Hulle sê mens is nooit te oud om te leer nie maar dan is daar ook die gesegde wat lui, “you can’t teach an old dog new tricks”. Ek voel ewe skielik dom. Die teenstelling laat my brein dobber soos een van daai rooi en wit visvang-dobbertjies… Dit lê net-net bo die water maar wil kort-kort onder die bruin damwater van diep denke verdwyn. Hoe dan nou gemaak?
Hoe kan daar soveel teenstellings in woorde en gesegdes wegkruip? So paar jaar gelede sê ‘n oom aan my, “moenie vir ‘n bedelaar geld gee nie want jy ondersteun hom om op straat te bly, in plaas daarvan om te loop werk soek.” Ek dink so oomblik hieroor en stem volkome saam hom.
Ek sterk die duiwel in sy kwaad deur geld te gee…
‘n Paar maande later staan ek by Shakespeare en Co. in die hartjie van Parys en luister na ‘n boekvoorlesing. Dis ‘n laat bedompige somersmiddag en die strate is oorvol toeriste.
‘n Ou, vuil bedelaar kom verby en die man wat langs my staan huiwer nie vir een oomblik om geld uit sy broeksak te haal en aan die ou vrou te gee wat haar blikkie skud-skud hou vir munte by almal wat rondstaan en luister na Zadie Smith se voorlesing nie.
Ek voel weer soos die rooi en wit dobbertjie wat onder die bruin water wil verdwyn. Hoe is dit moontlik om so dom te voel oor iets wat eintlik ‘n baie eenvoudige saak behoort te wees…?
Aan watter “kriteria” moet ‘n bedelaar voldoen voordat ek geld uitdeel? Moet ek die land in ag neem waar ek myself bevind? Moet ek dalk met die bedelaar gesels en meer uitvind oor hoekom en waarom…?
Moet ek my steur aan nuusberigte wat vertel hoe bedelaar-moeders hul babas bedwelm om hul sodoende stil en rustig te kry voor die dag se bedel op straat begin?
Ek is al allerhande onbetaamlike woorde toegesnou deur verskeie ouerige bedelaars wat my motor opgepas het in Pretoria en eenkeer voor ‘n McDonalds in Manhattan (slaan ag op die wêreld-tendens). Beide kere het ek werklik nie kleingeld in my beursie gehad nie.
Ek moes aanhoor dat ek ‘n nuttelose kadawer vir die samelewing is (nie in sulke mooi Afrikaans nie).
En so dobber en wonder ek weer… Is dit werklik my “werk” om hierdie mense te tip!? Ek moet wraggies hard werk vir elke sent wat ek verdien en dan boonop elke sent driekeer omdraai voordat ek dit spandeer…
Ek weet daar is die spreekwoord wat lui, “hoe meer jy gee hoe meer sal jy ontvang.” Maar ek is wraggies nie meer lus, en soms glad nie in die bui om te gee nie! Niemand van ons is van nature aaklig nie, maar êrens moet mens seker die streep ook trek…
Ek gesels nou die dag met ‘n professor op kampus. Hy is ‘n grys en baie wyse ou man. Hy sê toe vir my, “you will know if they really struggle, you will get this sad, gut feeling inside of you — that’s how you know…”
Ek leer myself hoe om my sesde sintuig — die ‘gevoel’ meer te vertrou, want daar is nie werklik kriteria of ‘n “checklist” vir bedelaars nie, en selfs al was daar twyfel ek of enige bedelaar dit sou invul…
Al wat ek het, nes ‘n bedelaar, is die menslikheid binne-in my hart.
En as ek luister na die stemmetjie aan die binnekant en daai gut gevoel, is ek seker ek sal weet wanneer ek iemand werklik sien swaarkry. Nie almal van ons het ons vyf sente nodig nie…
Tot later!
_____________________________________________________________________________________________________
Carla Botha woon en werskaf tans buite Suid-Afrika se grense want sy is alewig opsoek na nuwe avonture en stories. Na baie wik en weeg het sy besluit om sport afrigting te verruil vir tale en sinskonstruksie in die akademiese wêreld. Sy is tans besig met haar MFA in kreatiewe skryfkuns en verkies dit om tyd saam haar vier honde en ‘n stertlose kat te spandeer, met ‘n beker sterk, swart koffie in die hand.
Baie goed geskryf in n wereld vol bedelaars,soms dink ek hul wil net hul menswaardigheid ook weer herwin.
LikeLike