Afrikaans Rubrieke

“Nostalgie, jou bliksem” deur Cathy de Lange

Ek kon nog nooit regtig agterkom of ek ‘n nostalgiese mens is, of nie. Ek meen, wat beteken dit nou eintlik? Ek is nie iemand wat goedjies van meelewe se dae opgaar of bêre nie. Hel, ek het nie eers baba boeke vir my kinders gedoen nie. Ek is net nie die tipe ma (of mens) wat tandjies wat gewissel het of eerste haarlokkies of goed hou nie. Nie dat daar iets daarmee verkeerd is as jy dit doen nie! Ek sê maar net – meeste van die tyd is ek nie daai mens nie.

Daar kom egter dae wat die nostalgie my bekruip soos ‘n dief in die nag.

Dae wat dit dalk stil is by die werk of so. Oukei die feit dat dit skoolvakansie is en daar omtrent geen karre op die pad is in die oggend oppad werk toe nie, help seker ook dat ek iets anders het om aan te dink as die ou voor my wat alweer nie weet hoe sy flikkerlig werk nie… Maar dis nie my punt nie. My punt is as my brein nie besig is nie, begin ek dink. O my magtag en kan ek vir jou dink! Sommer vêr terug.

Ek gaan haal vir jou goed uit my kinderdae en beleef dit asof dit gister gebeur het. Ek gaan terug na my skooldae en my vriendskappe, hoe ek my kêrel (nou my man ♥) ontmoet het, hoe ek matriek soveel beter sou kon deur kom as ek net bleddie meer geleer het. Ek besoek gereeld my koshuisdae – beste tye van my lewe! Ek dink terug aan my troue, en my Oupa wat toe nog geleef het. Ek sien nog hoe blink die ou vetjies om sy mond toe hy daai skaaptjoppie so lekker afgeëet. Hy kon ‘n beentjie so skoon eet dat dat enige hond in trane sou uitbars as hy daai kaal been moes kry vir ‘n bederfie!

Dis wanneer nostalgie ‘n bliksem is. Hy maak jou hartseer. Jy dink aan dinge wat verby is en mense wat nie meer hier is nie. Gevoelens wat jy nie meer koester nie. Altyd sleg is dit ook darem nie. Onvermydelik laat nostalgie my dink aan my kinders ook. Aan elkeen van hulle se geboorte. Die kleinste is nie so vêr terug nie, drie jaar wat voel soos gister. My oudste – dis ‘n ander storie. Amper 11 jaar and counting. Middel-kind is amper 8… WAT??? Hoe de hel het dit gebeur?

Jy sien, in my kop voel ek nog 20 jaar oud en is onder die verskriklike illusie dat ek nog 20 jaar oud lyk ook.

Vandaar die vreeslike verontwaardiging as van die studente op kampus my tannie noem. Wie’s jou tannie, boetie?? Wel…blykbaar ek. Ek is immers al meer as 10 jaar ouer as die knaap en as ‘n goed opgevoede boerseun sê hy mos dan maar tannie. Dêmmit.

Ek is alweer van die punt af. My kinders se geboorte. Ag hoe wonderlik was dit nie! Daai ou pappe, pienk lyfie wat mooi is van lelikheid wat hulle in jou arms lê. Die totale VREES van wat om met daai pappe pienk lyfie te doen. Die liefde wat in ‘n kwessie van ‘n paar uur jou hart so vol maak dat dit voel of jou liggaam nie die kapasiteit het om al daai liefde te hanteer nie. Die slapelose nagte. Die blues, o hel daai blues…dis ‘n hele ander blog op sy eie. Die ongelooflike gevoel as daai kleintjie in jou arms aan die slaap raak. Of daai eerste glimlaggie! YAY! Hier is ‘n mensie wat actually op my begin reageer as ek my naam poephol maak deur gesigte te trek of te dans en sing net ter wille daarvan om ‘n glimlaggie te kry!

Wat ek probeer sê is seker dat dit nie noodwendig so slegte ding is om nostalgies te raak so nou en dan nie. Dit laat mens dalk net weer bietjie stil staan en besef hoe vêr jy in die lewe gekom het. Hoeveel enorme blessings mens het om voor dankbaar te wees. Hoe die moeite werd ALLES was. Alles IS.

So, sekere dae laat ek myself dus toe om so bietjie aan die nostalgie te gaan karring. Soms is hy ‘n bliksem, maar soms is hy goed vir die siel. ♥


CathyCathy skryf oor dinge wat haar laat lag, rustig maak, bekommer, laat wonder en sommer net haar hart verheug of hartseer maak. Sy is ‘n voltydse werkende mamma van drie, en haar passie lê by vroue en mammas. Om hulle weer lief te maak vir hulself en hul selfwaarde te laat besef. Om die mooi en spesiaal van vrouwees weer na vore te bring. En om vroue en ma’s te laat besef dis soms oukei om nié oukei te wees nie. Jy kan énige iets doen, maar jy kan nie álles doen nie! Nadat ‘n vlog oor haar “mamma-lyf” viral gegaan het, het sy ’n Facebook-blad begin, VrouFees.  Dis nou al ‘n gemeenskap van meer as 11 000 mense wat saam kuier. Cathy tree gereeld op as gasspreker by funksies regoor die land. Sy is verslaaf aan pienk, en vrek oor haar man en kinders. Sy kan nie verby ‘n mooi paar oorbelle loop nie en haar man dink sy het te veel skoene. (Hy is reg).

Besoek en gaan “like” gerus Cathy se Facebook page, VrouFees. As jy graag haar vlog wat viral gegaan het wil sien, kliek hier.

2 comments on ““Nostalgie, jou bliksem” deur Cathy de Lange

  1. Pingback: “Nostalgie, jou bliksem” deur Cathy de Lange — – Hasie Fantasties

  2. Lekker gelees, ek hoor jou

    Like

Leave a comment