Ons is tans besig om die veiligheid in en om ons huis op te knap. Jy weet – diefwering, alarms, versterkte slotte, ogies, kameras, die hele toetie. Dit voel kompleet of jy met elke nuwe ding jouself toeër en toeër in jou eie plek bou.
Eers kon ons nie meer buite slaap nie, maar die vensters (sonder diefwering!) was wawyd oop.
Toe ek ‘n kind in die Namib was, het ons saans die kampbedjies uitgedra en buite geslaap. Die enigste ding wat nie oop moes wees nie, was die hek … dat die beeste nie in ma se tuin kon kom nie.
Mettertyd het dinge stadig maar seker begin verander. Eers kon ons nie meer buite slaap nie, maar die vensters (sonder diefwering!) was wawyd oop. Toe die skaapwagter een nag laat in die kamer kom staan om te vra vir medisyne vir ‘n siek kind, weet pa iets sal gedoen moet word. Dis darem te maklik vir iemand om in te kom, toe sit hy muskietgaas voor al die vensters en die deure word saans gesluit.
En ja. Vandag lyk dit nou soos dit lyk hier by ons. Dis allerhande soorte ligte en slotte en WhatsApp-groepe en buurtwag en, en, en! wat moet sorg dat ek asseblief in die nag kan slaap. Bedags lyk dit ook nie eintlik beter nie. Alles moet gesluit wees en jy sit in jou eie tronk.
Maar dit is nie wat my pla nie, want hierdie selfgemaakte forte waarin ons woon het gekom om te bly, glo ek.
Ek kyk om my rond en my hart pyn. Elkeen van ons het hoër of laer mure om onsself opgerig – mure wat ons mettertyd self nie meer kan of wil afbreek nie. Want, jy sien, dit gebeur so geleidelik dat ons dit nie eens agterkom voordat dit heeltemal te laat is nie.
‘n Jaaroud kindjie vertrou so maklik. Glo niemand kan hom skade aandoen nie, en niemand maak hom agterdogtig nie.
“Kom sit by my, dan gee ek vir jou hierdie koekie,” nooi jy. Die kind spring in jou arms en weet hy gaan nou sy koekie kry. Dit is nou natuurlik tot die dag aanbreek wat iemand toe nié die beloofde koekie gee nie. Nou begin die kindjie mooi kyk of daar regtig ‘n koekie in die hand is voordat hy op jou skoot sal gaan sit.
So bou jy die mure om jou hart al hoër en hoër … onoorbrugbaar en onafbreekbaar.
Die eerste keer toe ‘n maatjie jou grootste geheim by die skool uitgelap het, het jy besef jy sal mooi moet dink voordat jy weer vir iemand vertel as die bure se seuntjie aan jou hand gevat het. En die dag toe die mooiste seun in Sub-B jou gevra het om te kys, het jy toe al geweet jy mag dit vir niemand vertel nie.
So bou jy die mure om jou hart al hoër en hoër … onoorbrugbaar en onafbreekbaar. Dit raak so erg dat jy jou eie emosies toesluit – geen teleurstelling, hartseer, vreugde of wat ookal mag jy voel nie. Jy is so gewoond om dit weg te steek vir een en almal, dat jy dit ook nie meer aan jouself erken nie.
Want sien, ‘n mens praat nie oor ‘daardie’ goed nie.
Kan ek jou iets vertel van so ‘n muur? In ons huis (onthou, ek kom uit die ‘50’s) mag jy nie oor seks en daardie goed gepraat het nie. Dit was erger as om te vloek, ek belowe jou. Op ‘n dag sien ek die een huishulp is so ‘n bietjie ‘ronderig’ om die lyf en ek vra ewe onskuldig of sy ‘n baba gaan kry. My ma, dadelik op die verdediging, antwoord baie beslis: “Nee, sy gaan nie ‘n baba kry nie.” Ek, onskuldige wese, aanvaar haar woord daarvoor. En toe? ‘n Paar maande later is daar sowaar ‘n kleintjie ekstra in die huis.
Nou kan jy my vra wat het dit met mure te doen? Hou vas, ek gaan jou vertel en jy gaan (dalk) erg geskok wees.
Die dag toe die oom my begin molesteer het en al die jare daarna, het ek nooit die moed gehad om my ma daarvan te vertel nie. Want sien, ‘n mens praat nie oor ‘daardie’ goed nie.
Dink ‘n bietjie oor jou mure, toe? Kan jy hulle nog afbreek? En weet jy nog waar is die sleutels na jou hart?
Ek vra maar net.
Martha is ‘n afgetrede onderwyseres. Sy en haar man woon al vir die afgelope 33 jaar in Keetmanshoop in die suide van Namibië. Haar lewensdroom was om ook eendag ‘n boek te kon skryf. En toe, op 63, het sy uiteindelik die moed gehad om dit te doen. Sy skryf nie noodwendig vir ‘n gehoor nie – haar ewige metgesel is ‘iemand daar buite’ (dalk haar alter ego?) wat weet hoe sy voel en hoor wat op haar hart is. Haar grootste dryfveer is haar pa se woorde: “Martha, jy kán!”
As jy meer van Martha se skryfsels wil lees, volg haar gerus op https://marthapoller.blogspot.com/
0 comments on ““Alles oor mure en slotte en sulke dinge” deur Martha Poller”