Afrikaans Rubrieke

“Afrika is nie vir sissies nie” deur Ilse Smalberger

Ek is baie lief vir my land. My hart klop diep en opreg vir Suid-Afrika se uitgestrekte Karoo, die diep, ysblou Weskus see, die malse groen van wingerd op wingerd in die Bolandse somer, die stilte en vrede van wuiwende grasvelde in die binneland, en die goue vreugde van ‘n landery vol oopgesig sonneblomme in die Vrystaat.

Dis vir my vreeslik lekker om toegang te hê tot die dinge wat ons eintlik as alledaags beskou. Ek hou daarvan om met oop vensters te slaap sodat die voëltjies my kan wakker sing.

Dis vir my lekker om Afrikaans met die kassiere by Pick n Pay, die petroljoggie by die vulstasie en die koerier wat my bokse wyn van die Kaap af bring, te praat.

Ek is mal oor Simba sout-en-asyn tjips en Ocean Basket se knoffelrige bottersous. As ek wil en baie verlang, kan ek in my motor klim en binne ‘n paar uur by my pa of sussie of susterkinders wees om te gaan kuier.

Maar Afrika is nie vir sissies nie. Suid-Afrika nog minder. Nou praat ek nie van die feit dat ek op die oomblik hierdie blog tik met vyf volle werkende vingers aan die een hand, en net twee werkende vingers aan die ander hand nie.

Die rede is dat ‘n skerpioen my vanoggend gesteek het toe ek doodonskuldig die vuil wasgoed uit die mandjie wou haal, en nou pyn my middelvinger soos jy nie sal glo nie. Klein bogger.

Nee, Afrika is nie vir sissies nie, want dis nie altyd lekker of maklik om hier te bly nie. Die vet weet, so lief soos wat ek vir hierdie land is, net só hou ek baie keer nie van hom nie. Is ‘n land ‘n “hom”? Wie weet? Ek weet wel dat hierdie land my soms treurig maak, soms woedend en dikwels teleurstel. Nee, kom ek herformuleer dit. Die MENSE van hierdie land maak my soms treurig, woedend en stel my soms diep teleur.

Nou praat ek nie van ‘n spesifieke bevolkingsgroep nie. Dit sal amper té maklik wees. Plaas alles wat jou ontstel/frusteer/irriteer of sommer die hoenders inmaak voor een ras se deur. Soos my sussie se kinders sê: Easy-peasy. So eenvoudig is dit egter nie.

Boonop is daar niks wat my so vining die harnas in jaag as daardie sinne wat begin met “jy weet, HULLE…”. Die res van die sin kan deur ‘n legio opsies gevolg word, want mense wat daardie sin gebruik het gewoonlik ‘n legio probleme met hulle.

As hulle egter die versamelnaam is vir al die opportunistiese, korrupte politici, en geldgierige, magsbehepte sakelui, en gewetenlose, bloeddorstige moordenaars, verkragters, en die ongeskikte, egoistiese massas wat gedurig voel dat hulle te na gekom word, dan kan ek my gewig agter die woord gooi.

Daai hulle onderskei nie tussen ras of geslag of ouderdom nie. Dis oud en jonk. Mans en vroue. Swart en wit en pienk en pers, elke denkbare kleur wat deur die reënboognasie verteenwoordig word. Sommige kriminoloë beweer dat almal van ons die potensiaal het om ‘n misdaad te pleeg. Ons motiewe kan dalk net verskil.

Jaloesie, trots, gierigheid, wellus, luiheid, woede en vraatsug – daar is ‘n rede waarom dit die doodsondes genoem word. Ons almal het al hierdie doodsondes gesondig en is teen gesondig. Maar steeds is ek hier, terwyl soveel ander hulle heenkome elders gaan soek het.

Dikwels wil ek graag vir Suid-Afrika die middelvinger gee, maar ek kan nie want die skerpioen het hom gesteek en nou kan ek hom nie reguit maak nie.

Terloops, ek het nie die skerpioen doodgemaak nie. Ek het swetsend (en versigtig) onder die vuil klere in die wasgoedmandjie gekyk totdat ek hom raakgesien het. Toe het ek hom op die hemp (waaronder hy geskuil het) na buite gedra en onder ‘n bos in die tuin vrygelaat. Dalk steek hy my môre weer, maar tot dan moet ons maar saamleef en as ons nie kan saamleef nie, uit mekaar se pad bly. Ons is immers albei deel van hierdie land.

____________________________________________________________________________________________________

OSA1Ilse Smalberger woon in Kimberley in die Noord-Kaap saam met haar man en katkinders. Ilse groot liefdes (behalwe vir haar familie natuurlik) is kosmaak, lees van spanningsverhale, blokkiesraaisels, Sauvignon Blanc, internasionale nuus, pizza, sport, Rafael Nadal, die see en resepteboeke. Sy hou nie van mense wat diere mishandel of ongeskik is met kelners nie. Bedags skryf sy kopie, doen vertalings, proefleeswerk en af en toe lees sy die nuus op OFM, Sentraal Suid-Afrika se grootste radiostasie.

0 comments on ““Afrika is nie vir sissies nie” deur Ilse Smalberger

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: