Ouerword is vir my ‘n interessante proses. Ja, natuurlik is daar sekere dinge van ouerword wat vir my niks lekker is nie. Plooie wat feitlik oornag verskyn, grys hare wat elke vier, vyf weke my herinner dat ek weer by die haarkapper ‘n draai moet maak, en natuurlik die GEWIG. Toe ek jonk was het ek sommer tjoef-tjaf ‘n kilo of twee afgeskud deur ‘n ete oor te slaan. Nou kan bloedsweet en trane dit nie eers regkry nie.
Draai jy voor my in by ‘n stopstraat? Geen probleem nie, meneer – jy is duidelik super haastig!
Daar is egter ander aspekte waaroor ek nie so spyt is nie. Meer selfvertroue is een daarvan, so ook minder hang-ups en baie meer deursettingsvermoë. Ek het meer stamina as ek oefeninge doen – vir die gewig natuurlik – en ek wip my ook nie meer so maklik nie. Ek het sommer baie meer geduld as in my jongdae. My man sal natuurlik nie hiermee saamstem nie, maar dis regtig so. Draai jy voor my in by ‘n stopstraat? Geen probleem nie, meneer – jy is duidelik super haastig! Lang rye by die supermark? Ag, nou het ek tyd om gou daai SMS te stuur! Ongeskikte kassiere? Kom ek gee vir jou my mooiste glimlag en deel ‘n ou grappie, dalk het jy ‘n slegte dag.
Een ding wat ek egter beleef van ouerword, is dat ek sekere dinge al hoe minder verstaan. Hier praat ek nou nie noodwendig van tegnologie nie (alhoewel ek stokdom is wat enige iets tegnologies aanbetref). Ek was nog my hele lewe lank nie die skerpste lem in die laai as dit by tegnologie kom nie, en ek kan nie sien dat dit in die afsienbare toekoms gaan verander nie. Inteendeel, dit gaan waarskynlik net erger word namate telefone, tablette, rekenaars en motors al hoe slimmer word.
In my naïwiteit het ek geglo almal redeneer soos ek.
Nee, iets wat ek al hoe minder verstaan, is hoe mense se koppe werk. Ek het nog altyd gedink ek verstaan hoe mense redeneer. In my naïwiteit het ek geglo almal redeneer soos ek. Natuurlik sal mens so dink as jy jonk is, maar soos wat die jare aanstap, besef jy dat nie almal soos jy dink nie. Dis natuurlik ook nie verkeerd nie. Hoe vervelig sou dit wees as ons almal dieselfde opinies oor alles gehad het.
Wat my wel soms onderkry, is dat mense goed dink en glo wat (in my oë natuurlik) so absoluut absurd en onlogies en DUIDELIK VERKEERD is, dat ek nie kan VERSTAAN wat in hulle koppe aangaan nie.
Ek kan baie voorbeelde opnoem – allerhande verskillende sektes en kultusse is een ding waaraan ek sommer onmiddellik dink (enige iemand vir Scientology?). Of hoe op dese aarde Donald Trump tans die leier van die vrye wêreld is. Of hoe enige iemand kan dink dis okay en selfs opwindend om te kyk hoe honde of hoenders bloeddorstig teen mekaar veg en mekaar letterlik uitmekaar skeur en dan boonop geld daarop wed. Dit slaan my totaal en al dronk.

Dit beteken noodwendig dat ek al hoe minder sosiale media gebruik, want dit is nou een platform waarop mense nie skaam is om te wees presies wie hulle is nie. Ek glo nie ek sal Facebook ooit heeltemal groet nie – ek dink steeds dat dit ‘n wonderlike manier is om tred te hou met die doen en late van familie en vriende wat oor die wêreld verspreid is. En ja, dis vir my lekker om vriende se vakansiefoto’s te kyk en al die snaaksighede en grappies maak my dag.
Maar soms plaas mense goed op Facebook en al wat ek kan dink is – HOE werk jou kop? Ek wil nie eers verder hierop uitbrei nie, want wat is nou eintlik waar en wat is reg? Hoe sê die Engelse spreekwoord? “Beauty is in the eye of the beholder.” Mens kan dan maar seker ook sê, “Reality/truth/life is in the eye of the beholder.”
Ek moet myself gedurig herinner, onthou Ilse, nie almal dink soos jy nie.
Dit het my egter twee keer laat dink oor die dinge wat ek op Facebook en Twitter plaas. Ek moet myself gedurig herinner, onthou Ilse, nie almal dink soos jy nie. Nie almal gaan dink jou grappie is oulik of toepaslik nie. Nie almal wil elke minuut van die dag presies weet wat in jou kop en lewe aangaan nie. Hulle is in elk geval te besig daarvoor.
Ek was eens baie voortvarend met my opinies, fotos en posts op Facebook en Twitter. Nou nie meer so baie nie … dis seker nóg ‘n ding van die ouderdom. Hopelik word ‘n mens ‘n bietjie wyser. Jy dink twee keer voor jy praat — of dit nou met die mond, of met die rekenaar is.
Waarskynlik gaan ek nog baie dinge leer oor myself en oor die lewe namate die jare aanstap. Ek vermoed egter dat ek mense en slimfone, en dinge met knoppies al hoe minder gaan verstaan. Ek hoop egter dat ek emmersvol sal groei in tevredenheid, verdraagsaamheid en selfbeheersing. Ek glo my man hoop ook so.
Ilse Smalberger woon in Kimberley in die Noord-Kaap saam met haar man en katkinders. Ilse groot liefdes (behalwe vir haar familie natuurlik) is kosmaak, lees van spanningsverhale, blokkiesraaisels, Sauvignon Blanc, internasionale nuus, pizza, sport, Rafael Nadal, die see en resepteboeke. Sy hou nie van mense wat diere mishandel of ongeskik is met kelners nie. Bedags skryf sy kopie, doen vertalings, proefleeswerk en af en toe lees sy die nuus op OFM, Sentraal Suid-Afrika se grootste radiostasie.
Volg Ons Skryf Afrikaans op Instagram @onsskryfafrikaans
Soms kyk ek na die Facebook memories en kan nie GLO oor dinge wat ek 10 jaar gekede kwytgeraak het nie. Gelukkig groei ‘n mens met die jare – wysheid met die grysheid 🙂
LikeLike