Sou daar ooit so program op TV verskyn, kan ek julle nou al wed dat die advertensie waarin Noeleen Maholwana-Sangqu die hele tyd met die vervaardigers van Ariel waspoeier kastige “onderhoude” voer, heel moontlik die mees opwindendste deel van die program sou wees.
Ons is vervelige mense. Om mure te verf en dan te sit en kyk hoe dit droog word, is meer opwindend as ons Boshoffs.
Soms sit ons op die voorstoep, elkeen met ‘n selfoon in die hand, glas wyn in die ander, en niemand praat ‘n woord met mekaar nie. Pa sal opstaan om die glase vol te maak. Ek sal die hond skel omdat hy onder my stoel lê en poep. En Ma sal die tuin bekyk en lysies goed uitdink wat aan die tuin gedoen moet word.
“Die gras moet gesny word, of die kante moet gedoen word of die swembad pomp se filter moet skoongemaak word…”
Lysies en lysies van goed wat sy nie hoef te doen nie, maar wat sy ook nie oor gaan ophou kla voor dit nie gedoen is nie.
Pa sit dan maar sy foon en bekyk terwyl hy doof speel. Ek wonder wat is daar vir aandete. Die honde jaag die vlieë rondom hul sterte, en die katte wag vir ‘n voëltjie om te laag op te styg uit die voëlbad uit met die hoop om te sorg vir bietjie opwinding.
Môre-middag doen ons dit weer van voor af. Alhoewel, nou is die gras bes moontlik klaar gesny, maar die visdam moet nou weer skoon gemaak word. Of die kante is gesny, maar ‘n blom in die verste hoek van die tuin het ‘n gogga op wat Ma voel hoort nie daar nie. Haar lys hou NOOIT op nie.
Maar so nou en dan gesels ons oor ander goed. Pa het gewoonlik elke ongeluk wat in die omgewing die dag gebeur het, persoonlik gesien gebeur. Dan praat ons daaroor. Of hy het die dood net-net vrygespring toe ‘n brood van Checkers se rak byna op sy kop geval het en die hele winkel onder krummels gelaat is. Als altyd meer oordadig en dramaties as die opening van ons Parlement.
Maar soms raak Ma se lysies op en dan sal sy praat oor ‘n hoofpyn wat sy het. Pa het gewoonlik dan self ook ‘n hoofpyn wat so halfuur voor Ma s’n vanoggend al begin het.
As hulle die dag kliniek toe was en Ma se bloeddruk was weer die hoogte in (nie omdat sy siek is nie, maar oor sy haar so vererg vir die incompetency van die staatsinstansies en hoe hulle dinge doen) dan was Pa se bloeddruk net so titseltjie hoër as Ma s’n.
As Ma ‘n lae rugpyn het, het Pa ‘n hoë rugpyn. As Ma ‘n toon het wat seer is, het Pa ‘n been wat seer is. Altyd erger, altyd groter, altyd seerder.
So rukkie terug staan Ma weer op van haar stoep-sit af om ‘n hoofpyn pil te gaan drink.
“Die hoofpyn is nou al van vanoggend vroeg af besig om te ontwikkel…” praat sy so in die verbystap.
“Ek het net so erg hoofpyn van drie uur vanoggend af…” lê Pa weer sy eiertjie.
Ma raak onmiddelik rooi in die gesig en ek kan sommer sien die bloeddruk druk alweer vir ‘n rekord getal. “Kan ‘n mens nie eens ALLEEN ‘n donnerse hoofpyn in die hierdie huis kry nie?” spoeg sy die woorde uit.
Pa bly toe maar stil en besluit om sy hoofpyn te verwerk sonder ‘n pilletjie terwyl Ma haar pilletjie gaan soek.
So paar dae later staan ons in die kombuis toe Ma weer kla oor ‘n pyn in die been.
“Ek sukkel ook al van gister af met die pyn in my been,” kom dit weer van Pa terwyl hy oor sy been vryf en druk asof hy ‘n pyn soek om vanself daar uit te spring.
Ma rol haar oë na die plafon toe, waar sy nog nooit hulp vandaan gekry het nie, maar sy soek dit deesdae nogal gereeld daar.
En dis toe dat ek besluit om maar te kyk hoe ver ek die pyne kan laat her-produseer.
“So Ma, hoe gaan dit deesdae met daai yeast infection wat ma so baie kry?”
Nie dat ek weet wat dit is of selfs dat ma dit al ooit gehad het nie (ek sal nie weet nie, hulle kla gewoonlik net oor pyne en skete bo die broek se rek en onder die broek se pype. Niks tussen-in nie). Ek sien Ma kyk my aan met ‘n gesig wat in ‘n vraagteken verander, terwyl Pa bloedrooi in die gesig raak en wegstap tuin se kant toe.
Dis nou al maande later, en lyk darem nou of Ma dit uiteindelik reggekry het om die enigste een te wees wat hoofpyn in die huis kry.
Kerneels droom daarvan om die land se paaie plat ry met sy kar of motorfiets (enigiets met wiele). Om fotos te neem van sy reise en eendag saam met sy stories in ‘n boek te plak. Wanneer hy egter nie drome droom nie, werk hy as ‘n sisteem-bestuurder vir ‘n flexo-grafiese maatskappy. Hy is oortuig daarvan dat hy die mees interessante werk op aarde het. Hy woon in Vereeniging, waar hy en ‘n vriend ook deeltyds met chilli’s boer wat hulself inlê en verkoop onder die handelsnaam, The Little Pickle Co.
Lekker het ek nou gelag want net sulke”pyne en skete”en dan die segoed tussendeur is dit alles behalwe vervelig!
LikeLike
Oulik!
LikeLike