Afrikaans Kortverhale

“Die Lift” deur Terry-Ann Adams Mathabathe

“Amper maak ek die mistake om te dink, jy like my. Kyk, ek is nie gister gebore nie en ek het oë in my kop. Jy maak my net dom Gerald en dis okay, I guess. Maar daar kom ‘n tyd wanneer ‘n man sy man moet staan, en jou tyd is nou.” Daai was die laaste woorde wat ek gehoor het voor sy ‘n groot gat in my kop geskiet het.

WAARSKUWING

Ek was maar altyd ‘n vuilgat. Daai sal ek admit. Ek gaan baie goeters admit maar, I mean is ons as mense rêrig eerlik met onseselfs? Ons gaan maar deur die lewe met al die leuens wat ons mekaar vertel, en al die leuens wat ons onsself vertel.

Ek was maar altyd ‘n vuilgat, al van kleins-af. Daai is my waarheid. Die waarheid weeg swaar op my kop in die lift. Ek het nie gedink dat daar ‘n lift is wat jou hemel toe vat nie.

Ek het net gedink jy vlieg op but God works in mysterious ways.

Daar is ‘n lift en ‘n bodyguard en ek, Gerald Willemse, en my gedagtes. Die bodyguard het my gesê dat dit ‘n lang tyd gaan vat om by die hemel uit te kom. Dit gee my baie tyd om te dink.

As ek terug dink moet ek begin by die begin. Ons was nooit rêrig arm nie. My pa was ‘n pastoor en my ma was ‘n supervisor by die fabriek. Ek was ‘n cheeseboy as ek nou mooi moet dink. Dit was altyd my ball wat die laaities mee gespeel het, altyd my karretjies en TV games.

Ek het mos klaar gesê ek was altyd ‘n vuilgat. As jy die laaitie is met al die toys dan is dit maklik om gatlike maniere te kry. Plus, my ma het my nie eintlik ge-discipline nie, as ek nou mooi moet dink.

“Gerald kom weg daar, wat het jy nou weer gedoen?” “Nee mammie, eish dis ‘n baie lang storie. Daai man het gesê ons kan daai peskies pluk maar toe ons gaan om te pluk, toe draai hy om en sê hy het nooit so gesê nie, en nou kom skree hy hier en hy sê nie vir mammie die hele storie nie.”

Ons het perskes gaan pluk by Oom Bokka se jaart. Oom Bokka was ‘n dom oompie. Hy het ge-like van skree in die straat. Daai was reeds hoekom ons hom wou bly opsoek. Daai oompie was lig van kleur, so as hy kwaad word dan word sy wange rooi-rooi.

Jissus, ek mis nogal vir Bokka, hy het gemaak dat ons elke dag lag. Jare later het ek en Jonnas vir Bokka geskiet. Maar ek wil nie nou daaroor dink nie. Bokka was ‘n kwaai oompie.

Die bodyguard maak my bang.

Ek het hom gevra of hy ‘n engel is, toe sê hy nee. Ek het hom gevra waar gaan ons en toe sê hy, nee. Die man sê net nee, maar dis all right.

My eerste girlfriend was die meisie wat langsaan ons gebly het. Antonique was haar naam of Nicki soos almal haar genoem het. Nicki was kak lekker gebou, gebou om te hou het ons altyd gesê.

“Nicki hoekom wil jy nie saam met my park toe gaan nie?” Sy wou nooit saam met my park toe gegaan het nie. Nicki wou net uit eet. Daai was die probleem.

“Gerald, kom ons gaan shop toe dan koop jy vir ons bunnies, as jy vir ons bunnies koop dan kan jy my titties hou vanaand as ons vang.”

Hoe kon ek nee sê vir titties, huh? Watse man ken jy wat sou nee sê? Ons het goeie tye gehad, ek en Nicki, maar toe word sy pregnant. Almal het gedink dit was my kind maar ons was nie weer saam nie. Ons was al vir ses maande uit. Dit was Dougie se kind en hy het seep gaan koop. Ek moes vir Dougie uit die game uitgehaal het. I mean, Nicki het nie daai verdien nie.

Die lift het gaan staan. Is ons al hier of wat? Nee, die damn ding is stuck. Hoe kan ‘n lift wat hemel toe gaan, stuck, huh? Jissus nee man!

“Ek sê my bru, wat gaan hierso aan? Is die rêrig die lift wat hemel toe gaan?” “Jammer Gerald, die gebeur altyd my bru. Wat het jou laat dink dat ‘n hemel-lift anders sal wees? Dis ook maar net ‘n lift.”

Die bodyguard speel seker met my, I’m sure. “Nee man, my bru kan jy nie die mense, engele, whatever julle daarbo is bel nie man? Ons is al klaar vir twee ure in die ding en nou stuck dit nog.”

Eish, sorry bra, dis seker loadshedding. Daai is meeste van die tyd die rede hoekom die lift stuck.”

Gaan ek hemel toe of hel toe? I mean really now…

Brumelda is my enigste suster. Melda is my pa se kind en ek is my ma se kind. Ek en Melde het altyd kak aangevang toe ons klein was. Sy was slim, ek kan nie describe hoe slim daai kind was nie.

My pa het altyd gesê “Brumelda, jy is te slim vir die rubbish wat jy en Gerald aanvang. Ek verwag die rubbish van Gerald want hy is ‘n domkop wat nêrens in lewe gaan kom nie, maar jy Melkie, jy is te slim vir die gat-vattery.”

Daai ou man was lief vir sy kind. Ek was nie my pa se kind nie. I mean, ek was my pa se kind maar hy het my glad nie ge-like nie. Hy het altyd gesê “Gerald, ek het jou lief maar jy is jou ma se kind.” Die tyma het nooit gevloek nie.

Hy was ‘n pastoor maar as ek hom kwaad gemaak het was dit “Nee Gerald! Hoe de fok kon jy gaan steel, huh? Nou is ek die pa van ’n dief en ‘n gangster. Fok jou Gerald, jy is nie my kind nie!”

Toe Melde sterwe, toe blame hy my. Hoe kon ek geweet het daai manne gaan vir Melde skiet. Hulle was kwaad vir my. Daai ouens was net aspris man, en ek het hulle teruggekry. My pa het nooit weer met my gepraat nie.

As ek nou mooi dink, ek het al twee weke gelede geweet my dae op die aarde is min.

“My bru, die mense hierbo sê die lift gaan oor so uur weer werk.” Die man speel seker met my. Hoe kan die Here so unorganized is? Die lift is stukkend, en ek is al langer as ‘n dag in die bleddie lift en ‘n man word honger ook.

“Ek sê boss, is daar kos hier in die lift, huh? Ek is honger man.”

The way you live, is the way you die. Daai is die woorde op die deur van die stupid lift. Dit lyk amper soos ‘n toilet-deur. Daar’s klomp kak “Eve was here”, “Poese to the left” Gaan die lift rêrig hemel toe?

Die oggend van die laaste dag van my lewe was ek baie haastig. Ek wou net uit die huis uit padvat voor my pa wakker word. My kind se ma het my kom sê van haar broer wat gesteek is. Ons sou oormôre die naaiers gaan skiet, minwetend dat my laaste meal gisteraand se rys en mince was.

Ek en Oom Bokka se kind was besig. Ek het haar ge-like jy sien, maar haar pa was vol kak. Hy wou nie hê sy kind moet met ‘n boys van die straat jol nie. Daai is hoekom ek hom uit die game moes haal. Die teef het my nog ge-invite vir lunch by hulle huis. Next thing I knew, is ek in ‘n stukkende lift oppad na ‘n stukkende hemel toe.

Ons is finally hier. My voete is al lam gestaan.

“My bru, dis tyd om jou maker te ontmoet.”

Dis wat die vuilgat bodyguard vir my sê.

Wag, wat soek Bokka, Melda en Dougie hierso? “Ek sê my bru, bodyguard, bra wat gaan hierso aan?”


Terry foto

Terry-Ann Adams Mathabathe is ‘n retired Jedi Knight wat haar dae deurbring saam met haar dreadlock eggenoot, Dumisa. Sy skryf oor Eldorado Park en haar mense. Sy glo Afrikaans vloei soos ‘n rivier deur die are van haar mense.

Terry het ‘n Honneursgraad in Geskiedenis en bly ‘n Tukkie tot die dood. Sy spandeer agt ure van haar weeksdae (en sommer naweke ook) as ‘n Digital Content Producer vir Live Magazine waar sy ander help skryf (in Engels).

“Ek is die produk van ‘n tiener-ma en ‘n seepkoop pa, ‘n feminis, ‘n disability rights activist en ‘n serial vloeker (is dit ‘n woord). Ek skryf oor dwelms, seks, moord en alles wat mense ongemaklik laat voel…”

 

2 comments on ““Die Lift” deur Terry-Ann Adams Mathabathe

  1. Hierdie is seriously goed! Kan nie wag vir nog

    Like

  2. Terry-Ann Adams Mathabathe

    Reblogged this on Die Legend van Ek en my Mense and commented:
    This is a short story that I wrote for Afrikaans Literary Magazine, Ons Skryf Afrikaans.

    Like

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: