Dit is nou een jaar en drie maande vandat my kleindogter gebore is. Ek sit soms en wil skryf wat in my hart is, maar die woorde kom nie by my vingers uit nie, want die gevoel is net te groot. Ek het nooit geweet dit sal presies só wees nie. Om ‘n kleinkind te hê nie. Dis wragtig nie vir sissies nie.
Dit word mens se opstaan gedagte en mens se gaan slaap gedagte. Is sy okay? Eet sy of drink sy genoeg? Is haar ma okay, want gister wou sy weer nie slaap nie. Sy moet tog net nie siek word nie, want hulle bly op ‘n plaas, ver van die naaste hospitaal af. Noudat sy loop en op alles klim, moet sy tog net nie val en haar kop stamp nie.
Verlede week was daar hierdie massiewe kobra buitekant op hulle sitkamer se vensterbank.
My dogter het dit net betyds gesien voordat hulle wou gaan buite speel. In die stad worry oumas oor misdaad en ongelukke. Op ‘n plaas worry ‘n ouma oor slange en spinnekoppe en ook nog oor misdaad en ongelukke. Oumas worry. Altyd.
Ek het nooit in die verlede gedink ek moet NOU kleinkinders hê nie, want vir my is dit my kinders se besluit of hulle wil kinders hê of nie. Ek wou nog nooit daai ma wees wat heeltyd inmeng en heeltyd vra wanneer kom daar ‘n kleinkind nie. Ek het gedink dis maar okay as daar dan nou ook nie een is nie.
Ek het SO nie geweet ek gaan heeltemal, versotlik, belaglik verlief raak op so ‘n stukkie mens wat nog nie eers behoorlik weet wie ek is nie. Dat ek gaan smelt met elke foto wat ek kry en elke video oor en oor gaan kyk.
Want nou is ek mos nog ver ook en kan ek nie sommer net gou oorry en haar vashou of bietjie help nie. Ver, soos in 600 km ver. Ek weet nie hoe oumas wat 6000 km ver is, dit uithou nie.
Ek het die Interkaap busskedule leer ken asof dit ‘n vertroude resep is van iets wat ek daagliks maak, want met petrol wat duurder as melk is, is dit al hoe hierdie ouma gereeld kan gaan kuier.
Ek spring gou op ‘n Woensdagaand op die bus en kom die Sondagaand weer terug. Busry hou mens ook nederig, want jy leer dat nie almal sommer net ‘n motor het waarmee hulle kan ry waar en wanner hul wil nie.
Nou die dag het ‘n vriendin vir my ‘n baie ware ding gesê. Dat dit erger is as toe jy jou eie kinders gehad het. En dan ook dat dit later beter word wanneer hulle groter is. Oor die laaste deel sal ons maar moet sien.
Ek weet nie waddehel ek sou doen sonder vandag se tegnologie nie.
Want oor ‘n gewone telefoon kan mens nie ‘n gesiggie sien, of ‘n video kyk nie. So ja, dis nou die een keer wat niemand vir my moet vertel tegnologie is boos nie. Tegnologie is uitgedink vir vêr oumas en oupas.
Ek kan nie wag om vir haar stories te kan vertel en haar op merry-go-rounds te vat (ja, want ek is nie die truitjies brei tipe ouma nie), en haar sommer net die lewe se mooigeit, lafgeit en lekkergeit te wys nie. Ek het NOOIT geweet dit sal SO wees nie. My hart en al my binnekant dra ek nou buite my lyf. Vir nog ‘n 20 jaar of meer.
Anne-Marie Taylor is versot op waatlemoen en sjokolade. Sy hou nie van roomys nie en nog minder van kosmaak, maar sy sal al jou skottelgoed was as jy vir haar sal kosmaak.
Sy woon buite Stellenbosch in ‘n klein huisie op ‘n wingerdplaas en werk by die WNNR. Sy doen vryskut vertaalwerk (Afrikaans na Engels en vice versa) vir maatskappye en proeflees verslae. In haar vrye tyd, wanneer sy nie werk of Karoo toe ry om vir haar kleindogter te gaan kuier net buite Aberdeen nie, skryf sy.
Elke woord wat jy skryf is waar. My suster sê as sy geweet het dis so lekker om kleinkinders te hê sou sy hulle eerste gekry het😁
LikeLike
😀 😀 – maar oumas kry net die lekker deel 😉
LikeLike
Dis regtig alles waar! Ek gee hulle wel en wee elke dag vir die Here want ek is baie pieperig oor hulle. Ek weet Hy sal hulle veilig lei op die ver paaie wat hulle voetjies nog moet loop…
LikeLiked by 1 person
My ma het ook altyd gesê sy gee ons almal soggens vir die Vader en dan gaan sy aan met haar dag. Ek probeer ‘n blaadjie uit haar boek vat 🙂
LikeLike
Ek het nou nie kinders of kleinkinders maar dit lyk so lekker… 🙂 en kleinkinders is goedkoper want jy hoef net mooi goedjies te koop en doeke is nie eintlik op jou lysie nie
LikeLike