Vir jare al sukkel ek gereeld met nagmerries. Ten minste elke tweede nag kry ek dieselfde nagmerrie: ek word aangeval in my woonplekkie. Wat snaaks is, is die feit dat ek nog nooit so wreedheid teenoor myself ervaar het nie. Dit gebeur mos net altyd met ander mense. Tog droom ek dit keer op keer en voel dis ‘n werklikheid as ek wakker skrik in ‘n nat sweet.
Elke dag lees ek egter van aanvalle op onskuldige mense. Plaasaanvalle, kleinhoewe-aanvalle, doodgewone huis-aanvalle, kapings. En as ek dit nie lees nie, hoor ek daarvan in ons twee-uur lange pendel tussen huis en werk bedags. ‘n Wrede aanval, byvoorbeeld in die buurt net oorkant ons aan die anderkant van die rivier. Die aanval was uitgevoer deur kinders. Die huiseienaar wreed met ‘n mes gesteek.
Dankie tog hy leef nog. Dit kon soveel erger gewees het.
Gister weer ‘n ou oom op sy plaas aangeval en kookwater oor sy kop uitgegooi.
Dankie tog die krag het afgegaan terwyl die ketel besig was om warm te word, die oom leef nog.
Vroeër die jaar in dieselfde area naby ons, is ‘n dokter en sy vrou wreed aangeval deur ‘n persoon in hul huis in die vroeë oggend ure. Danksy ‘n teekoppie en ‘n tee-trollie, kon die ou mense hulself verdedig.
Dankie tog hulle leef nog. Dit kon soveel erger gewees het.
Twee maande gelede is ‘n kollega se oom in dieselfde buurt (die luukser deel van die buurt) wreed vermoor met ‘n byl deur sy tuinwerker van 11 jaar, en dié se seun. Ons vermoed die oom het ingedut op die bank voor die TV waar hy met ‘n byl oor die kop dood geslaan is.
Dankie tog hy was (hopelik) aan die slaap tydens die aanval, en het nie die wreedheid besef nie.
Gister kom een van ons skoonmakers om te vra of hy huis toe kan gaan. Sy broer is pas voor sy vrou en klein kinders in sy taxi doodgeskiet.
Dankie tog die vrou en kinders het niks oorgekom nie. Dit kon soveel erger gewees het.
Vir my, persoonlik, is dit net iets wat met “ander” mense gebeur. Ek lees daarvan, ek hoor daarvan, maar ek ken nooit die mense persoonlik nie. Wat dit half laat voel asof dit net ‘n storie moet wees. Want wie kan so wreed teenoor ‘n ander mens optree?
Voorverlede Sondag bel ‘n vriend my. Sy 18-jarige dogter se kêrel en sy gesin is op hul plaas aangeval. Die pa is nege keer van agter geskiet.
Dit raak nou al hoe meer werklik. Dit tref al hoe nader. Dis nie meer net met “ander” mense nie. Tog, ek het nog nie die kêrel ontmoet nie, en dit voel soos net nog ‘n storie.
‘n Paar dae later sien ek die artikel in die koerant wat handel oor die aanval. Ek lees. Ek raak bang. Nog steeds vreemde mense, maar die video waarin die matriek outjie vertel wat gebeur het, laat koue rillings teen my rug afloop.
Ek weet sommer my nagmerries gaan meer word. As ek met nagmerries sukkel net oor stories wat ek lees en hoor, kan ek my net indink wat hierdie mense moet deurmaak om dit te probeer verwerk.
‘n Paar ure later ry ons by ‘n baie duur kompleks langs die Hartebeespoortdam in om die dogter af te laai vir ‘n kuier. Die seun en sy gesin weier om terug te gaan plaas toe, en woon in ‘n vriend se huis tot hulle ‘n ander woonplek kan kry.
Ek herken die jong man van die oggend se video onmiddellik waar hy voor die huis staan en wag vir ons. Hy groet met ‘n stewige handdruk, met die grootste glimlag op sy gesig. Sy jonger sussie staan met ‘n pop langs hom. Haar lang hare verberg byna die skaam glimlag toe sy vriendelik groet. Die ander, nog jonger sussie staan effens meer agtertoe en groet. Ek sien nie veel nie. Soveel emosies oorval my terwyl die jong man my groet.
Wanhoop, omrede dit ‘n daaglikse ding in ons land is en ons regering weier om te erken dat daar ‘n probleem is.
Trots, vir hierdie jongmense wat weier dat dit hul onderkry.
Hartseer, omrede dit nog “early days” is, en hulle vir die res van hul lewe moet saamleef met dit wat met hulle gebeur het.
Terwyl ons ‘n paar goed uit die kar laai vir die kuier, gesels ek met die outjie. Simpatiseer… Vra uit hoe dit met sy pa gaan (hy is die vorige dag ontslaan na twee weke in die hospitaal).
Hy gesels terug asof ons oor die weer gesels. Praat oor die berading wat hulle kry. Waarheen hulle beplan om te trek van die plaas af…
Terwyl ons wegry met die jongmense wat in die pad staan en waai vir ons, tref dit my soos ‘n vuishou: Ek het vir die eerste keer in my lewe iemand ontmoet wat deel vorm van ons land se plaasaanval statistieke. Dis nie meer net ‘n storie nie. Dit tref hard. Diep!
Ek weet nie eintlik wat ek verwag het van die ontmoeting nie. Mense in sak en as? In trane? Histerie? Hoe VOEL mense wat deur so iets moet worstel? Hoe oorleef hulle dit? Hoe cope hierdie jongman? Op 18-jarige ouderdom, waar sy lewe voor hom lê, was dit byna die einde van sy lewenspad. Daar was drie skote op hom ook afgevuur in die gang van die plaashuis. Goddank, nie een het hom getref nie. “Hulle is baie slegte skutte…” Sy woorde aan die koerant die oggend.
Die ontmoeting spook vir dae by my. Ek bly dink aan die kinders. Die skaam glimlag agter die lang hare. Die vriendelikheid van die jong man. En iewers in die huis ‘n oom wat met nege skote in sy liggaam oorleef het…
Dankie tog die oom het oorleef, tesame met almal in die huis daardie dag.
Ek het sedert die ontmoeting nog nie weer ‘n nagmerrie gehad oor ‘n aanval nie. Dalk het my onderbewussyn besef die nagmerries kom my eintlik nie toe nie.
Wat ook al die rede, ek is dankbaar daarvoor.
En dis wat ons in Afrika doen. Ons oorleef. En wanneer ons nie oorleef nie, is ons dankbaar. As ons vrouens verkrag word, is ons net dankbaar dat hulle nie dood is nie. As hulle dood is, is ons net dankbaar hulle is nie verkrag voor hulle vermoor is nie. Of ons is dankbaar dat hulle nie gely het nie. As ons gekaap word, is ons net dankbaar ons is vrygelaat. As ons honde vergiftig word, is ons dankbaar die mense het nie seergekry nie. As ons met geyser-water gebrand word, is ons net dankbaar die krag was af en die ketel kon nie kook nie, aldus die minder ernstige brandwonde…
Maak nie saak wat gebeur het nie, ons is altyd dankbaar vir iets.
“Dit kon erger gewees het…” Altyd.
Afrika is nie vir sissies nie.
Dis ‘n wrede plek. Maar ons probeer oorleef, met dankbaarheid.
Kerneels droom daarvan om die land se paaie plat ry met sy kar of motorfiets (enigiets met wiele). Om fotos te neem van sy reise en eendag saam met sy stories in ‘n boek te plak. Wanneer hy egter nie drome droom nie, werk hy as ‘n sisteem-bestuurder vir ‘n flexo-grafiese maatskappy. Hy is oortuig daarvan dat hy die mees interessante werk op aarde het. Hy woon in Vereeniging, waar hy en ‘n vriend ook deeltyds met chilli’s boer wat hulself inlê en verkoop onder die handelsnaam, The Little Pickle Co.
‘n Lekkerlagstorie. En toe ek klaar gelag het, wil ek huil
LikeLike