Afrikaans Rubrieke

“Die Houtlepel” deur Kerneels Boshoff

Gister gesels ek en ‘n vriendin oor die dae toe ons kinders was. Sy vertel van ‘n keer wat haar ma vir haar en haar sussie gesê het om in die badkamer te gaan wag na hulle iets verkeerd gedoen het, want daar is pakslae op pad. En ons ouers het geweet, die afwagting tot ‘n pakslae is nie naastenby so opwindend soos die afwagting tot ‘n nuwe fiets of een of ander speelding nie.

Wel, in elk geval nie vir my nie.

Annette en haar sussie het in die badkamer gaan staan en wag vir die beloofde pakslae. Maar hoe langer die wag geword het, hoe stouter was hulle. Soveel so dat hulle later soos bobbejane aan die handdoekreëling gehang het, en kaplaks op die grond geval het toe die reëling afbreek.

Die slag van die val het natuurlik haar ma onmiddellik badkamer toe gelok, waar Annette met die pyp in haar arms op haar rug lê, maar hoog en laag stry dat sy niks verkeerd gedoen het nie.

So sit ek toe met heimwee en terugdink aan my dae as jong lat.

Die feit dat ek die middelste van drie seuns is, het my baie geleer oor die lewe. Soos wat dit seker maar is met drie kinders, word daar met die eerste een altyd foto’s geneem van al die eerstes: hul eerste asemteug, hulle eerste poef doek, hul eerste treë… Met die tweede een is al die eerstes van minder belang. As daar ‘n kamera naby is, word daar ‘n foto geneem. As daar nie een naby is nie, is dit ook maar so. Met die derde een gee niemand regtig meer om nie. Daar is mos genoeg foto’s van die eerste een se eerstes.

Geen ouer bo 40 is meer lus om harde werk met hul arms te doen nie,
soos pakslae gee, byvoorbeeld.

Dit het ook so gewerk met pakslae. Ek en ouboet het die meeste pakslae gekry. My kleinboet het bitter min pak gekry. Seker maar omdat my ouers teen daai tyd moeg was vir pak gee. Of moontlik omdat hy so effense laatlam was. Geen ouer bo 40 is meer lus om harde werk met hul arms te doen nie, soos pakslae gee, byvoorbeeld.

Maar dan dink ek ook, ek dink nie dit was dat my ouers moeg was van pakslae gee nie. Ek dink net hulle was bang die derde een is erger as die tweede een. Want ek was ‘n vieslike kind as ek pakslae gekry het.

So sou ons byvoorbeeld laat kom een middag van maatjies af, omrede ek ontdek het dat die maatjie hulle ‘n orrel in die huis het. Ek was mal oor orrel speel. Hoe meer my Ouboet gekarring het dat ons moet loop omrede ons laat gaan wees, hoe minder het ek geluister. Met die gevolg is dat ons toe sowat ‘n halfuur later as ons curfew by die huis gekom het. Ouboet het vinniger as ek gehardloop huis toe en vir my pa vertel dis my skuld dat ons laat was. Ek het nog probeer teëpraat deur te sê ek voel dis onregverdig dat net ék pakslae moet kry, maar Pa het net gesê as ek teëpraat, kry ek twee keer pak. Wel, Pa het daai dag so baie houe gegee, ek het gevoel dit was ten minste twee keer se teëpraat werd. Wat ek wel toe gedoen het ná die pakslae.

Na nog ‘n dreigement van ekstra pak het ek soos ‘n maer vark begin skree. Natuurlik daai jare gehoop een of ander besorgde buurman hoor my skree en bel die welsyn. Kan nie dink hoekom anders ek myself elke keer hees sou skree nie.

Na so halfuur se aanhoudende gehuil, die rede lankal vergete (ek wou net irriterend wees), het Pa ingekom en gevra of ek nog rede soek om te huil of gaan ek stilbly? “En for goodness sake, blaas net asseblief daai neus van jou!” sou hy dan sê.

Ek het seker gemaak my ouers het baie meer gesuffer
as ek as ek die dag pak kry.

Aan die begin het ek dit ook gebruik om terug te praat, en geantwoord dat ek mos nie my kamer mag verlaat nie, so hoe moet ek my neus blaas? Na ‘n vorige keer wat die aanmerking my nog ‘n loesing op die hals gebring het, het ek besluit dat ek liewer glad nie terug praat nie. Ek blaas bloot net my snotneus uit aan die gehekelde blou oortreksel wat oor my bed gehang het. Of die gordyne. Hang af waar ek gesit en huil het na die pakslae. Sodra die snot dan later droog was, het ek die beddegoed afgehaal en vir Ma gevat om te was. Ek het seker gemaak my ouers het baie meer gesuffer as ek as ek die dag pak kry.

Dieselfde scenario het hom gewoonlik afgespeel as ons by kuiermense was. Ek was mal oor ouer mense se geselskap. Ek is vandag nog. My vriende is almal baie ouer as ek, wat beteken ek is nooit genooi na troues toe nie (ek was meeste van tyd op laerskool toe hulle al getroud was). Maar ek weet my dae gaan eventually vol begrafnisse wees. Maar dit nou eers daar gelos.

“Is jy weer besig om tande te tel?”

Hoe ook al, destyds het ek verkies om by die ouer mense te sit en luister, eerder as om buite met my maatjies of broers te speel. Pa sou eers net ‘n kyk gegee het. Ek het natuurlik net gemaak of ek dit nie sien nie. Kort hierna sou hy die aanmerking maak: “Is jy weer besig om tande te tel?”

Ek het geweet as daai aanmerking eers gemaak is,  gaan my bas brand as ons by die huis kom. Ek het natuurlik dan al sommer met die inklim in die kar begin huil. Lelik huil. En daai jare het die ou Valiant sulke rooi leër sitplekke gehad. Die sitplek was later lekker glad van al die huil…

Teen die tyd wat ons by die huis kom, was Pa gewoonlik al so gatvol vir my gehuil dat hy my net kamer toe gestuur het sonder ‘n pakslae. Ek neem aan hy was nie lus vir nog ‘n halfuur se huil nie. Of ma het gesê sy is moeg van beddegoed was. Who knows?

Met die jare het die houtlepel oral saam met ons getrek, die loesings het minder geword soos ons ouer geword het.

Maar ten minste kan ons vandag lekker sit en lag oor daai jare se loesings. Amper met heimwee terugdink daaraan.

Maar net ‘n bietjie amper…

 


Kerneels Kerneels Boshoff droom daarvan om die land se paaie plat ry met sy kar of motorfiets (enigiets met wiele). Om fotos te neem van sy reise en eendag saam met sy stories in ‘n boek te plak. Wanneer hy egter nie drome droom nie, werk hy as ‘n sisteem-bestuurder vir ‘n flexo-grafiese maatskappy. Hy is oortuig daarvan dat hy die mees interessante werk op aarde het. Hy woon in Vereeniging, waar hy en ‘n vriend ook deeltyds met chilli’s boer wat hulself inlê en verkoop onder die handelsnaam, The Little Pickle Co.

3 comments on ““Die Houtlepel” deur Kerneels Boshoff

  1. Kostelik, ek het lekker gelees

    Like

  2. Vat jy my nou ver terug. Ons het elke Sondagmiddag pak gekry omdat ons geraas het wanneer die grootmense wou slaap. Ons moes ook wag vir ons pak, maar heel kreatief. My ma het ons eers laat bad (in die aand) en dan moes ons uit die bad klim en kaalgat verbyhol. Hoe vinniger jy hol, hoe minder houe het sy raakgeslaan. Ons het naderhand die draai in die gang teen byna 200 km/h gevat 😀

    Like

  3. Linda van Wyk

    Iets omtrent hierdie pak kry storie is bekend. 🤔😉

    Like

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: