Afrikaans Rubrieke

“Droogte” deur Elsabe Pepler

D-r-o-o-g.

D-r-o-o-g-t-e.

Die twee ronde vokale o’s lyk en klink sommer so hol, asof jy daar kan deurval. Die [-r-] wat ons Afrikaanses so deeglik voor op ons tonge teen ons verhemelte vasbry. Die uitgerekte [-oo-]. Die [-g-] wat so kras agter in ons kele gor, soos ‘n kraan sonder water.

Die woord is kras op die tong, saam met die growwe konsonante. Jy voel die droog sommer so in jou mond. Dis nie ‘n mooi woord nie. Dis ‘n bangmaakwoord. Niemand en niks wil tog droog wees nie. (Behalwe miskien ‘n standup-comedian, of gin.)

As mens lank na ‘n sekere woord kyk en dit oor en oor vir jouself sê, dan begin jy wonder of dit regtig ‘n woord is. Hulle noem dit Jamais Vu. Die woord begin snaaks lyk as mens bly kyk daarna. Miskien is “droogte” ook nie ‘n rêrige woord nie, het ek begin hoop.

Ons weet almal lankal dat Afrika nie vir sissies is nie. Hier bly wildewragtagmense met energie en drif.

Teen die einde van 2017 het benoudheid net so effens met sy vingers oor mens se keel gestreel. Dit was lank nog nie volskaalse vrees nie, maar die media het ons Kapenaars om elke draai herinner dat ons ‘n probleem het. Ons kon dit sien in ons tuine en strate.

Vir my, wat in die hartjie van die Vrystaat grootgeword het, is waterbeperkings nie vreemd nie. Ek onthou hoe my ouers na een so ‘n uitgerekte somerdroogte met groot geesdrif ‘n minder aanvallige rotstuin met vetplante en kaktusse – wat nou baie hip is – beplan het. My ma was ‘n kind van Groot Depressie-ouers. Alles was toe skaars: geld, besittings, hoop, klere, kos, en werk. En water, veral water.

Ek het eendag met my naamgenoot-ouma gesels, wat net ‘n paar maande duskant 100 oorlede is. Sy was ‘n flegmatiese, bedaarde mens. As sy nie gebrei of gehekel het nie, het sy rustig met haar be-aarde hande op haar skoot gesit. Ek wou weet wat was vir haar die ergste ding wat ooit met haar gebeur het. Sy was immers op Heuningspruit naby Parys in die Vrystaat in 1910 gebore. Sy het in die nagevolge van die Boere-oorlog in die wêreld gekom. Sy het die Tweede Wêreldoorlog en die gevolge direk ervaar. Sy het twee eggenote oorleef, ‘n outo-immuniteitsiekte sonder naam gehad (wat sy my ook mee begunstig het, dankie Ouma; vir Ulseratiewe Kolitis) en nooit een dag formeel gewerk nie. Sy het haar geld uit eiers en hoendertjies gemaak.

Toe ek vra, het sy nie gehuiwer nie, maar net sag gemompel terwyl sy op haar hande afkyk: “Die Droogte van ‘33”. Haar voorarmhare het regop geril, en sy het vertel hoe die dierekarkasse oral gelê het van dors en honger. Sy het ironies bygevoeg: “Ek het twee rokkies gehad. As ek een die een dag gedra het, het die ander een na die was so alleen in die hangkas gewapper.”

Ek dink dat daardie generasie iets soos ‘n neurose oor water en skaarsheid geneties oorgeplant het in die DNA van die volgende geslagte. My ma het ‘n neurose oor droogte en water gehad wat ons nie ‘n oomblik vrede gegun het nie. Sy het ‘n renons gehad aan mors van enige aard. As ons meer as drie duim water in die bad waag tap het, het my ma kwaai gewaarsku. “Draai toé daai kraan, NOU!” In die wasbak was ‘n bakkie water waarin ons hande moes afspoel – geen oopdraaiery van krane vir handewas is toegelaat nie. Ons sou nooit ‘n swembad kry nie – wel ‘n boorgat. Sy en my pa het gestoei vir beheer van die tuinslang. (En dan het hulle oor die ander een se tuingewoontes by my geskinder.)

Toe kom die somer van 2017 in die Kaap. Ons leef nou in tye waar El Niňo en La Niňa in detail bestudeer en voorspel word. Daar word nou alreeds ‘n jaar vooruit alarm gemaak of dit droog of nat gaan wees. Dis nie goed vir mens se senuwees nie.

Ons is gereeld herinner: hoor hier, die damme is aan die leë kant. Waterbeperkings is ingestel. Ons was optimisties; aag, dit reën mos altyd weer. En buitendien: kyk hoeveel water is daar in ons see. Miljoene liters, al is dit sout. Ons sal wel ‘n plan maak.

Maar die ding was ernstig. Die openbare swembaddens het toegemaak. Niemand mag meer hul motors was nie. (Dit was ‘n seer hou vir sommige motors in Bishops Court en Constantia). Waterbeperkings het vanaf Vlak 1 al hoër beweeg. Ons het toe nooit vermoed dat ‘n Vlak-7 bestaan nie.

Toe hoor ons die eerste keer die term. Die effe histeriese nuusmedia het ons in kennis gestel dat 17 Januarie 2018 nou Dag Zero is.

Die Kapenaars het nog altyd maklik water met wyn vervang. Ons het vinniger gestort. Ons het motors net afgestof. Tuine was dor, lelik, droog. Ons is hoflik gevra om nie meer altyd te flush nie.

Ons het naelskraap deur Januarie geskuur en Dag Zero het aangeskuif na 7 Maart 2018. Ek het ‘n jong chirurg vir ‘n klein prosedure gaan sien. Haar swanger maag was opvallend. Sy het haar donker oë opgeslaan en in myne gekyk, en gesê: “Dis twee seuntjies, en hulle arriveer op 11 Maart. Wat gaan ek doén as ons in rye moet gaan staan waar elke persoon net 25 liter per dag in ‘n emmer kry – net vir jouself? Ek het geen antwoord gehad nie.

Fotos van die werklike Dag Zero-waterpunte het begin versprei. Ek was oorweldig deur emosie. Ek wou huil. Die enigste ding wat my gered het, was dat die ander ook so gevoel het. Dit het dan konsentrasiekamp-agtig gelyk! Dag Zero was die inleiding tot elke gesprek. Dit het eintlik passé geraak. Die werklikheid het stadig tot my dogter, kind van Generasievolop, deurgedring. Sy het terstond in ‘n depressiewe episode verval.

elsabe foto 2

Maar in hierdie droë tyd sonder water het die Kapenaars leer planne maak. Dag Zero het elke maand bietjie aangeskuif, maar eintlik het dit net die angs wat sy hande om ons damme en kele gehad het, vererger. Sommige het gesê: dit moet nou maar gebeur; ons kan nie langer so angstig bly lewe nie. Ander het gevra: Is julle mal? Wil julle elke dag in modderrye gaan staan met ‘n 25-liter emmer? Ons grasperke het sandputte geword. Wet-wipes en Jojo-tenks was uit voorraad.

Ek en my dogterskind het een Saterdag, 22:00 in die nag, in lang rye by Nuweland se Springs gaan staan, grappies gemaak, en hoflik teenoor ander opgetree. Net 25-liter vir elkeen, het die polisieman – nogal ‘n kaptein met sterre op sy skouers! – by die krane gewaarsku. Ons lang gang het vyf-liter waterbottels al teen die kant af gestoor. Ek was so bevange soos ‘n smokkelende water trafficker en druglord.

Alle huishoudings was onderwerp aan water-roetine. Badwater word wasmasjienwater. Wasmasjienwater word toiletwater. Spoelwater word plantewater. Kombuiswasbakke het kleiner bakke in. Groot bottels gifbesproeiers, vertel Facebook se uitvinders, is ‘n gawe stort. Emmers is rondgedra. My skouers het van spierpyn geskree.

En my dors het nooit minder geword nie. Soos wat die waterprobleem groter geword het, het ek al dorser geword. Ek het gedink aan die vreeslikheid om van dors dood te gaan, en dan het ek nog ‘n glas water van Woolies of whoever afgesluk. Vooruit.

Die aalwyne was pikswart verbrand. Ek was verlam van angs en hartseer. My mooiste Kaap waar ek so graag wou woon, het my verraai. Ek kon eenvoudig nie meer die nuus kyk nie; dit was te droewig en ontstellend. Ons was moerig vir die regering – het hulle dit dan nie sien kom nie? Verwyte is geslinger, waarskuwings het weergalm, bedruktheid het elke gesprek oorheers. Die droogte het saam gaan slaap en saam opgestaan.

Maar dit is nou só: Suid-Afrikaners is eintlik op hul beste as hulle in die moeilikheid is.

Elke moontlike appèl op samewerking is koorsig toegepas. Daar by die Newlands Springs het ek met my eie twee oë gesien hoe die kleinste kindertjies saam werk. Daar was eendag so ‘n poppige tweejarige met lietsjiepit-ogies en swart krulle. Sy het die kleinste pienk Crocs en pienk rokkie aangehad. En sy het verbete vasgetrap om langs haar mamma die bottels – amper groter as syself – vas te hou by die fontein wat genadiglik nog van die suiwerste water bo van Tafelberg af in bottels ingestroom het. Seuntjies het belangrik heen en weer geskarrel met bottels. En baie min mense het baklei. Niemand het ingedruk nie.

Soos altyd, was daar vuil opportuniste. Hulle het honderde vol bottels in Pick en Pay-trollies na bakkies toe gedra (onder die polisie se neuse, want die polisie het ‘n karavaankantoor daar gehad) en dit ten duurste loop verkoop in die townships waar mense sonder winkels lewe. Miskien ook maar goed so, want hoe sou hulle anders water kry? Maar om geld te maak uit een van ons mees basiese behoeftes het ook verkeerd gevoel.

Maart, April en Mei het gekom en gegaan sonder dat Dag Zero gebeur het. Die Kapenaars het alles ingesit om saam te werk. Die vrees het sy hande om ons kele effens verslap.

En in Junie, toe kom die reën. Mabalel se armbande het gerinkel. Dit het hard en sag en heeldag en heelnag en weke lank gereën. Die damme het water ingekry. En nog. En nog. Dit het selfs gesneeu.

En glo dit: die damme is tans gemiddeld 76% vol. Ek het dit nou net self gelees op News24.

Maar ek dink die watervrees sal vir altyd in die toekoms ‘n getroue metgesel wees, net soos die swart hond wat dikwels saamdraf met baie mense.

Die swart-verdroogde aalwyne het donkergroen geword en oranje vuurpylblomme uitgestoot. Was Dag Zero ‘n gogga-maak-vir-baba-bang? Ek weet nie; ek wil ook nie weet nie. Ek wil net nooit, nooit weer daardeur gaan nie.

Ek is opnuut vrekbang vir die somer se koms. Ek is banger vir Dag Zero as vir baie ander dinge. Maar ek weet ook: die Suid-Afrikaners van hierdie land kan hulle spiere saambult as dit moet en bottels water aandra dat dit loop. Veral in die Kaap.

Kaapstad

 


Elsabe Foto

Elsabe Pepler. Ma sonder ‘n kolon in haar lyf. Vrek oor woorde en sinne en nuus en die media. Tweedehandse boekwinkels en biblioteke is belangrik. Super supervisor van nagraadse studente in kommunikasie en ontwerp. My ouma het gesê: “Hierie kind sal nooit ‘n man kry nie; sy’s te parmantig”. Maar ek hou wel baie van honde. En Netflix is beter as … nou ja.

0 comments on ““Droogte” deur Elsabe Pepler

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: