Afrikaans Rubrieke

ʼn Kuur vir Ophidiophobia

ʼn Fobie vir slange word Ophidiophobia of Ophiophobia genoem. ʼn Fobie word deur die “slimmes” beskryf as ʼn intense, irrasionele vrees vir ʼn objek of situasie. Ek beskryf dit as “trek jou tekkies aan en hardloop so vinnig as wat jy kan weg.”

In 2016 was my seun Tristan (of soos ek hom noem – Tris) in matriek. Na baie mooi-praat en nadat hy ʼn baie goeie rapport huis toe gebring het, het ek ingestem om vir hom ‘n Sneeu Albino Koringslang (Snow Albino Cornsnake) te kry.

Die slang se naam is Orochimaru, wat “groot slang” in Japanees beteken.

Die naam is heel gepas vir die witgeel, deurskynende slang met rooi ogies. Boonop het hy ʼn dun kronkelstertjie soos ʼn muis. Orochimaru is net ʼn meter lank want hy is nog ʼn jong slangetjie, en jong slangetjies se sterte is dunnerig.

Hy maak ook ratel-geluide wanneer hy kwaad is, sodat almal wat sy pad kruis, kan dink hy is die gevaarlike nefie (ratelslang), wat hy nie werklik is nie. Hy bly in Tris se kamer en ek kom nie naby die die reptiel nie.

Een Vrydagoggend voor skool haal Tris vir Orochimaru uit sy terrarium en die slang seil tot in sy skoolbaadjie se binnesak. Tris was ingedagte en vergeet om die slang terug te sit. En so slaap die slang te heerlik in sy baadjiesak.

Ek, Tris en my dogtertjies klim in die motor en ry skool toe. Tris, die slang, en sy twee sussies is oppad na Eunice toe en ek stap aandagtig saam met hulle. Tris groet die skoolkinders, ouers en onderwysers vriendelik, terwyl niemand besef dat ʼn meterlange witgeel slang in sy baadjiesak skuil nie.

Terug in die kar leuen Tris oor om my te groet, sodat hy kan skool toe gaan. Met ʼn sierlike witgeel boog seil die slang uit sy baadjie se binnesak, reg in my gesig in. Ek skreeu, maar geen geluid kom uit nie. Tot vandag toe weet ek nie wie die meeste geskrik het nie, ek, die slang of Tris.

Ma, ek’s laat, ek skryf toets, vat asseblief vir Orochimaru huis toe.smeek Tris. “Sit net die slang terug in sy hok en sit die deksel op asseblief Ma, als sal fine wees. Hy is baie mak en vriendelik.”

Hoe kan mens nou nee sê as hy so mooi vra, dink ek. Ek word wit, rooi en begin sweet. My ore maak suisgeluide. En voordat ek kan dink wat ek sê, blaker ek uit:

“Sit hom in my handsak”.

Wat ʼn ma nie als vir haar kinders sal doen nie. My moed sak in my skoene — ek berou my woorde…

“Tris, ek het nog nooit in my lewe aan ʼn slang gevat nie en daar was nog nooit ʼn slang in my handsak nie.

“Ma kán dit doen” sê hy. Wie is ek om te stry…

Nog nooit het ʼn reis so lank gevoel nie, nie eers die pad Margate toe met ʼn hiperaktiewe tweejarige het al so lank gevoel nie. By ʼn robot kyk ek vir die mense wat langs my stop. Een van hulle is ʼn vrou wat my ken en sy waai vriendelik vir my.

“Weet julle dat ek ʼn slang in my handsak het?”, wil ek hulle toesnou, maar ek rep nie ʼn woord nie. Terug by die huis sluit ek die kamer oop waar die slang ‘woon’, maak my handsak versigtig oop en sug: “Jippie, my beproewing is amper verby, die slang gaan nou hok toe.”

Helaas, die slang is skoonveld. Ek pak my hele handsak uit, my beursie, selfoon, pille, brille, briewe, ID-boekie, koeverte, lipstif, en maskara maar kry nie die slang nie. Ek raak angstig, paniekbevange. Dit voel asof die wêreld rondom my begin draai.

Waar is die slang? Is hy iewers in my kar? Het hy ontsnap en in my kar se enjin gaan skuil? Of nog erger, het die slang uitgeseil uit die motor by die skool? Gaan Eunice en Grey vandag in die nuus wees?

“Slang maak amok by skole!” sien ek al die koerantopskrifte voor my.

Ek bespied die slang heel onder in my handsak, verskuil en in ʼn bondeltjie opgekrul. Hy weier om uit die handsak te kom! Wat gaan ek nou doen? Ek probeer hom in sy hok skud, maar niks wil gebeur nie.

“Kom nou asseblief uit, groot asseblief, gaan in jou hok in slang”, smeek ek hom.

Watter soort fluit gebruik ‘n slangbesweerder? Dis nou soos iemand wat op ʼn fluit speel en die slang hipnotiseer sodat hy sy verskyning uit ʼn mandjie maak. Dit moet seker een of ander towerfluit wees – soos die fluit wat Hamelin se fluitspeler gebruik het. Dit sal seker nie werk as ek een van die kinders se blokfluite of my selfoon se luitoon probeer as lokmiddel nie…?

My horlosie wys twintig oor sewe en dit voel vir my of ek al ʼn harde dag se werk weg het. Die slang steur hom nie aan my pleidooie nie. Toe besluit ek; kom wat wil, ek gaan nou hierdie slang vat.

Elke keer as ek net-net aan hom wil raak, begeef my moed my. Na tien probeerslae gryp ek die slang. Hy voel toe glad nie styf en glibberig soos wat ek verwag het nie, maar sag en pap soos ʼn stuk rou vleis. Hy is ook nie kwaai nie, eintlik mak, en so sit ek hom toe in sy hok.

Ansja slang

Ek het gewonder of die slang ʼn meisie is, omdat dit van my handsak hou, maar Tris het verduidelik dat daar ‘n ander rede is, dat slange van donker en grotagtige omgewings hou en moontlik veilig gevoel het in my handsak.

Tris lig my ook in dat die slang eintlik ʼn lid van die manlike spesie is.

Slang se kind het later dieselfde jaar uit sy hok ontsnap en hy kon nêrens gevind word nie. Drie maande later word Tris se kamermure geverf en soos wat ek die nuut geverfde mure gaan besigtig, seil die slang voor my in!

Hy het iewers in die kamer geskuil, en die skerp verfreuk het hom uit sy skuilplek gedryf.

Briesend kwaad en omgekrap, ratel Meneer Slang vir my.

Ek sien ʼn klein plastiek-emmertjie in die hoek van die kamer en keer dit summier op die slang om, terwyl ek skreeu: Tris! Tris! Tris! KOM!

Daardie dag het ek 17 grys hare bygekry.


Ansja foto“Why fit in when you were born to stand out?” deur Dr. Seuss, is Ansja Ferreira se gunsteling leuse. Sy is ʼn free spirit wat hou van sprokies, meerminne, engele en feetjies en is ʼn skrywer van stories, liedjies en artikels. Sy het ʼn Honneursgraad in Kommunikasiekunde met Joernalistiek as hoofvak en is tans besig met haar Meestergraad in Kreatiewe Skryfkuns aan die Universiteit van die Vrystaat. Daar is nooit ʼn vervelige oomblik in haar huishouding nie en jy sal haar die meeste van die tyd in die tuin kry tussen haar plante en diere.

3 comments on “ʼn Kuur vir Ophidiophobia

  1. Jy het nou absoluut my dag opgevrolik met hierdie storie!

    Like

  2. Uitstekend Ansja. Sjoe dis baie snaaks! Wat mens nie als vir jou kinders sal doen nie LOL

    Like

  3. EK is nie bang vir slang, maar verstaan nie hoekom mense hulle as diere aanhou nie. Hulle is net. Hulle doen niks (behaved ma bang maak)

    Like

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: