Afrikaans Rubrieke

“Die Storie van ‘n Pienk Koppie” deur Elsabe Pepler

Wabi-sabi (侘寂): ‘n Oosterse wêreldbeskouing wat berus op die aanvaarding van verganklikheid en onvolmaaktheid. Die filosofie glo dat alle skoonheid onvolmaak, tydelik en onvolledig is.

Kintsugi (金継ぎ); kintsukuroi (金繕い): Die kuns om ‘n gebreekte voorwerp te herstel in ‘n nuwe, anderse item met ‘n eie unieke storie en skoonheid, juis vanweë die krake wat met goue gom herstel word. Die gebreekte porselein is nie meer heel nie, maar is nuut en mooi in die gebreekte en herstelde voorkoms, omdat dit ‘n ryker storie vertel.
(Letterlik: kin – goud, tsugi – herstel).

Toe ek jonger en meer impulsief was, het ek ‘n romantiese verhouding met ‘n man gehad. Ons het mekaar glad nie verstaan nie en ‘n groot leuen het ter sprake gekom. Daar was ‘n skerp oomblik van eindelose droefheid in ‘n groot, waardevolle glasvaas wat flenters geval het. Ek kon geen hoop op herstel sien nie. Die vaas was stukkend, tot niet. En nie so lank terug nie, miskien drie jaar gelede, het ‘n lieflike blou Nederlandse muurbord van my muur afgeval en ook in dosyne klein stukkies gebreek. Vir my was ‘n stukkie geskiedenis – dertig jaar – van my lewe weg.

Ons almal ken daardie gevoel. Mens het nie bedoel om die glas, bord, koppie of ornament te laat val nie, maar jou hande was dom, of oorhaastig, of jy het jou reikwydte oorskat. Iemand het dalk liggies aan die ding op die tafeltjie gestamp – ‘n kind, ‘n hond, ‘n lomp voet – en die mooi hartsbesitting het geval.  Mens tel met ‘n hartseer gevoel die stukke op. Dalk het die voorwerp baie geld gekos, en het mens lank daarvoor gespaar en beplan. Of dalk is dit ‘n verhouding of vriendskap waaraan mens lank en hard gewerk het, en gwar, breek dit in stukke.

Ergste van alles:  soms breek ons onsself, of die lewe breek ons.

Ons is almal mense. Ons maak foute, neem verkeerde besluite, maak ander seer en breek per ongeluk of aspris goeters. Ergste van alles:  soms breek ons onsself, of die lewe breek ons. Mislukkings, teleurstellings, snywonde, siektes, operasies, hartseer, beenbreuke, verhoudings wat wil maar nie kan nie, en dood. Vure kom en tuistes brand af. Golwe en water soos tsunami’s  spoel ons uit op die kante van die rivier. Ons lewens verander sonder ons toestemming of beplanning.

Dekades gelede, toe ek ‘n jong hupse meisiekind in my twintigs was, het ‘n vriendin, Elsa, vir my ‘n uitsonderlike geskenk gegee. Dit was twee Hornsea Pottery Concept (Swan Lake) koppies, pierings en kleinbordjies. Dit was in die laat sewentigs in Engeland gemaak, en mense versamel dit vandag nog omdat dit toe ‘n ontwerp-kompetisie gewen het.

As ‘n drie-en-twintigjarige het ek pas uit ‘n verbreekte verlowing orent gekom, vol bloederige wonde, krake, stukke en woede.

Elsa se hartsgeskenk was gekoppel daaraan dat ek in ‘n malvapienk-woonstel in Pretoria gewoon het.  As ‘n drie-en-twintigjarige het ek pas uit ‘n verbreekte verlowing orent gekom, vol bloederige wonde, krake, stukke en woede. Die voormalige verloofde, tien jaar ouer as ek en ‘n predikant, het skielik een oggend terwyl die Augustus-son op sy lessenaar val, vir my gesê dat ek en hy nie sal kan saamtrek in een juk nie. Hy was (en is vandag nog) aartskonserwatief en het gevoel dat ek te veel van die toe-liberale Beeld-koerant gehou het. Hy het sy sigaretrook uitgeblaas en met skrefiesoë vir my gesê die verlowing is verby. Ek het gevoel of ek ‘n hou in die wind gegee is: ek het my werk, my woonplek, my lewe in Pretoria opgegee om in Bloemfontein te loop pastorievrou word.  Ek het verslae gesê: “Maar ek is die son in jou lewe”. Hy het onvriendelik geantwoord: “Die son brand my oë”. So is ek terug Gauteng toe, as televisie-nuusverslaggewer. (Om eerlik te wees, die pastorie-hoofstuk kon nooit werk nie, right?)

Terug in Pretoria het ek al my verdriet in die skepping van my pienk, knus, vroulike herstel-nessie ingesit. My woonstel was legendaries mooi. Pienk, soos soet malvalekkers en klapperys, met bietjie wit. Mense het letterlik na my holte-vir-die-voet heen gery omdat hulle gehoor het hoe mooi dit was.  Elsa se koppies het volmaak gepas.

Meer as drie dekades later beland ek  in 2015 by ‘n Genderversoenings-opleiding in Kaapstad.  Ek was kwaad vir mans wat vrouens seermaak, verkrag en slaan. Ek moes dus (weer) leer van versoening, fasilitering, vergifnis en ander moeilike goed. Ek het ‘n sertifikaat om dit te bewys.

Na ‘n jaar van moeilike werkskwinkels, moes ons elkeen ‘n geskenk vir ‘n spesifieke ander persoon tydens die afsluiting gee. Dit moes iets na aan ons hart wees; baie persoonlik, sodat ons kon leer van die gawe om iets van jouself weg te gee.  Ek het op en af deur my huis gedwaal. Sekere goed kon ek nie van afskeid neem nie; andersyds het ek gevoel sekere goed in my huis is waardeloos. Ek het besluit om een van my kosbare pienk koppies vir Sarah, my ontvanger, te gee. Dit toegedraai in deurskynende sellofaan en in ‘n sirkel op ‘n doek gesit.

Sy maak dinge heel, het sy aangedring en gaan die koppie ook regmaak.

Ek was net vir ‘n oomblik uit die vertrek uit en toe ek terugkom, tref ek ‘n huilende Samantha aan. Sy het gebieg dat sy die koppie laat val het toe sy daarna gekyk het. Sarah, vir wie die geskenk bedoel was, het geweier om NIE die koppie te vat nie. Sy maak dinge heel, het sy aangedring en gaan die koppie ook regmaak.

In die vyftiende eeu het ‘n Chinese porseleinkoppie van die Japanese shōgun, Ashikaga Yoshimasa, flenters geval. Hy was baie ongelukkig en het die stukkende koppie China toe gestuur vir herstel; en was toe baie onvergenoegd met die koppie wat met groot staalkramme teruggekom het. Hy het sy eie mense beveel om ‘n ander plan te maak. Hulle het ‘n metode uitgedink met gom en goue verf.

Kintsugi is deel van die Japanese beweging van Wabi-sabi. Kintsugi beteken letterlik “om bymekaar te bring met goud”.

Kintsugi (Foto: Wikipedia Commons)

Ek het as kind by my grootouers en ouers geleer dat daar ‘n saaidbord is vir goeters wat kan breek. Ons gebruik nie daardie goed nie –
dis te spesiaal.

Ons almal ken die verslae gevoel as ‘n pragtige pot, ornament, koppie of erfstuk in flenters val. Mens ervaar so ‘n gevoel van verydeling; ek het ‘n stuk van my verlede en identiteit verloor, dink mens dikwels. Ek het as kind by my grootouers en ouers geleer dat daar ‘n saaidbord is vir goeters wat kan breek. Ons gebruik nie daardie goed nie – dis te spesiaal. Ek het altyd gewonder wat die nut dan is, wanneer ek met my neus so plat teen die glasdeure gestaan en kyk het na die porselein daarbinne.

Ons het maar min geduld met onsself as dinge anders loop as wat ons beplan of gehoop het. Verlowings, huwelike en verhoudings breek. Daar gebeur dinge met ons wat jou vir ‘n tyd laat glo dat jy nooit weer iets werd sal wees nie.  Dat jy, in jou gebroke toestand met die rowe en letsels nie meer mooi is nie. Wie gaan na jou kyk?

Maar as ons die Oosterse beskouing aanneem van Wabi-sabi, leer ons eintlik die teenoorgestelde. Dit beteken dat jy eers betekenis en waarde kry as jy gebreek is en uitmekaar geval het, en dan weer noukeurig, met liefde en ‘n doel, aanmekaar gegom word.

Ons lewe in die tyd van kits. As ons internet stadig is, word ons gek. As iets breek, koop ons iets anders. Ons Westerse mense gooi die stukke weg. Maar ons moet dalk anders dink oor onsself, oor die mense om ons, ons verhoudings en ons eiendom. Ons kan die beginsel van kintsugi probeer toepas. Gebreek, gekraak, stukkend – maar aanmekaar gelas met goue gom. Ons het nog steeds ‘n doel en funksie, al het ons  in stukke gebreek, onvolmaak en met splinters.

Wabi-sabi glo dat die skoonheid van enige voorwerp in die foute en skade en krake sit; in die swak plekke waar dit gebreek het, en gelas is. Die geskiedenis en herstel is deel van die skoonheid en funksie. Dit is inderdaad nou meer werd as voorheen, want dit het ‘n ryk storie. Dis na alles, die harde houe, die breuke, die pyn, waar ons gewoonlik die meeste van onsself leer. Kintsugi omhels letterlik ons foute en ongelukke.

Die kuns is om skade en gebrokenheid te omhels… Al bly dit moeilik om daaraan te dink.

Eastern philosophy
Wabi-sabi: the experience of imperfection

Elsabe PeplerElsabe Pepler. Ma sonder ‘n kolon in haar lyf. Vrek oor woorde en sinne en nuus en die media. Tweedehandse boekwinkels en biblioteke is belangrik. Super supervisor van nagraadse studente in kommunikasie en ontwerp. My ouma het gesê: “Hierie kind sal nooit ‘n man kry nie; sy’s te parmantig”. Maar ek hou wel baie van honde. En Netflix is beter as … nou ja.

6 comments on ““Die Storie van ‘n Pienk Koppie” deur Elsabe Pepler

  1. Ag hoe goed was dit nou om “jou” te lees liewe Els… Bring ook herinneringe van lang-lank gelede ini mooie petoorsdorp…

    Like

  2. marguerite klein

    Els! Lekker lees ek nou. En onthou jou pienk fase so goed. Was inderdaad mooi!

    Like

  3. Watter inspirerende lewensles! Jy gee my sommer moed.

    Like

  4. Hoe mooi jou storie, en jou inspirasie Elsabe. Jy moet beslis die skryfpen meer gebruik. Jy het ongelooflike talent-ons soek nog asseblief!!

    Like

  5. Elizma Muller

    Nig…..jy het my vasgenaal met storie…dis so waar..die hele lewe bestaan uit breekpunte…maar jy het my inderdaad diep laat dink oor die goue gom wat mens se gekraakte/gebreekte brose bv myself te kan fix.
    Jy dra definitief n boodskap oor sonder om die woord positief te gebruik…positiwiteit oor in ons gebroke siele en ons land.
    102% is my punt vir jou!!
    Trots op jou en doen so voort…xx

    Like

  6. Dorette Van Zyl

    Liewe Elsabè, jou storie is die storie van ñ baie dapper en deernisvolle vrou. Jou liefde vir woorde en sinne skuil ook in elkeen van jou woorde in die storie van die pienk koppies.💕

    Like

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: