Afrikaans Rubrieke

“Tussen die Boom en die Bas” deur Carla Botha

irene fischer ons skryf afrikaans

Waarom wil ons politici en huidige regering permanent die opvoedingstelsel in skole en universiteite verander? Waarom altyd karring aan die taalbeleid of slaagsyfers in skole en universiteite wanneer dit eintlik vlot funksioneer? Wat is fout met ‘n dubbel-medium skool of universiteit? Afrikaans en Engels kan mos hand aan hand stap, soos dit alreeds doen in ons alledaagse werk en lewe.

Dan is daar ook die permanente gekarring aan Afrikaans.

So, die idee is dat skole en universiteite plek maak om meer diversiteitsvriendelik te wees en daarmee het ek geen probleem nie. Daar is egter ‘n groter probleem waaroor elke ouer bekommerd behoort te voel. Die feit dat die slaagsyfer verder verlaag is… Dit beteken ons is nie langer op akademiese wêreldstandaard nie. Dan is daar ook die permanente gekarring aan Afrikaans. Daar word huidiglik elf offisiële tale in Suid-Afrika erken en gepraat, so nou wonder mens, waarom aanhou neuk met Afrikaans? Net soos ek geen probleem met Xhosa of Sotho as onderrigtaal het nie, so moet Afrikaans ook sy plekkie in die son gegun word vir elkeen wat verkies om in Afrikaans onderrig te ontvang.


Foto krediet

 

Die Universiteit van Pretoria (UP) was, en is nog altyd die huis van duisende Afrikaans-sprekende studente wat veral vanaf die plattelandse dorpies stroom, opsoek na ‘n goeie universiteitsopleiding (in Afrikaans, natuurlik). In 2016 het UP egter ‘n nuwe taalbeleid aanvaar waarvan Engels toe die primêre onderrigtaal geword het. En nou, hierso aan die begin van 2019 kondig Tawana Kupe aan, dat van hierdie jaar af die universiteit net in Engels sal funksioneer. Elke keer aanvaar Afrikaans-sprekendes maar gedweë die sweepslae wat die taal toegedien word. En nou, nou staan ons voor die finale afgrond, waar Afrikaans die finale doodshou toegedien word by ‘n universiteit wat al van 1889 af bestaan in beide Engels en Afrikaans.

Was daar dan daai tyd ook hande in die lug gegooi toe Engels by die agterdeur uitgesmyt is?

Daar is egter ‘n greintjie hoop. As mens na die geskiedenis van Afrikaanse onderrig by UP gaan kyk, kom mens gou agter dat Afrikaans nie altyd die enigste onderrigtaal was nie, maar eers in 1931 verklaar is tot die enigste onderrigtaal. Wat mens dan ook so bietjie laat kopkrap. Was daar dan daai tyd ook hande in die lug gegooi toe Engels by die agterdeur uitgesmyt is? UP het eers in 1982 weer besluit om tweetaligheid ‘n gelyke kans te gee.

Ek lees Facebook-en-Twitter-kommentaar op nuusberigte en kom agter Afrikaanses is baie ongelukkig (om dit sagkens te stel). Meeste is keelvol vir die alewige gekrap op plekke waar daar nie eintlik jeuk nie. Die ANC-kalante het hul mes in vir die onderrigstelsels van Suid-Afrika, en dit lyk maar beroerd as mens die berigte so lees. As dit so aangaan word tot ons skole en universiteite binnekort tot gemors-status verklaar.

ons skryf afrikaans
Foto krediet

 

Nou word Afrikaans by die agterdeur uitgesmyt en Engels terug genooi. Ja, ek moet bieg, ons Afrikaans-sprekendes word nou met die blinde sambok bygedam, en dra nou die blaam oor dít wat jare en jare gelede terug gebeur het. Dis nie vir ons lekker nie. Soms met volreg, soms daarsonder. Binne ons lê ‘n diep gewortelde selfsug en kulturiële toeëiening as gevolg van ‘n meesal konserwatiewe opvoeding. Jare se eenrigtingdenke rondom óns taal haal ons nou in, en nou moet ons as Afrikaanses dink teen die spoed van witlig… Hoe nou gemaak? Hoe pak ons die bul by horings? En terwyl ons spook en spartel dat Afrikaans vir ons kinders se kinders behoue moet bly in die onderrigsektor, vergeet ons ook dat daar vele ander nasies is wat presies dieselfde oor hul eie spreektaal voel. Maar of gelykheid ooit werklik sal seëvier in die huidige Suid-Afrika, sal nog gesien moet word.

Maar dit beteken nog lank nie die taal gaan uitsterf nie.

Ek wonder intussen wat word van Afrikaanse tradisies in koshuise? Sterf dit ook ‘n stille dood? Ons weet gelukkig dat Afrikaans nie ‘n taal is wat sommerso onder die matjie ingevee kan word nie. Dis nie net nóg ‘n taal nie, maar ‘n leefwyse. Dalk blus ‘n spul politikusse die onderrig van ons moedertaal. Maar dit beteken nog lank nie die taal gaan uitsterf nie.

Inteendeel, die taal is aan die groei. En selfs al moet dit soos boomwortels groei, in die stilligheid ondergronds — groei sal dit groei en voor ons dit besef, sal Afrikaans soos ‘n groot, trotse kremetartboom in ‘n demokratiese wildernis pryk, vir almal om te aanskou.


carla bothaCarla Botha woon en werskaf tans buite Suid-Afrika se grense want sy is alewig opsoek na nuwe avonture en stories. Na baie wik en weeg het sy besluit om sport afrigting te verruil vir tale en sinskonstruksie in die akademiese wêreld. Sy is tans besig met haar MFA in kreatiewe skryfkuns en verkies dit om tyd saam haar vier honde en ‘n stertlose kat te spandeer, met ‘n beker sterk, swart koffie in die hand.

 

 


Volg Ons Skryf Afrikaans op Instagram: @onsskryfafrikaans

 

2 comments on ““Tussen die Boom en die Bas” deur Carla Botha

  1. Helena Botha

    Na baie jare se verblyf in die buiteland praat jy jou taal suiwer sonder enige aksent…..trots afrikaans!

    Like

  2. Maretha Claasen

    Carla, jy het dit goéd gestel… in suiwer Afrikaans! Ja, Afrikaans word oral in ons Universiteite uitgeskop… maar as spreektaal aal dit altyd sterk bly, glo ek!!!

    Like

Leave a Reply to Helena Botha Cancel reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: