Swangerskap, kindergeboorte en moederskap het die vermoë om ’n vrou fisiek en emosioneel tot op haar uiterste te beproef. Net as ek dink die ergste toets is nou verby, dan duik daar weer iets anders op. Ek sidder om te dink wat die tienerfase alles inhou.
In plaas daarvan om vars en uitgerus die nuwe jaar tegemoet te trippel, lyk en voel ek soos die gemaalde dood.
My mees onlangse beproewing was skoolvakansie. Nou kyk, as ek hierdie afgelope Desember een ding geleer het, is dit dat vakansie net iets is vir mense sonder kinders, en vír kinders. In plaas daarvan om vars en uitgerus die nuwe jaar tegemoet te trippel, lyk en voel ek soos die gemaalde dood. Dit voel inderwaarheid of ek van ’n oorlog af teruggekeer het waar die vyand ’n tweejarige terroris met blonde hare en groot blou oë is.
Ná dese is ek natuurlik te bang om ooit weer te sê ek kort ’n vakansie, want ná my onlangse ervaring het ek vir eers genoeg “vakansie” gehou, dankie.
Soos ’n vriendin op Facebook geskryf het:
“Parents don’t really go on holidays, do they? They basically take their whole house and their shit storm to a different location and unleash the shit over there”.
Toe ek hierdie woorde lees wou ek my kop agteroor gooi en histeries soos ’n bergheks lag, maar omdat die klein diktator uiteindelik (ná twee ure van “Baby Saaaaak” gesange en opvoerings) op my skoot aan die slaap geraak het, was daar eenvoudig nie die luuksheid van skielike (of enige) bewegings nie.
Ek moet ook bysê dat alles wat moontlik hierdie Desember kon skeefloop, skeefgeloop het. Eers het my dogtertjie mangelinfeksie gekry, toe kry sy ’n bakteriële infeksie as gevolg van die antibiotika wat die mangelinfeksie moes behandel, en toe kry sy die ergste geval van brandboudjies known to man. (Lees gerus heel onder aan hierdie blog my wonderwerk salfie-resep vir brandboudjies).
The Wheels on the bus go round and round op repeat luister, visvinger fights en quality time in die naughty corner.
Genadiglik was daar darem ’n paar dae tussen siekwees waarin ons almal lekker kon relax. Ontspanningsaktiwiteite het bestaan uit geen middagslapies nie, in die middernagtelike ure gaan slaap, sewe-uur in die oggend fietsie ry, The Wheels on the bus go round and round op repeat luister, visvinger fights en quality time in die naughty corner.
Hoewel Mommy Shaming steeds ’n hartseer realiteit is, wil dit vir my voorkom asof vroue mekaar deesdae beter verstaan en ondersteun. Moederskap is immers die groot gelykmaker!
Verskeie blogs oor moederskap, gesprekke met vriendinne en my eie gemoed het my die volgende geleer:
- Terwyl daar diegene is wat beter ma’s is wanneer hulle die grootste gedeelte van die dag saam met hul kinders spandeer, is daar dié wat beter ma’s is wanneer hulle ‘n kleiner gedeelte daarvan saam met hul kinders spandeer. Die tweede kategorie is werkende ma’s wat kies om te werk, of moet werk, om die pot aan die kook te hou of vir persoonlike verryking. Of jy nou n tuisbly-ma of ‘n werkende ma is — jy verdien die hoogste respek. Nie een daarvan is maklik nie.
- Jy hoef nie elke oomblik van moederskap te love nie. Ja, daar is volop betowerende oomblikke wat alles die moeite werd maak, maar dan is daar ook die oomblikke waar jou kind letterlik BINNE-IN jou mond drool of jou broek in die winkel probeer aftrek om te kyk of jou doek skoon is.
Dan praat ek nie eens van al die kere wat jou kind die bordjie kos wat jy met soveel hoop en soveel verwagting vir haar voorberei het op die vloer smyt, of jou krap omdat jy durfwaag het om vir haar die verkeerde vurkie (waaroor sy gister mal was) te bring nie.
In elke ma se daaglikse bestaan is daar letterlik ’n honderd WTF oomblikke en dis regtig okay om nie elkeen daarvan met oorgawe te geniet nie.
- Vroue wat What does it mean to be a good mother, of I don’t feel like a good mother, of I am not sure if I was meant to be a mother, ensovoorts Google het een ding in gemeen – hulle is almal ’n goeie ma’s. Die feit dat jy Google bewys jy gee om!
- Goeie ma’s verloor soms hul humeur, raak moedeloos en verlang terug na ongekompliseerde tye. Maar ten spyte hiervan, staan hulle dag na dag op en probeer weer. Dit laat my dink aan die Woody Allen quote: “Eighty percent of success is showing up.”
Twee van my voornemens hierdie Desember was, 1) Om my dogtertjie te begin potty train (didn’t happen) en 2) om haar te leer om “asseblief” en “dankie” te sê.
Hoewel sy “asseblief” gou bemeester het, het dit heeltemal geboomerang, want toe dink die kind solank sy die woord “blief” iewers by ’n sin inwerk moet ek toegee, maak nie saak hoe onredelik en irrasioneel haar versoek is nie!
Sy sou byvoorbeeld 10-uur in die nag iets sê soos, “Mamma, nou blief swem” of wanneer ek vir haar aandete sou voorsit, “Mamma eerder tjoklit blief”.
“Dankie” was egter nie so maklik nie. Toe dit duidelik word haar standaard-antwoord wanneer ek iets aan haar oorhandig is “nog,” het ek begin opgee.
Tot een aand met slaaptyd (ja, ons co-sleep steeds).
Daardie spesifieke dag was besonder uitdagend omdat my kind geweier het dat ons haar doek omruil, en ons haar dus elke uur moes bad tydens ‘n fase wat sy dit verpes het om te bad.
Uitgeput en gatvol was ek die aand op die punt om aan die slaap te raak toe ’n klokhelder, cheeky klein stemmetjie my uit die newels tussen bewussyn en onderbewussyn na die oomblik toe terugruk.
“Dankie mamma. Dankie mamma. Dankie mamma”.
En net daar het ek gewéét ek is ’n goeie ma.
Brandboudjieroom-resep:
1/3 swamdoder-room soos Canalba of Candizole
1/3 Bactroban
1/3 boudjieroom soos Sudocrem
Meng alles goed saam en gebruik elke keer wanneer jy ’n nuwe doek aansit. Sprinkel bietjie Maizena in die doek om seker te maak die boudjies bly droog. Voila!
Tanya van Buuren Botma het altyd gedink ’n dubbelloop-van is aanstellerig. Sy hou van kla en drink graag wyn. Haar drome is om op ’n Griekse eiland te woon, elke rondloperkat in die wêreld te ontmoet en om vir een nag heeltemal deur te slaap.
Tanya woon in Centurion saam met haar man, dogtertjie en kat. Sy het ’n graad in Joernalistiek, maar haar grootste prestasie is haar tweejarige dogtertjie.
Jy kan haar persoonlike blog, Tanya se Tantrums, op Facebook volg, of haar webtuiste.
Ek moet hierdie vir my dogter stuur – dit klink asof jou meisiekind en Lily ‘n tweeling kan wees LOL!
LikeLike