Afrikaans Rubrieke

“Dis Daai Tyd Van Die Jaar” deur Christo Olivier

Dis weer daai tyd van die jaar. ‘n Tyd waaroor ek gemengde gevoelens het. In plaas van afskakel, net weer ‘n bietjie tot verhaal kom, is dit asof ‘n soort einde-van-die-jaar-malligheid jou wil insluk terwyl jou hele jaar se voorraad geduld reeds opgebruik is.

Ek weet nie wie die skrywer is nie, maar een van die WhatsApp-boodskappies wat tans rondvlieg, som dit mooi op : “Desembermaand is genoeg-gehad-maand. Ons is moeg van werk, van mense, probleme en krisisse. Ja, ons is selfs te moeg om nice te wees.” Ek weet eintlik die hele jaar is ‘n gejaag — al weet ek nie altyd waarna of waarheen nie, maar juis daarom begin mens al amper hier van Oktober af die tyd omwens, en wanneer die jaar afdraand begin loop, smag mens na wegkom van alles af.

As November boonop na sy asem begin snak, liggies aan kersbome begin flikker en Jingle Bells die meeste winkels se nommer een keuse op die trefferlys is, dan dreun Hartenbos se branders al harder in jou ore en wil jy nie meer hoor van spertye, werksverliese, die petrolprys, beurtkrag en hoe naby die land aan ‘n afgrond is nie.

Desemberkoors kan jou perspektief laat verloor, die verskil tussen dìe wat het en dìe wat nie het nie nog verder laat uitstaan.

Talle kers- en einde van die jaar partytjies bied ook nie veel troos nie. Dit swaai eerder net die geelwortel van sonskyn, blou branders, bruin lywe en vleisbraai langs die see al meer onder jou neus. Dit jaag spoke op van presente wat gekoop moet word al weet mens die meeste van die tyd nie eers wat om te gee vir iemand wat reeds min of meer alles het nie.

sabri-tuzcu-495674-unsplash.jpg

En net om die pap nog so bietjie dikker aan te maak gooi winkels Black Friday ook nog in die pot, so asof hulle vir mense wil sê ons help graag om jul bonusse te spandeer.

Desemberkoors kan jou perspektief laat verloor, die verskil tussen dìe wat het en dìe wat nie het nie nog verder laat uitstaan. Lui-lekker dae langs die see, sandkastele bou en biertjie in die hand, is nie vir almal beskore nie. Vir baie beteken dit waarskynlik eensaamheid, baie vrae, min antwoorde en die naaste aan enige geskenk is om met jou neus teen die glas van die winkelvenster daarna te kyk. Van “Joy to the World” is daar geen sprake nie.

Ek kom juis nou die dag af op iets wat Nataniël lank terug êrens geskryf het. Hy sê: “Tussen al die histeriese inkopies en ongelooflike bedrae geld wat spandeer word, en kinders wat vertel van ouers wat goedkoop wyn langs woonwaens verslind, kan die mooiste verpakkings en die blinkste strikke bloot nie meer die blydskap wat daar eens was, optower nie.” Toegegee, dit geld seker nie vir almal nie en buitendien kan elkeen seker maar op sy eie manier van sy sorge vergeet en aan sy vrolikheid uiting gee. En tog.

Hoekom verlang ek hierdie tyd van die jaar al meer na stilte, wil ek dieper in my dop kruip?

Miskien het dit iets te doen met kerstyd wat volgens Dr Braam Hanekom ‘n vermoeiende tyd geword het. Dat ons dinge ‘n slag eenvoudiger moet maak. Dis soos Josef en Maria begin het. In eenvoud. In ‘n stal, waarskynlik net met ‘n paar kerse.

shallow focus photography of religious figurines
Photo by Jessica Lewis on Pexels.com

Hulle het nie kontakte gehad of toutjies getrek om êrens in ‘n gastehuis plek te kry nie. Iets daarvan voel ek het ook eeue later afgespeel in die St Nicholaskerkie in die klein dorpie Oberndorff in Oostenryk. Ek weet nie hoe groot daai kerkie, weggesteek in die Alpe is nie, of hoeveel mense die diens op Oukersaand 1818 bygewoon het nie, maar ek het al dikwels gewonder of daar kerse gebrand het en wat hulle reaksie was toe Franz Gruber en Joseph Mohr saam met ‘n klein koortjie die lied “Stille Nacht” die eerste keer met kitaarbegeleiding gesing het.

Het dit iets in die mense wakker gemaak, hul anders oor kersfees laat dink? Het hulle dalk die melodie geneurie terwyl hul met dik jasse in die sneeu teruggestap het na hulle huisies waar kaggelvure gebrand het om die koue te help verdryf?

Ek lees êrens dat Mohr en Gruber albei nederige en eenvoudige mense was wat nie veel van die lied verwag het nie, want volgens ‘n kersfeeskundige, Bill Egan, het ‘n orrelbouer, Karl Mauracher, wat soms herstelwerk aan die orrel moes doen eers jare later ‘n kopie van die lied daar sien lê, dit huis toe geneem en kon die eenvoudige kerslied sy reis om die wêreld begin.

Dalk kan ek nog een oukersaand in daai kerkie sit en iets meer ervaar van die vrede en welbehae wat die Kerstyd veronderstel is om te bring. Vir nou moet dit egter eers net ‘n droom bly en sal ek in hierdie stukkende land van ons die beste van Koos du Plessis se Somerkersfees probeer maak.

Hopelik sal daar wel êrens ‘n paar klokke beier, en as ek mooi luister vertel die nagtelike swye dalk tog iets van die ou verhaal.

 


ENKELFOTO 4

Christo Olivier is ‘n Vrystater gebore en getoë, ‘n ietwat private mens wat hou van stilte en lief is vir die Vrystaatse vlaktes, maar ook die berge en die see.

Hy was van kleins af bietjie van ‘n dromer, maar baie bevoorreg om twee van sy groot liefdes – sport en uitsaai – vir meer as 40 jaar te kon uitleef. Dit het hom instaat gestel om drie Springbok-rugbytoere oorsee mee te maak en selfs een jaar van Wimbledon af uit te saai.

Hy saai nog bietjie uit vir Supersport, lees graag, speel bietjie tennis en bring tyd saam met sy twee dogters en drie kleinkinders deur. Vis, skaapboud en frikadelle is van sy gunsteling kossoorte.

1 comment on ““Dis Daai Tyd Van Die Jaar” deur Christo Olivier

  1. Raak geskryf. Baie dankie

    Like

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: