Afrikaans Rubrieke

“Yoga – ’n pyn sonder enige plesier” deur Tanya van Buuren Botma

Elke nou en dan steek die een of ander grillerige modeneiging of belaglike Hipster-beweging kop uit om die mensdom vir ’n bepaalde tydperk te kom versuur.

Gewoonlik wag ek maar geduldig vir hierdie giere om vanself oor te waai, maar daar is nou al ’n geruime tyd ’n spesifieke een wat maar net nie wil wyk nie en, tot my spyt, al hoe méér aanhang kry: Yoga.

Daar is nie genoeg vloekwoorde in al 6 500 tale op aarde wat kan beskryf hoe baie ek Yoga verafsku nie. Hoewel ek nog net twee klasse in my lewe bygewoon het – die een was vir “absolute beginners” en die ander een was “advanced Vinyasa”, kan ek nie tussen die twee onderskei nie, want albei was ewe godsonmoontlik.

In mý wêreld (wat terloops die “regte wêreld” is en nie een waar jy towerspreuke neurie op ’n matjie nie) is daar niks minder ontspannend en meer stresvol as Yoga nie.

Ek wil mense met die vuis slaan wanneer ek uit daai klas hinkepink. Ek vermoed dit is allermins die toonbeeld van “zen” om vreemdelinge fisiek te wil aanrand.

Nie net word jy beveel om jou liggaam te buig in posisies wat nie eens die vervaardigers van “The Exorcist” met spesiale effekte kon bemeester nie, maar terwyl jy dit doen word jy boonop deurgaans met die Yogi (die persoon wat die klas aanbied) se selfvoldane houdinkie gekonfronteer. Hulle is tog só zen en “een met die heelal”. Hoe durf jy dan as lomp sterfling sonder enige soepelheid hul klas kom ontwrig?

Die enigste posisie wat ek elke keer met oorgawe doen is Shavasana  (“the corpse”), wat behels dat jy plat op jou rug moet lê. Ek is nogal trots op myself oor my onverbeterlike tegniek met daai een. Dit is die enigste posisie waarmee ek nooit ten aanskoue van die hele klas reggehelp moet word nie.  

Terloops; die laaste Yogi by wie ek klas gekry het was lekker oorgewig, waarmee ek glad nie ’n probleem het nie, maar dit bevestig ook net my vermoedens dat Yoga nie so fantasties is vir die figuur nie.

As Yoga dus nie lekker of ontspannend is nie, die bewegings wat jy moet uitvoer nooit bedoel was vir die menslike liggaam om uit te voer nie en dit jou ook nie help om gewig te verloor nie, hoor ek jou vra wat dan die voordele daarvan is?

Ongelukkig kan ek nie help met daardie antwoord nie, maar hier is nog ’n paar nadele:

– Behalwe vir die 6500 tale op aarde het die Yoga gemeenskap hulself aangematig om sommer nog ’n taal te skep – een wat jy sal moet leer ter wille van jou Karma. Ná afloop van elke klas gaan jy byvoorbeeld vir die Yogi moet “Namaste” sê wat “dankie” beteken so asof jy die laaste 45 minute ’n guns gedoen is. Dan is daar ook terme soos “Om”, “Asana”,  “Pranayama en “Shanti”. Dit klink so pretensieus, want dit is so pretensieus.

– Die Yogi gaan jou beveel om die volksvreemde posisies van “cow face”, “pigeon”, “reverse warrior” of “upward facing dog” in te neem en dan beter jy dit doen of jy nou weet wat dit is of nie. Selfs al voel dit of jou stuitjie in twee skeur, “three-legged dog” sal jy “three legged dog”. Die enigste posisie wat ek elke keer met oorgawe doen is Shavasana  (“the corpse”), wat behels dat jy plat op jou rug moet lê. Ek is nogal trots op myself oor my onverbeterlike tegniek met daai een. Dit is die enigste posisie waarmee ek nooit ten aanskoue van die hele klas reggehelp moet word nie.

woman in purple tank top and gray sweat pants
Photo by Pixabay on Pexels.com

–  Jy kan glad nie kul in Yoga soos in al jou ander gymklasse nie. In Spinning roem ek myself nou al jare op my truuk waar ek die weerstand op my fiets laer draai elke keer wat die instrukteur ons beveel om dit hoër te draai. My klas word dus al hoe makliker terwyl die res van die klas s’n al hoe moeiliker word. In Yoga is dit nie so eenvoudig nie, want as jy nie dadelik in die posisie kom wat die Yogi van jou verlang nie sal jy gedruk, vermink en verwrong word totdat jy in daardie posisie is en klaar.

–  In een of ander stadium gaan daar van jou verwag word om Bikram Yoga te doen. Ek vermoed Bikram Yoga is ewe aaklig as gewone Yoga, maar hierdie keer net in ’n kamer van ’n miljoen grade celsius. Ek het mooi oor hierdie kwessie gedink en die enigste ding slegter as om Yoga in gewone klimaat te doen is om Yoga in tropiese klimaat te doen.

Ek weet daar is baie mense vir wie Yoga hul gunsteling manier is van maak of hulle oefen so ek gaan die aangeleentheid nou maar hier laat.

Wat myself egter aanbetref wil ek net sê Yoga sien my nie weer nie. Namaste, maar nee namaste: as ek ooit weer deur soveel pyn en ongemak moet gaan verwag ek ten minste dat daar ’n baba aan die ander kant moet uitkom.

 


tanya fotoTanya van Buuren Botma het altyd gedink ’n dubbelloop-van is aanstellerig. Sy hou van kla en drink graag wyn. Haar drome is om op ’n Griekse eiland te woon, elke rondloperkat in die wêreld te ontmoet en om vir een nag heeltemal deur te slaap.

Tanya woon in Centurion saam met haar man, dogtertjie en kat. Sy het ’n graad in Joernalistiek, maar haar grootste prestasie is haar tweejarige dogtertjie.

Jy kan haar persoonlike blog, Tanya se Tantrums, op Facebook volg, of haar webtuiste.

0 comments on ““Yoga – ’n pyn sonder enige plesier” deur Tanya van Buuren Botma

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: