Saterdagoggend
Dis nog donker toe sy saggies opstaan en badkamer toe gaan. Sy sien nie nou al kans vir ‘n winddronk Rico nie. Gisteraand al die pad terug van die braai af, het hy derms geryg oor haar optrede.
“Waar was jy so lank toe jy Coke gaan haal het? Wat het jy en Michael in die kombuis gepraat?”
En aan, en aan, en aan.
Sy het al geleer om af te skakel. Dit help nie eers sy antwoord nie. Die vrae en verwyte hardloop tog net bo-oor haar antwoorde. Sy het haar kop weggedraai en die nag ingekyk, sy tirade oor haar laat spoel. Die volgende oomblik het die klap haar kop hard teen die ruit laat kap.
Vir ‘n oomblik het sy gedink hulle is in ‘n ongeluk. Toe gewens dit was ‘n ongeluk. Een waarin Rico doodgaan. Maar dronk mense het meer beskerm-engele as nugter mense. Skei kan sy ook nie. Hy sal haar nooit in vrede los nie en sy vertrou nie die regstelsel of interdikte nie.
Dis toe sy opkyk en haar gesig in die spieël sien, dat sy besluit.
Vrydag, ses weke later
Die afgelope ses weke het dit so goed gegaan soos die eerste ses maande van hul huwelik. Sy het alles menslik moontlik gedoen om Rico nie kwaad te maak nie. Toe sy hom vanoggend vertel sy is swanger, was hy buite homself van blydskap. Dis nou al ‘n jaar wat hy kerm vir ‘n kind, maar sy het nog altyd vasgeskop. Daaroor pakslae gekry ook.
Toe sy voorstel hulle gaan braai en vier dit more by die waterval op oom Hentie se plaas, en daarna kan hy self die hele wêreld vertel hy gaan pa word, is hy so bly dat haar moed haar amper begewe.
Saterdag
Wyn het Rico nog altyd lomerig gemaak en na die ete en twee bottels wyn, lê hy uitgestrek op die kombers en slaap. Sy staan lank na hom en kyk voor sy wegloop, in die rigting van oom Hentie se byekorwe.
Saterdag, ‘n week later
Dis ‘n groot begrafnis. Min mense het die kant van Rico geken waarin sy gereeld vasgeloop het. Sy sjarme het mense na hom aangetrek, vir haar ook destyds. Dis eers toe sy oorleun om die roosblare te strooi dat die trane kom. Oom Hentie ondersteun haar. Hy is nog heeltyd aan haar sy. Maak nie saak hoeveel keer sy hom al verseker het dis nie sy skuld nie, hy voel indirek verantwoordelik.
“Ai, kinta, as jy nie by die waterval gaan afkoel het nie, het die bye jou ook toegetakel. Ek sou myself nooit kon vergewe nie. Ek sal nooit verstaan wat in die bye ingevaar het nie.”
“Oom Hentie, as iemand moet skuld dra, is dit ek. As ek nie by die waterval sit en droom het nie, sou ek Rico dalk betyds by hulp kon kry en sy lewe kon red. Ek wonder of hyself ooit geweet het hy is allergies vir bye. Dis tog iets wat mens vir jou vrou behoort te vertel.”
***
Sy is bly toe die laaste begrafnismense groet.
Dis eers later, toe sy in ‘n warm bad agteroor lê, dat sy haar gedagtes toelaat om die loop te neem. As haar pa nog gelewe het, sou hy kon vertel dat die bye nooit vir haar ‘n bedreiging was nie. Duidelik onthou sy haar pa en Rico se gesprek, daardie dag lank gelede, kort na sy Rico leer ken het.
“Jy moet mooi na my meisiekind kyk, Rico. Na haar ma se dood, is sy al wat ek oor het. Sy is haar ma uitgeknip. Al wat sy van my geërf het, is ‘bee charming’.”
“Oom, ek sal haar soos goud oppas. Ook maar goed sy is ‘n ‘bee charmer’, want een bysteek, en ek is in die hospitaal. Twee bysteke, en ek is bokveld toe.”
Sy sak dieper af in die warm water en vryf oor haar plat magie, wat nou plat gaan bly. Rico het nie sy belofte nagekom nie, hy het haar nie soos goud opgepas nie. Sy het egter wel die bye gevlei, al was dit nou nie heeltemal soos hy dit sou wou hê nie …
Anne-Marie Taylor is versot op waatlemoen en sjokolade. Sy hou nie van roomys nie en nog minder van kosmaak, maar sy sal al jou skottelgoed was as jy vir haar sal kosmaak.
Sy woon buite Stellenbosch in ‘n klein huisie op ‘n wingerdplaas en werk by die WNNR. Sy doen vryskut vertaalwerk (Afrikaans na Engels en vice versa) vir maatskappye en proeflees verslae. In haar vrye tyd, wanneer sy nie werk of Karoo toe ry om vir haar kleindogter te gaan kuier net buite Aberdeen nie, skryf sy.
0 comments on ““Bye Vleier” deur Anne-Marie Taylor”