Daar is baie dinge in die wêreld wat regtig moeilik is.
Om geboorte te skenk is redelik hoog op die lys.
Om ’n ruimteskip te bou lyk na ’n uitdaging.
Om Everest te klim is moeilik. En onnodig.
Om te vergewe is nis juis maklik nie. Om te vergeet is byna onmoontlik.
Om springmielie-doppe uit jou tande te grawe is heeltemal onmoontlik.
Om nie te krap waar dit jeuk nie is ’n beproewing. (Snaaks genoeg is dit amper belaglik maklik om te krap waar dit nie jeuk nie.)
Maar van al hierdie dinge is die heel moeilikste ding om te doen daardie ding wat jy nie WIL doen nie.
Die heel moeilikste ding om te doen is daardie ding wat jy weet hoe om te doen, jy het dit al gedoen, daar is niks wat jou keer om dit te doen nie: jy wil dit net nie doen nie. Jy is nie lus nie.
Soms is dit omdat jy nie weet hoe om dit te doen nie. Of dit bloot nie kan doen nie. Dit is moeilik, maar hopelik darem oorkombaar sodra jy uitgefigure het hoe, of iemand gevra het. Om iemand te vra, is natuurlik ook nie altyd maklik nie.
Ek sal sukkel tot ek blou in die gesig is voordat ek iemand vra. Nie omdat ek hardkoppig is nie, maar omdat ek so ’n skugter ou dingetjie is. Gelukkig is daar Google.
Die heel moeilikste ding om te doen is daardie ding wat jy weet hoe om te doen, jy het dit al gedoen, daar is niks wat jou keer om dit te doen nie: jy wil dit net nie doen nie. Jy is nie lus nie.
Jy sal eerder die heel aakligste ding doen (selfs iets wat werklik moeilik is) voordat jy die heel moeilikste ding doen (dikwels iets wat verspot maklik is).
Soms om ’n leë toiletrolletjie te vervang. Jy sal jouself in allerhande spierspasmas in rek om die toiletrol by te kom waar dit ook al neergeplak is (arms-om-die-nek-op-die-vensterbank-hoog-op-iets-waar-die-tweejarige-nie-kan-bykom-nie: die mees uitdagende joga-posisie van almal). Maar om die rolletjie te vervang is eenvoudig net te moeilik.
So ook met goed wat op plekke neergesit is waar dit nie hoort nie. Dit staan later so lank daar dat jy dit nie eens meer raaksien nie.
Ons het byvoorbeeld ’n paar patats op ’n groenterak gehad. Oor ’n somervakansie het dit vanself begin uitloop. Dit was nogal indrukwekkend en ons het gereken ons moet dit dalk uitplant in die tuin. Dan kan dit mos groei en het ons, ons eie patats en verander sodoende in voortreflike landsburgers wat bydra tot voedselsekerheid, en ons koolstofvoetspoor verklein en so aan…
’n Jaar later – EEN JAAR LATER – lê daai patats nog net daar. (Verstommend genoeg groei die uitloopsels ook steeds.)
Vir ons tweejarige is die heel moeilikste ding natuurlik die heel maklikste. Sy wroeg nie eens daaroor nie. Soms laat val sy iets reg voor haar voete. Sy kan net effens buig om dit by te kom. Maar sy staan net daar asof sy kort armpies soos ’n T-Rex dinosaurus het.
“Ek kan nie bykom nie.”
So eenvoudig soos dit.
En dit gaan ook nie verander nie. Dalk is dit die metaforiese kort armpies wat ons by die dinosaurusse geërf het. En ek gaan nou ook nie verder daarteen stry nie.
“Ek wil nie”, was een van haar eerste volledige sinne. En sy wend dit heel kreatief aan.
Dis dalk hoekom die heel moeilikste ding so moeilik is. Want ons wil nie ’n plannetjie hê nie. Ons kan nie bykom nie. Ons wil net magically by die eindresultaat uitkom.
’n Rukkie gelede wil sy by ’n maatjie gaan kuier. “Ons kan ’n plannetjie maak,” bied my vrou heel inskiklik aan. Kind dadelik in trane: “Ek. Wil. Nie. ’n. Plannetjie. Hê. Nie!!”
Dis dalk hoekom die heel moeilikste ding so moeilik is. Want ons wil nie ’n plannetjie hê nie. Ons kan nie bykom nie. Ons wil net magically by die eindresultaat uitkom.
En dit gaan ook nie verander nie. Dalk is dit die metaforiese kort armpies wat ons by die dinosaurusse geërf het. En ek gaan nou ook nie verder daarteen stry nie.
So, as jy wonder hoekom ek nie iets doen nie (soos e-posse antwoord, leë bottels uit die stort haal, vir weke lank rondom dieselfde vuil kol op die foon se skerm kyk): EK KAN NIE BYKOM NIE. OKAY? En ek wil ook nie ’n plannetjie hê nie.
Willemien Marais kan haar ore wikkel en het al ‘n yskas met ‘n mes doodgesteek. Sy lewe as ‘n mens op aarde terwyl sy wonder of sy werklik ‘n mens op aarde is. Maar solank daar Zoo-koekies is, maak dit nie saak nie. Sy woon saam met haar vrou en dogtertjie in Bloemfontein. Willemien is ‘n akademikus, joernalis, effense kluisenaar en aanhanger van fossiele, die buitenste ruim en liquorice bullets.
Ek LOVE hierdie skrywe! Ek en my vriendinne sê gewoonlik “Ek WHUL nie”. Wanneer ek kleintyd vir my meisiekind iets gesê het om te doen en vi r’n antwoord gewag het, het sy haar kop weggedraai en gesê “ek wil nie nou so baie praat nie” 😀
LikeLike
Dit was maklik om bostaande te geniet en ek WIL meer lees – jy KAN maar skryf!
LikeLike
Hoekom is hierdie soooo relatable?? En dan kry jy mense (soos my man) wie se voorliefde dit is om die moeilike dinge ONMIDDELLIK te wil doen. “Maak net die ding skoon en kry klaar! Dis mos nie so moeilik nie??” Ja, dit is.
LikeLike