Afrikaans Rubrieke

“Huiswerk!” deur Cathy de Lange

Twaalf jaar lank swoeg en sweet mens deur jou skoolloopbaan. Dit voel of jy nooit gaan klaarkry nie. As ek nou terugdink was dit egter als in ‘n oogwink verby. Natuurlik voel jy nie so as jy nog nie daar is nie! My oudste meisiekind het hierdie jaar met nommer vyf van haar 12 jaar lange reis deur haar skoolloopbaan begin, en ek wil vir jou sê, moenie dink die “óú standerd drie” is waarmee ons hier te doen het nie. Aikôna.

Kyk, my gunsteling vak op skool was loshande pouse. Tweede gunsteling miskien Huishoudkunde (en dan ook net op die dae wat ons iets lekkers gemaak het wat ons dan in pouse kon eet!).

Ek was nie – en is nog steeds nie – baie groot op Wiskunde nie, om van Skeinat nie eers te praat nie! Dus, die gedagte aan “nuwe Graad 5” huiswerk wat elke aand sou huis toe kom en waarmee ek sou moes help – het my so effe onrustig gestem.

Ek onthou die vakke wat ons gehad het in standerd twee as Afrikaans, Engels, Gesondheidsleer en Wiskunde. Dis al wat ek kan onthou, of lieg ek nou? Jy moet verstaan dis darem many, many… MANY moons ago. Oud voel hierdie tannie nou. Hierdie jaar sit my ou standerd drie’tjie met Afrikaans, Engels, Wiskunde, Sosiale Wetenskappe, Natuurwetenskap, Tegnologie en Skeppende Kunste. ʼn Hele bleddie mondvol.

Ek was ‘n koshuisbrak, so ek moes maar meeste van die tyd self sien-kom-klaar met huiswerk. As ek nou terugkyk was dit dalk ‘n goeie ding, want dit leer jou baie gou om op jou eie voete te staan en jou dinge gedoente te kry.

My dogtertjie, vermoed ek, sal ook heel goed regkom om dinge op haar eie te doen, maar mens kan ook seker nou nie die ou bloedjie aan haar eie genade oorlaat nie. Hier is nou net waar my dilemma sit. Behalwe vir die feit dat ek nou nie juis ‘n akademiese uitblinker op skool was nie, is my geduld ook nou nie een van my beste eienskappe nie…

Ek dink kinders is soveel meer aanpasbaar as wat ons dink. ʼn Bonus is natuurlik ook dat hulle nog honger is vir leer! Ons grootmense verleer daai ding iewers langs die pad.

So my vrees het bestaan uit twee dele: nommer een, gaan ek ooit verstaan wat die kind vir my vra? Wat as ek moet help met huiswerk, maar nie ‘n clue het van wat die werk behels nie? En nommer twee, gaan ek geduldig genoeg wees om te kan help?

Hierdie klink dalk na onbenullige dinge om oor bekommerd te wees, maar die vet weet in vandag se gejaagde lewe sukkel ons al klaar om als gedoen te kry. Waar maak mens plek vir al die nuwe dinge?

Ek moet tog vir my 10-jarige ystertjie krediet gee – die ou girl verbaas my nogal! Ek dink kinders is soveel meer aanpasbaar as wat ons dink. ʼn Bonus is natuurlik ook dat hulle nog honger is vir leer! Ons grootmense verleer daai ding iewers langs die pad.

So hier is ons nou, amper aan die einde van die vierde kwartaal van 2018, en ek kan met groot oorgawe sê: ons het dit oorleef! Al was dit ʼn besige, hardloop-rond-soos-afkop-hoenders tipe jaar, het ons dit gemaak. Nou moet ek nog net middel-kind se Graad 2 jaar oorleef en my klein dawerende driejarige se ek-wil-alles-self-doen-stadium oorkom, dan kan ek al amper sê ek weet as mamma, so effens wat de hel ek doen. Amper.


 

CathyCathy de Lange skryf oor dinge wat haar laat lag, rustig maak, bekommer, laat wonder en sommer net haar hart verheug of hartseer maak. Sy is ‘n voltydse werkende mamma van drie, en haar passie lê by vroue en mammas. Om hulle weer lief te maak vir hulself en hul selfwaarde te laat besef. Om die mooi en spesiaal van vrouwees weer na vore te bring. En om vroue en ma’s te laat besef dis soms oukei om nié oukei te wees nie. Jy kan énige iets doen, maar jy kan nie álles doen nie! Nadat ‘n vlog oor haar “mamma-lyf” viral gegaan het, het sy ’n Facebook-blad begin, VrouFees.  Dis nou al ‘n gemeenskap van meer as 11 000 mense wat saam kuier. Cathy tree gereeld op as gasspreker by funksies regoor die land. Sy is verslaaf aan pienk, en vrek oor haar man en kinders. Sy kan nie verby ‘n mooi paar oorbelle loop nie en haar man dink sy het te veel skoene. (Hy is reg).

Besoek en gaan “like” gerus Cathy se Facebook page, VrouFees. As jy graag haar vlog wat viral gegaan het wil sien, kliek hier.

0 comments on ““Huiswerk!” deur Cathy de Lange

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: