Kersdag
Die kinders gil en skree in die swembad. Die geskenke lê nog toegedraai onder die boom in die sitkamer. Alhoewel kersvader al middernag sy draai in ons huis gemaak het, moet ons eers wag vir al die familie om te arriveer voor ons die geskenke mag oopmaak.
So stuk-stuk strompel almal die huis in. Elkeen met ‘n bak slaai en ‘n bak vleis in die hand. Hier word vandag weer geëet vir die eerste span. Skaapboud met aartappeltjies, hoenderboudjies met rys-slaai. Varkboud met heuning. Als behalwe die gebruiklike kalkoen. Maar ons is mos Afrikaners. Kalkoen is ‘n TV-ding op Amerikaanse programme…
“Oom Kerneels, wanneer kan ons nou geskenke oopmaak?”
“Sodra al die mense hier is. Byt net nog so rukkie vas, toe?”
En ons speel verder in die swembad. Iemand het ‘n houer of twee seepwater met stokkies gebring vir seepborrels. Dit hou die kinders darem besig vir nog so uur sonder dat hulle vra na geskenke.
Met die laaste mense uiteindelik ook in ons midde is dit net duskant opskeptyd. Die kinders is meer klaerig as vroeër. Hulle kan nie besluit wat is belangriker nie: die geskenke onder die boom of hul magies wat grom.
Ons besluit om eers aan te sit vir ete. Die geveg teen die vlieë wat skielik vanuit nêrens die kombuis ingevaar het, is aan die verloor kant. Hoe vinniger die kos in ons mae kan kom, hoe beter.
Ons skep op. Kinders in ‘n ry met grootmense wat help skep.
“Wil jy ‘n stukkie van dié vleisie hê, skat?”
“Nee dankie, tannie.”
“Wat van ‘n happie van hierdie slaai?”
“Dit sal lekker wees, dankie tannie.”
Met borde vol kos en elkeen ‘n plek om die tafel word daar hande gevat.
“Seën, Here, die kos wat vir ons voorberei is. Maak ons opreg dankbaar daarvoor…” ‘n Stokou afgerammelde gebed wat ons almal maar mee grootgeword het.
Klappers word getrek en die speelgoed binne-in word opgetel so tussendeur die kos. En ons eet. Byna asof ons onsself die hele jaar uitgehonger het vir hierdie een dag.
Na ete word die skottelgoed in die masjiene gepak. Die tafel word opgeruim. Koeldranke word in houers gegooi en ys word uitgehaal. Sommige ouer mense sit-lê waar hulle ook al ‘n plekkie kry. Magies-vol-ogies-toe-sindroom.
Die kinders kry ‘n tweede asem.
“Kan ons asseblief nou geskenke oopmaak? My maatjies speel al van gisteraand af met hul geskenke. Dis net ons wat nog nie geskenke gekry het nie…Asseblieeeeeeef” neul-neul-neul.
Ons kry almal bymekaar in die sitkamer. Omdat ek ‘n baard het, besluit almal ek is Kersvader. Ek roep maar die name uit en deel uit.
“Een vir Luan. En dié een is vir Leanè. Vlooi? Waar is jy? Hier is een vir jou ook? Sjoe, dis ‘n lekker groot een dié. Jy was seker ‘n baie soet dogtertjie dié jaar. Ma, Pa, ek weet nie wat julle gedoen het nie, maar die geskenke wat Kersvader vir julle gelos het lyk vir my maar aan die klein kant…”
Leanè maak haar geskenk oop met ‘n gesukkel. Die vier-jarige handjies wil nie lekker saamwerk om die geskenkpapier afgeskeur te kry nie. Haar ma sit later ‘n hand by en kort voor lank trek hulle ‘n pienk teestelletjie uit haar pakkie uit. Die ogies blink en sy bekyk die stelletjie van hoek tot kant.
Sy staan op, loop tot by my en gee my ‘n drukkie.
“Thank you. This is my tea set. Would anybody like a cup of tea?” praat sy skielik in Engels.
“Ja asseblief. Kan ek asseblief my tee kry met ‘n bietjie suiker?” speel Ouma saam
“I’m sorry. I don’t understand. Do you want some tea?” kom die antwoord in hoog Engels.
In die boek “As almal ver is” skryf Andries Bezuidenhout ‘n stuk wat wat handel oor ‘n kind van Afrikaanse afkoms wat hy raakloop in Perth, waar die seun skaatsplank ry.
“My parents are Afrikaans. Came in ninety four.”
Ek wil weet of hy dan nie Afrikaans praat nie. “No use,” antwoord hy en draai op sy skaatsplank om.
Later sluit hy die paragraaf af met “Die dood van Afrikaans ry op ‘n skaatsplank in Perth.”
Ek dink die dood van Afrikaans sit nou deesdae en tee drink op ons eie voorstoep.

Foto: Unsplash
Kerneels droom daarvan om die land se paaie plat ry met sy kar of motorfiets (enigiets met wiele). Om fotos te neem van sy reise en eendag saam met sy stories in ‘n boek te plak. Wanneer hy egter nie drome droom nie, werk hy as ‘n sisteem-bestuurder vir ‘n flexo-grafiese maatskappy. Hy is oortuig daarvan dat hy die mees interessante werk op aarde het. Hy woon in Vereeniging, waar hy en ‘n vriend ook deeltyds met chilli’s boer wat hulself inlê en verkoop onder die handelsnaam, The Little Pickle Co.
Baie waar Connie
LikeLike