Buuren Botma het altyd gedink ’n dubbelloop-van is aanstellerig. Sy hou van kla en drink graag wyn. Haar drome is om op ’n Griekse eiland te woon, elke rondloperkat in die wêreld te ontmoet en om vir een nag heeltemal deur te slaap.
Tanya woon in Centurion saam met haar man, dogtertjie en kat. Sy het ’n graad in Joernalistiek, maar haar grootste prestasie is haar tweejarige dogtertjie. Jy kan haar persoonlike blog, Tanya se Tantrums, op Facebook volg of besoek haar webtuiste tanyasetantrums.co.za.
0 comments on ““Moederskap: die goed, die sleg, die waarheid” deur Tanya van Buuren Botma”