Afrikaans Rubrieke

“Uit ’n koek, uit die boks of uit die oudedoos?” deur Willemien Marais

Om uit ’n koek te spring is nie vir almal nie. Selfs ek is maar ’n skamerige enetjie wat my eenkant hou by gesellighede en enige geleentheid waar daar meer as twee mense is. Eintlik is drie mense nog okay, want dan kan die ander twee mekaar geselskap hou. Twee mense, as ek een is, is my grootste nagmerrie. Dit sluit vreemdelinge in, maar selfs ook mense wat ek redelik goed ken. Want dan moet ons mos iets sê. Vir mekaar. En jy moet die regte balans vind tussen opregte meelewendheid en die skyn van belangstelling, sinvol maar nie hoogdrawend nie en verkieslik nie oor die weer nie. Teen die tyd dat ek al my opsies oorweeg het, het die stilte reeds die grens van welvoeglikheid en goeie buurmanskap oorgesteek en lyk ek net onbeholpe en haat ek myself.

’n Gesellige stilte is my gunsteling gesprek. Ek hoor soms hoe mense na ander mense in restaurante wys, en opmerk hoe daai paartjie die hele aand nog niks vir mekaar gesê het nie. Hemels, dink ek. En regtig, julle, wat as daardie twee mense mekaar so goed ken dat hulle doodgelukkig in stilte saam in die openbaar kan wees? Dis mos nou die eerste prys.

Ons hoef nie derms te ryg nie;  ons het die salige
vrede van emosionele balans bereik.

’n Tweede eerste prys is om vir ure lank heerlike, onverdunde nonsens te praat. Oor onbenullighede. Soos die wasmasjien en of ons eers Pick ’n Pay toe sal gaan, of eers petrol moet ingooi, en onthou tog om van daai lekker lemoene by die man langs die sirkel by die skool te kry. Ek reken sulke gesprekke tussen mense wat mekaar baie goed ken, is ’n teken dat die meeste van ons regte nonsens uitgesort is. Ons hoef nie derms te ryg nie;  ons het die salige vrede van emosionele balans bereik. Vir nou, in elk geval. Ons wen. En ons het lekker lemoene.

In jou benadering tot die lewe, en sosiale geleenthede, het jy ’n keuse: uit ’n koek, uit die boks of uit die oudedoos? Uit ’n koek is vir my stillerige geaardheid, te traumaties. Niemand moet tog asseblief ooit in my rigting kyk nie. Ek het wel uit die kas geklim, wat beteken uit die oudedoos is nie ’n opsie nie. Dit laat my met uit die boks.

Almal dink graag hulle is uit boks, maar eintlik is hulle steeds in die bubble wrap. Jy moet ’n paar grense skuif om regtig uit die boks te wees, dis nie so maklik soos om uit ’n koek te spring nie. Die koekspringery het daardie eenmalige verrassingselement, maar dis nie juis grensverskuiwend nie. En dit het die gepaardgaande terterige aspek. Ta-daa!  Daar staan jy met jou blinkertjies-bikini en hoë hakke en dan is die oomblik verby en iemand moet jou uit die koek help, en almal staan effens ongemaklik rond en niemand kan in elk geval van die koek eet nie. Dis daai mense wat nie net voel hulle moet ’n stilte vul nie, maar dit ook met oorgawe doen.  Ongelukkig nie op ’n grensverskuiwende wyse nie.

Selfs al is jy uit die oudedoos – vat dit en gaan daarmee
en wéés daai oudedoos.

So, om my teorie kortliks op te som: Uit die boks – daaikant van die grens. Uit die oudedoos – duskant die grens. Uit ’n koek – niemandsland.  Soos met die meeste dinge in die lewe, is dit beter om ’n besliste benadering te volg. Selfs al is jy uit die oudedoos – vat dit en gaan daarmee en wéés daai oudedoos. As tradisie of ’n konserwatiewe beandering jou gelukkig maak, staan daarby. As ’n anderste siening van die lewe jou beskore is, kyk dan die wêreld vierkantig in die oë daar waar jy onderstebo aan ’n tak hang. Wees daai cupcake. Wees daai koek. En as dit moet, wees daai tert en spring uit daai koek. Maak net seker jy kan self uitklim en dat jy kans sien om vir die res van die aand met jou blinkertjies-bikini rond te loop en vrae te beantwoord oor hoe warm dit binne-in die koek is. Want ‘in’ is meer bedompig as ‘uit’, maar dis weer ’n hele ander teorie.

 


Willemien MaraisWillemien Marais kan haar ore wikkel en het al ‘n yskas met ‘n mes doodgesteek. Sy lewe as ‘n mens op aarde terwyl sy wonder of sy werklik ‘n mens op aarde is. Maar solank daar Zoo-koekies is, maak dit nie saak nie. Sy woon saam met haar vrou en dogtertjie in Bloemfontein.

Willemien is ‘n akademikus, joernalis, effense kluisenaar en aanhanger van fossiele, die buitenste ruim en liquorice bullets.

1 comment on ““Uit ’n koek, uit die boks of uit die oudedoos?” deur Willemien Marais

  1. Linda van Wyk

    My punt presies.
    Oulike karakter beskrywing. 😁

    Like

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: