Afrikaans Kortverhale

“Die Rooi Tas” deur Anne-Marie Taylor

 WAARSKUWING

            “Riekie sal nou regkom tot so middel Januarie?”

            “Hemel Elizabeth, ek is mos nie verlam nie. Dis mos nou ook nie asof ek heeltyd hier by die huis gaan wees nie. Ek gaan oormôre na Leon-hulle toe tot na nuwejaar. Laasjaar was dit nog te erg na Simon se dood, maar mens moet maar aangaan.”

Elizabeth kyk my aan asof sy weet ek lieg ligtelik. Van altyd af kon sy ‘n lieg op ‘n afstand ruik. Dit gaan maar broekskeur hierdie tyd van die jaar so alleen. Maar dit beteken nie ek mag haar tyd saam met haar mense van haar ontneem nie. Verlede jaar het sy verseg om my alleen te los, maar dié jaar het ek my voet neergesit.

            “Riekie het nie dalk vir my ‘n groterige tas om te leen nie? Ek vat mos nou hierdie keer my kleinseun saam huis toe, sodat hy ‘n slag sy mense kan leer ken. Cynthia moet regdeur werk en daar is niemand wat ‘n oog oor die seunskind kan hou nie. Dit betaal nie hy loop bedags vir kwaadgeld rond nie. Tot nou toe kon ons die kind mooi grootkry, weg van die slegte dinge af. Ek vat hom eerder saam. Dan kan sy ma ook rustig wees. Die taxi manne vra baie ekstra as mens meer as een ding wil saam vat, so ek wil maar ons klere in een tas probeer pak.”

            “Die vet weet Elizabeth, ek wens jy wil nie so ver met die taxi ry nie. Daai mense ry soos die duiwel. Ek het gesê ek sal eerder vir jou ‘n buskaartjie koop. Regtig!”

            “Riekie worry onnodig. Dis nie rêrig so erg nie. Meeste van daai manne ry eintlik heel mooi. En anyway, as dit mens se tyd is, is dit jou tyd.”

            “Fok dit Elizabeth! Mens gaan soek ook nou nie jou tyd nie.”

            “Jou ma moes jou mond meer met seep uitgewas het. Jy praat te lelik.”

Ek lag en daarmee is die argument afgehandel. Ek gaan soek in die gangkas waar ons al die tasse bêre en dis hier waar ek die rooi tas weer sien. Ons grootste tas. Simon se tas. Sy kaste het ek lankal uitsorteer en weggegee wat ander mense nog kon gebruik. Net vir myself ‘n paar goedjies gehou. Maar van die rooi tas het ek vergeet. Ek sleep dit van die rak af en maak dit oop. Die Simon-reuk slaan my onder die hart. Ek buig vorentoe en lê met my kop amper binne-in die tas en ek weet ek moenie nou huil nie, want dan gaan ek nie maklik weer ophou nie. Die laaste keer wat Simon die tas gebruik het, is toe ons saam Argentinië toe was. Voor die herinneringe my lamlê maak ek die tas toe en vat dit kombuis toe.

            “Hier Elizabeth. Hierdie tas is net lekker groot genoeg en het wieletjies. Wees maar net versigtig met die kant se groot handvatsel. Dis al bietjie losserig. En jy moet maar hierdie adres-label hier om die handvatsel aftrek. Dis nog van die vliegtuig, toe ons oorsee was.”

            Elizabeth kyk vir die tas en toe na my. “Maar dis mos …”

            “Elizabeth, vat dit net. Toe. Ek wil hê jy moet dit vat. Asseblief.”

            “Reg so, Riekie. Maar ek sal maar die label so los op die handvatsel. Ek sien julle name en adres en foonnommer is daarop. So as daai taxi nou soos die duiwel ry en ek loop lê iewers langs die pad in ‘n gat, dan kan hulle darem my mense kry.”

            “Elizabeth! Moenie met my kom kak praat nie!”

Sy skater soos sy lag en loop bêre die tas by haar kersgeskenk wat ek vanoggend gegee het.

Later die middag gaan laai ek haar by die taxi-staanplek af. Almal is in ‘n feestelike bui. Dis twee dae voor Kersfees en almal wil huistoe, na hulle familie toe. Elizabeth en haar kleinseun vertrek die volgende oggend drie uur.

            “Jy bel my sodra jy anderkant aankom, hoor. Of vra vir Cynthia om my te laat weet. Sy het mos my nommer? En as jy die bus terug wil vat, laat weet. Ek koop vir jou ‘n kaartjie.”

            “Riekie moet nou ophou worry. Ek is oud en lelik genoeg om na myself te kyk. Jy’t nog doek gedra, toe kyk ek al na myself. Gaan hou vakansie en gaan tan ‘n slag daai wit bene!”

Ek steek my tong vir haar uit, druk haar styf vas en groet tranerig. Sy waai toe ek wegtrek en toe verdwyn sy en die groot rooi tas in die voorstedelike taxi in.

***

My selfoon sing kliphard. Nee hel, het ek nou wragtig die alarm aan vergeet! Ek korrel met een oog na die horlosie. 6-flippin-uur! Dis toe ek die alarm wil afdruk dat ek Cynthia se naam sien flits. Dis nie my alarm nie. Ek is naar nog voor ek antwoord.

            “Mevrou… mevrou…” Verder hoor ek niks. Cynthia huil te veel. Ek hoor iets van Elizabeth en Dirkie. Ek kry haar darem so ver om vir my te sê sy is reeds by haar werk. Gelukkig weet ek waar dit is. Ek trek die eerste beste ding aan en ry so vinnig as wat ek kan daarheen, sonder om elke moontlike padreël te breek. Al die pad bid ek oop oë, al weet ek nie mooi wat om te bid of waarvoor om te bid nie, weet ek niks nie, wil ek nie dink wat ek reeds weet nie. Wil ek nie weet nie.

Cynthia staan buite en wag vir my. Sy huil nog, maar het genoeg bedaar om my te vertel.

            “Daar was ‘n ongeluk, Mevrou. My neef was ook saam met mammie in die taxi. Hy’t my gebel van Worcester se hospitaal af. Hy weet nie of mammie en Dirkie okay is nie. Hy sê als is te deurmekaar. Hy het agter gesit en slaap van te veel bier suip. Hy moes hom seker nugter geskrik het.”

            “Okay Cynthia. Klim in. Ons ry nou dadelik Worcester toe. Kom ons jaag nie spoke op nie. Kom ons glo Elizabeth en Dirkie is okay. Dalk seergekry, maar okay.”

Ek ry asof ek vir die dood self probeer wegry. Ek haat dit om deur die tonnel te ry, maar ek sluk en jaag deur ver oor die spoedgrens. Cynthia sit met geklemde hande langs my. Sy sê niks en ek kan aan niks dink om te sê nie. Gelukkig is die pad verbasend stil.

By Worcester hospitaal is daar chaos. In die gang by Ongevalle sit oral beseerde mense rond. Ek loop heen en weer en probeer vir Elizabeth raak sien, maar daar is net te veel mense. Cynthia is reeds by die toonbank en ek loop en gaan staan langs haar. Haar gesig vertel my wat ek nie wou weet nie. Sy draai na my toe en praat soos ‘n zombie.

            “Net twee mense van die taxi lewe. ‘n Man en ‘n dogtertjie.”

Die man is haar neef. Ek wonder saam met wie was die dogtertjie. Ek hou my dink klein. Ek kan nie aan Elizabeth en dood in een sin dink nie. Ek kan nie.

            “Hulle sê die taxi het verby gegaan en in die bus vasgery. Hierdie is almal mense van die bus.” Sy waai haar hand oor die beseerde mense in die gang.

            “Hulle sê almal in die taxi is dood. Behalwe ‘n man en ‘n dogtertjie.”

Ek wonder wie de fok is “hulle”. Cynthia loop weg. Ek staan soos Lot se vrou. Hoe kom ons hierdeur..? Hoe-de-fok-hoe?!

***

“Waarmee krap jy daar in die sand, Johnny?”

            “Is my karretjie, ouma.”

            “Gee hier dat ouma sien. Dis g’n ‘n karretjie nie, kind. Dis ‘n koffer se handle. Waar tel jy nou weer die gemors op?”

            “Geeee… is myne! Hennie het vir my gebring, hy het dit langs die pad opgetel.”

            “Hennie moet ophou vir kwaadgeld druiwe smokkel langs die pad! Wat is hier om die handle? Is ‘n label. Wat staan hier? Is ook so vuil. Lyk soos S. I. M. O. … nee, dis te gesmeer. Dé, vat jou ‘karretjie’. Speel soet, ons gaan nou-nou eet hoor.”


Aug2018Anne-Marie Taylor is versot op waatlemoen en sjokolade. Sy hou nie van roomys nie en nog minder van kosmaak, maar sy sal al jou skottelgoed was as jy vir haar sal kosmaak.

Sy woon buite Stellenbosch in ‘n klein huisie op ‘n wingerdplaas en werk by die WNNR. Sy doen vryskut vertaalwerk (Afrikaans na Engels en vice versa) vir maatskappye en proeflees verslae. In haar vrye tyd, wanneer sy nie werk of Karoo toe ry om vir haar kleindogter te gaan kuier net buite Aberdeen nie, skryf sy.

Gaan volg gerus Anne-Marie se persoonlike blog en haar Facebook-blad.

1 comment on ““Die Rooi Tas” deur Anne-Marie Taylor

  1. Wow Sonkind! Dis al wat ek nou kan kwytraak…..

    Like

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: