Afrikaans Poësie Rubrieke

“Die Huidige Testament” deur Chantell Smith

As kind word ons geleer van die ou testament asook die nuwe testament in die Bybel, maar selde, indien ooit word ons jeug-hande geneem op ‘n reis waar ons leer oor die naaktheid van ‘n huidige testament EN die enorme seëning wat daarin skuil.

‘n Huidige testament is die oomblik waar realiteit haarself naak voor jou kom neerlê en vereis om op die ingewing van die oomblik hanteer te word. Ook bekend as die NOU.

Sy is oorlaai met reuke, prentjies, mense, emosies, gedagtes, ervaringe, gesprekke, waarnemings, ontleding, leuens, teleurstellings, oorwinnings, hartseer, kommer, tevredenheid, aggressie, geduld, vreugde, self-bejammering, twyfel, verlies, verdraagsaamheid en nog vele meer.

Dit is ‘n klerekas vol gevoelens, ‘n harlekyn vol truuks wat wag om jou te vermaak.

Elke sekond bring vir ons ‘n hernude NOU, en elke minuut later word netnou se nou in die argiewes van gister gebêre. So, hoe lyk jou NOU?

Soms verg die NOU volwassenheid en soms wil ons die fopspeen uitspoeg en ‘n nare lawaai maak, maar tog te midde van ons huidige testament lê daar ‘n mooi wat gevul is met meer wonders as wat die wêreld jou ooit kan bied…

’n Mooi wat deur ‘n digter gemaak is, ‘n mooi wat as jy net bereid sal wees om stil te raak, bewus te raak, dankbaar te raak en vriende te raak met jou huidige Testament, sal ontdek…

Die mooi van NOU het ‘n onaangeraakte eerlikheid, ‘n onvoorbereide verrassing en in retrospek gaan môre dalk ook ‘n nou word, en gister is reeds ‘n verlangende nou.

Nou is vir my makliker as môre of gister, omrede ek asemhaal in die hede. Gister skep vir my heimwee en die toekoms is weer onseker, maar Nou…

 

Sy ruik na roosmaryn en tiemie en miskien ‘n bietjie na gister

Sy hou vir my die sitrusvrug in plek vir môre

Sy herberg ‘n denneboom se koelte en verskaf herinneringe wat na jasmyn ruik

Sy dra die son as haar sakdoek en maak die horison ‘n herhalende skildery.

 

In my huidige testament

Leer ek skryf in groen grashalms, tussen krieke en toktokkies.

Staar ek vas in die fyn lyne van ‘n liewenheersbesie en

vind die vingers van God in my huidige testament asook in die ritme van my asemhaling.

 

T.T Cloete skryf:

daar is meer poësie in die sneeuvlokkie

as in die letterkunde en baie meer poësie

in die miskruier in die toktokkie

in die meteorologie en entomolgie

in die môremis en bergpiek

die horison wat in die hemel wegraak

in die rooswolk is daar baie meer liriek

die aarde is deur ‘n digter gemaak

 

God het my geteken, gister se handjie vol nou het my kleur gegee.

Elke dag word ‘n gister en elke gister word ‘n inkleurkryt…

Ons is ‘n lopende gedig wat geskep is deur n versameling van nou.

 


PicsArt_11-04-03.47.56Chantell Smith is ‘n wanna-be skrywer, wat glo dat taal soms vir die verkeerde redes gebruik word. Jane Wagner het gesê: “I personally believe we developed language because of our deep inner need to complain” en Chantell glo sy is nie ver van die waarheid af nie. Chantell glo in die vriendelikheid van ‘n taal en die beskrywing van ervaringe. Mens is die gawe van kommunikasie gegee maar is soms te vroom om te sê wat op die hart is… die mens moet van voor af leer praat. Sy leef vir musiek en alhoewel sy geen instrumente kan speel nie, het sy haar eie versameling. Sy glo in dankie en asseblief en dat goeie maniere jou ver sal neem.

0 comments on ““Die Huidige Testament” deur Chantell Smith

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: