Nou voordat ek my storie vertel, wil ek net aan jou verduidelik (ingeval jy nie weet nie) wat die Wildepiesang is. Die Wildepiesang is nie ‘n piesang wat kaal rondhardloop by Mardi Gras nie, nee, dis ‘n boom.
Ek het wel gedink dis ‘n struik, maar Wikipedia het my reggehelp. Die Wildepiesang kan tot 10m of meer groei, en 4m wyd, dit dra blomme wat tot 50cm lank word (ja, dis langer as jou skoolliniaal), en die blomme lyk amper soos die van die strelitzia.
‘n Maand gelede is die order gegee om die Wildepiesangbome in my tuin te kom uithaal. Dit moet afgekap en ontwortel word. Alles moet verwyder word.
My hart het ‘n bietjie gebreek, net ‘n bietjie (vir eers) want sien ek gee nie die orders nie (ek is ‘n huurder) en ek is van die Vrystaat af, Bloemfontein spesifiek, en daar groei die Wildepiesang en die Strelitzia nie soos bossies (bosse) nie.
Gister het Oom van Zyl* my al vroeg by die werk gebel. Hy wou uiteindelik die Wildepiesangbome kom uithaal. My hart het so bietjie gesink en ek het vir hom gesê: “Oom, ek is twee-uur by die huis”. Hoekom ek twee-uur gesê het, as ek eers twee-uur mag loop, sal net ek weet…
‘n Pleister sou hierdie nie kon regmaak nie. Ek dink hy kon op my gesig sien dat dit letterlik lyk of ek nou net bollie geruik het.
Ek en my Duif het gestop, handsak gegryp en vinnig nader gestap: “Sorry Oom, sorry julle moes wag, ek’s laat.”
“Nee dis niks nie, ons het sommer die Wildepiesang begin uithaal terwyl ons gewag het.”
Ek weet nie wat het ek gedink toe ek oor die muur loer nie, (dalk gedink die bome staan nog en hy het net ‘n grappie gemaak) en al wat ek verstommend kon uitkry was: “Dis weg!” Oom van Zyl was heel in sy noppies met die hele affêre, en al wat ek in my kop gehoor het was die kraak en geskree van die Wildepiesangbome. ‘n Pleister sou hierdie nie kon regmaak nie. Ek dink hy kon op my gesig sien dat dit letterlik lyk of ek nou net bollie geruik het.
Daar is nou ‘n oop kol in my erf. Die oop kol waar die Wildepiesangbome eers gegroei het. ‘n Plek waar die geitjies gewoon het en die voëls nektar gedrink het. Die Wildepiesangbome is weg en die bure kan ons nou sien wanneer ons braai of net ‘n koppie koffie drink.
Dis nou oop.
Vanoggend besef ek dat my gebede dalk gehoor was, toe ek gevra het laat bome bly staan. Ja, die bome is uitgehaal, maar ek het dit nie gesien nie en ook nie gehoor nie. Ek was salig by my werk besig om ‘n prentjie op die rekenaar te teken.
Die bome was nooit myne nie, ons kan nou nie keer vir ander mense se orders nie, maar ons kan nogsteeds ‘n koppie koffie geniet terwyl die bure vir ons kyk.
*Skuilnaam is gebruik
didi skryf soms en ander kere klim sy berge uit, in haar kop en in Suid-Afrika. Sy het een hond en baie vetplantjies. Sy het al genoeg getrek om te weet dat niks permanent is nie.
Hoe goed beskryf didi die magteloosheid van ‘n huurder – mag sy eendag op haar eie plek soveel wildepiesangs plant as wat sy wil!
LikeLike
Ek hoor jou, ek hoor jou. Vir omtrent 20 jaar het daar so ‘n boom by my voordeur gestaan, en al die tyd wou my man hom uithaal. Hoekom, weet ek nie.
My man het gewen.
LikeLike