Hierdie is nie ‘n skryfsel oor die kuns van hoe om die perfekte happie lasagne — jy weet, die een met die amper-gebrande kaas en bros stukkie pasta deeg — uit die hoekie van die bak te skep nie. Alhoewel die “perfekte skep” sekerlik sy eie skryfstuk regverdig.
Nee, hierdie gaan oor hoe om skeppend te wees. Ek glo dat elke mens op aarde graag iets wil skep. Dit is natuurlik ‘n totaal onwetenskaplike, ongestaafde stelling, maar dis tog wat ek dink. Nou praat ek nie noodwendig van teken, dig of musiek komponeer nie — alhoewel hierdie sekerlik die mees ooglopende manifestasies van skeppend-wees is.
As jy ou motors in jou vryetyd regmaak, dan is jy skeppend. As jy koeke bak en versier, is jy skeppend. As jy houtwerk doen, of tuinmaak, of stories uit jou kop uit vir jou kinders of kleinkinders vertel, of ‘n bobaas-skaapskenkelpotjie maak, dan is jy skeppend.
Ek droom van lang kuiers om ‘n tafel wat kreun onder die mees fantastiese geregte.
My persoonlike kreatiewe ‘uitlatings’ is kosmaak en skryf. Die eerste gee my hope plesier. Selfs om net deur my resepteboeke te blaai en te dink wat ek volgende gaan maak, is vir my lekker. Ek droom van lang kuiers om ‘n tafel wat kreun onder die mees fantastiese geregte. Om nie te praat van die proses nie! Ek is mal oor kosmaak en niks gee my groter vreugde as om kos te maak vir die mense waarvoor ek lief is nie.
Dis egter my liefde vir woorde en die skryfkuns, wat my jare se kopseer besorg. Ek verslind een boek na die ander en gaan sit dan male sonder tal, vol hoop voor die rekenaar met ‘n brandende begeerte om iets te skep wat ander mense soveel plesier sal gee, soos wat goeie skrywers vir my gee. Hoe stupid kan ‘n mens nie wees nie! Hoe naïef!
Wag, laat ek jou eers gerusstel, liewe leser. Daar is niks met my selfbeeld verkeerd nie. Ek weet ek is ‘n intelligente vrou met Godgewe talente. Ek is oor die algemeen ‘n gelukkige, positiewe mens. Ek oefen my kreatiewe skryfspiere op ander maniere – kopie vir ‘n advertensie hier, ‘n artikel vir ‘n nuusblad daar, ‘n kos-blog af en toe. Hierdie is vir my belangrike maniere waarop ek kreatief kan wees, maar kom ons wees nou eerlik – dit gaan niemand se dag maak nie.
Ek hoef nie op vakansie te gaan nie. Ek wil net op ‘n my stoep sit met ‘n glas wyn en my boek.
Net ‘n wonderlike boek kan dit doen. Jy weet, ‘n boek waarmee jy wegspring, en teen bladsy tien WEET jy dat jy nie kan wag vir die volgende brokstuk uit jou dag om verder te lees nie. Vir my is dit spanningsverhale – Dan Brown, Steve Cavanaugh, Jo Nesbo, James Patterson, David Baldacci, Jeffrey Deaver, Steig Larsson… en dosyne ander wat my tone laat omkrul van lekkerkry.
Ek hoef nie op vakansie te gaan nie. Ek wil net op ‘n my stoep sit met ‘n glas wyn en my boek. Verkieslik ‘n kat of twee opgekrul langs my. Dan is ek in die sewe-en-sewentigste hemel!
Ek wil ook boeke skryf waarvoor mense nie kan wag om verder te lees nie! Ek trek met sakke vol entoesiasme weg. Die idee is wel nie heeltemal so lekker gevorm nie, maar skrywers sê dan altyd as jou karakters sterk genoeg is, dan skryf die boek hom sommer self. Ja, right! Selfs terwyl ek hierdie skryf, dink ek hoe absoluut feeble hierdie eintlik is. Wie gaan nou juis van my gewroeg en gesweet wil weet? Wie gaan ‘n hel omgee oor my karakters en wat met hulle gebeur? Nobody cares!
Ek soek desperaat na inspirasie by dié wat wéét. William Faulkner sê as jy wil skryf, moet jy lees (terloops, dis wat Deon Meyer en Jeffrey Deaver ook sê). Sover slaan ek heeltemal die spyker op die kop met daai een. Katherine Mansfield sê om enige iets te skryf, is beter as om niks te skryf nie, selfs al is dit nou nie aardskuddende goed nie. John Steinbeck sê, vat dit ‘n bladsy op ‘n slag. Ek kom nie eers sover nie. F. Scott Fitzgerald sê mens moenie skryfwerk en alkohol meng nie. Oookaaay….
So bly ek worstel met die woorde op die papier. Ek soek verbete na daardie idee of gedagte wat ‘n fontein van wonderlike woorde gaan laat opborrel wat soos flinders oor die papier sal dans. Ek het hom nog nie vasgepen nie. Ek dink ek soek dalk te hard.
En ek maak kos. Ten minste kan mens dit darem eet, dus nie verspulde tyd nie.
Jeffrey Deaver sê, hy kry sy idees deur vir ‘n lang ruk in ‘n donker kamer te sit en te dink aan ‘n idee wat sy lesers sal meevoer. Clive Cussler sê hy doen aktief navorsing oor geskiedkundige gebeure, wat hy in ‘n moderne konteks kan plaas. Karin Slaughter sê die idee kom sommer so mettertyd in haar gedagtes op.
Intussen lees ek maar. Dit gee my tog ook plesier EN dis wat die skrywers mos aanraai mens moet doen. En ek maak kos. Ten minste kan mens dit darem eet, dus nie verspulde tyd nie.
Wat ook al jou skeppende uitlaatklep is, vertroetel dit. ‘n Deskundige op die gebied van kreatiwiteit, Dr. Carrie Barron, wat mede-outeur van die boek “The Creativity Cure” is, sê dat navorsing bewys dat daar ‘n sterk verband tussen kreatiewe uitdrukking en algehele welsyn is. Kreatiwiteitsnavorser Dr. Shelley Carson sê om skeppend te wees verhoog positiwiteit, wat kan help met probleemoplossing.
In hierdie tye waarin ons leef, en in hierdie ou landjie waarin ons woon, kan meer positiwiteit en algehele welsyn nooit ‘n slegte ding wees nie. Wie weet, dalk moet hulle gereelde vingerverf-klasse in die parlement aanbied?
Ilse Smalberger woon in Kimberley in die Noord-Kaap saam met haar man en katkinders. Ilse groot liefdes (behalwe vir haar familie natuurlik) is kosmaak, lees van spanningsverhale, blokkiesraaisels, Sauvignon Blanc, internasionale nuus, pizza, sport, Rafael Nadal, die see en resepteboeke. Sy hou nie van mense wat diere mishandel of ongeskik is met kelners nie. Bedags skryf sy kopie, doen vertalings, proefleeswerk en af en toe lees sy die nuus op OFM, Sentraal Suid-Afrika se grootste radiostasie.
Wel Ilse, dit was heerlik om hierdie stuk te lees. Doen so voort…
LikeLike
Baie dankie! Ek waardeer.
LikeLike