My mandaryn-eendmannetjie het sy vaal winterjassie vir briljante, dramatiese broeivere verruil. Hy het ʼn rooi snawel en spog met vere in verskillende skakerings van rooi, blou, wit, oranje en pers. Twee oranje seile laat hom soos ʼn seilbootjie in die dammetjie lyk. Vir ʼn groot deel van die jaar lyk hy nie veel anders as die wyfie met haar vaalbruin vere nie. Die verandering begin met ʼn belofte van ʼn groenblink skynsel op sy vere. Elke dag is daar ʼn verandering, nuwe gekleurde veertjies wat bykom. ʼn Stadige, maar konsekwente proses. Net so kan ʼn perske in ʼn boom nie aangesê of aangejaag word om ryp te word nie. Daar is eers ʼn blom, ʼn knoppie, ʼn groen vruggie, dan word dit stelselmatig ryp.

Die Mandaryn-eendmannetjie en die wyfie.
Foto: Wikipedia
Ons kan by die Mandaryn-eendmannetjie en perske leer om geduldig te wees.
ʼn Kombers van dooie blare kraak onder ʼn mens se voete en daar is ʼn knyp in die lug. Die bome wil ons iets leer.
Wanneer herfs kom, dartel Moeder Natuur al hoe nader met haar sigeunerrok van oranje, rooi en goud. Sy draai en tol en gooi haarself toe onder ʼn kombers van amber en rooi blare sodat sy kan regmaak om te slaap en rus. ʼn Kombers van dooie blare kraak onder ʼn mens se voete en daar is ʼn knyp in die lug. Die bome wil ons iets leer. Wanneer hulle hul blare afgooi, wys hulle dat dit goed is om dinge te laat gaan. Om veranderinge en seisoene te aanvaar. Die kosmosse in skakerings van wit, pers en pienk is nou op hul mooiste en waai vrolik in die wind rond, terwyl hulle saadjies strooi voordat hulle in ʼn winterslaap gaan verval. Maar hul saadjies kom weer volgende jaar op. Dis ʼn eindelose sirkel.

Foto krediet
Selfs ʼn veldbrand kan nie nuwe lewe keer nie.
Hael lê op my grasperk soos ʼn wit mat. My rose en kosmosse is flenters geslaan. My piepklein saailinge is daarmee heen. Tog sal hulle weer groei en blom. Gras wat deur diere afgeëet is tot teen die grond, groei weer. Selfs ʼn veldbrand kan nie nuwe lewe keer nie. Al die ou veselrige groei wat nuwe groei sou smoor, brand weg en maak plek vir nuwe, vars groenigheid.
Die plante en gras kan ons leer om veerkragtig te wees en weer op te staan na terugslae.
Ons dink dalk ons sien alles en weet alles, maar is dit werklik so? Die wind is onsigbaar, maar ons kan voel en sien hoe die bome en gras rondwaai. Alhoewel die aarde draai en ʼn volledige rotasie elke 24-uur plaasvind, is ons nie bewus van hierdie beweging nie. Kolibries is van die kleinste voëltjies wat bestaan, maar kan “naby” ultravioletlig sien. Pikkewyne en sommige roofvoëls kan in die ultravioletreeks van die elektromagnetiese spektrum sien, tussen kleiner verskille in kleurskakerings onderskei en die son agter ʼn wolk of ʼn klein diertjie wat gekamoefleer is in sy omgewing sien. Katte het ongelooflike nagvisie en daar word selfs geglo dat die vibrasie van katte se gespin beide genesing en groei van beenmateriaal kan bevorder!
Die lewe is wreed, maar onbeskryflik mooi.
Moeder Natuur bied ʼn skouspel aan wanneer seeskilpadjies uitbroei en hul weg probeer vind na die see. Bittermin van hulle bereik volwassenheid. Arende lê gewoonlik een tot drie eiers, maar meestal oorleef net een kuiken. Natuurrampe soos aardbewings, tsunami’s, veldbrande, weerlig en vulkane wat uitbars, rig groot skade aan en lei tot lewensverlies van mens, dier en plante wat verwoes word. Baie van hierdie natuurverskynsels is onbeskryflik mooi om na te kyk. Jong kinders kry kanker, word wees gelaat, huwelike sneuwel, gesinne word uitmekaar geruk, mense word afgelê by die werk, raak verslaaf aan dwelms of alkohol, emosionele afknouery en boeliegedrag vind plaas. Die lewe is wreed, maar onbeskryflik mooi.

Foto krediet
Wanneer laas het jy ʼn klippie opgetel? In die veld, op ʼn berg, by die see of ʼn rivier? Elke klippie het sy eie reis gehad. Nes ek en jy ook ʼn reisiger op hierdie aarde is. Dalk was van hierdie klippies deel van ʼn groot berg gewees. Die klippe trotseer winderige, reënerige en onvoorsienbare toestande. Hulle is daar om ons te herinner aan hoe ons die wêreld behoort te beskou.
ʼn Sonneblom groei na die son. Net so kan ons poog om na die goeie en na die lig te reik, ondanks al die uitdagings wat ons op ons lewensreis trotseer.
“Why fit in when you were born to stand out?” deur Dr. Seuss, is Ansja Ferreira se gunsteling leuse. Sy is ʼn “free spirit” wat hou van sprokies, meerminne, engele en feetjies en is ʼn skrywer van stories, liedjies en artikels. Sy het ʼn Honneursgraad in Kommunikasiekunde met Joernalistiek as hoofvak en is tans besig met haar Meestergraad in Kreatiewe Skryfkuns aan die Universiteit van die Vrystaat. Daar is nooit ʼn vervelige oomblik in haar huishouding nie en jy sal haar die meeste van die tyd in die tuin kry tussen haar plante en diere.
Pragtig geskryf! So bly jy deel dit met ons!
Van nog ‘n free spirit…
LikeLike