Afrikaans Rubrieke

“Cool en Kommin” deur Elsabe Pepler

Ek was van kleintyd af gek — totaal besot, en effe irrasioneel – oor die media.

Ek het gevrek vir die Bloemfonteinse Volksblad en Sondagkoerante. Die Sarie wat my pa huis toe gebring het vir my ma, en soms die Fair Lady. Die Bollie-tydskrif vir kinders, dekades gelede, en die Huisgenoot. (Voor dit ‘n tabloid geword het). En ek was betower deur radio se the theatre of the mind: die Du Plooys van Soetmelksvlei, en die nuus, en Siembamba en Jakkals en Wolf-stories. En Só Maak Mens op Springbokradio. En toe televisie arriveer, was dit verby met my. 


Ek het ryk herinneringe aan ons platespeler waarop ons die Beatles, Rolling Stones,  Creedence, en Neil Diamond gespeel het by garage-partytjies. Parties met groen Kool-Aid en groentuijie Simba-tjips, Coke en pers ultravioletligte was ‘n mirakel.  Ons het 33- en 45-spoed plate gespeel, en getwist en gevry dat die spoeg spat. 

My arme ouma moes met haar dienlike skoene en dik beige sykouse saam met my om Elvis se fliek te gaan kyk by die Ritz-teater in St. Andrew-straat in Bloemfontein. Ek was dertien en het my maksi-vlootblouromp en wit lakleerstewels aangetrek. Ek was so hot, ek het gebewe daarvan. Saam met my ou ouma. Ek het gou geleer mens kan nie al die flieks wat jy wil sien saam met jou ouma kyk nie, en het op skool al begin om alleen te gaan fliek. Vrydagaande was die week se hoogtepunt saam met jou kêrel op universiteit by die Capitol oorkant Hoffmanplein. Ons het ogedress daarvoor en na die tyd by die Braaiburger of Mexican Burger gaan eet en pienk Lanzerac-wyn gedrink.  

Ek het my beneweld gehuil – twee maal – oor die sterwende Al Pacino in Serpico wat ek en Ilse in die Monte Carlo net agter die biblioteek in Voortrekkerstraat gaan kyk het. Ek het na die tyd by die bestuurder gaan smeek vir ‘n plakkaat.


Tussendeur het die moedelose bibliotekaresse in die kinderafdeling vir my ma gesê hulle gee nou maar vir my ‘n grootmenskaartjie, want ek het al die boeke in die kinderdeel gelees. Wanneer ons Desember met die karavaan op vakansie gegaan het, was een van die kiste onder die sitplekke net vir my boeke gereserveer. Maar dan het ek ook sommer vir twee weke by Plettenbergbaai, Buffelsbaai of Port St Johns se biblioteek ‘n vakansie-biblioteekkaartjie gekry — mens weet nooit wanneer hardloop jy uit leesstof  uit op vakansie nie. Nodeloos om te sê: ek het nooit ‘n vakansieromanse ervaar nie. Ek het gelees.

Daar was ‘n tiener-tydskrif vir meisies, Tina, wat ek pap gelees het. Ek het gewens my naam was Tina. As jy die Tina vir 15-sent kon koop, en verniet kon bliblioteek toe gaan, wat was die probleem dan?

My liefste ma het my een keer op hoërskool strengerig vir ‘n gesprek geroep. Sy het gesê sy voel ek moet bietjie minder lees en by my maatjies gaan kuier; hulle moet altyd na my toe kom en dis nie regverdig nie. Ek het nie verstaan wat sy wou hê nie. Ek verstaan nou nog nie. 

Toe ek in Pretoria gewerk het, het my kêrel met die weglê-snor, Hercules, my een aand na ‘n Jacques Brel-vertoning in Hillbrow weggevoer. Hy het gefluister dat ek baie mooi lyk: ek het ‘n stywe swart romp en bloedrooi bloesie aangehad. Ons was in ‘n groep in die motor op pad na Johannesburg, en ek het baie beleefd toestemming gevra dat hulle my vir 10 min sal verskoon: ek moet net gou my boek se slot klaar lees. Genugtig, ongeskikte meisiekind. Snaaks dat hy my weer uitgeneem het.

Ek was die afgelope Donderdag by die betowerende, barsvol boekwinkel van Help the Rural Child in Mowbray. Tweedehandse boekwinkels regoor die aardbol bars glo uit hul nate, want mense kyk Marie Kondo op Netflix en gooi alles uit hul huise uit, boeke ook. Selfs mense word uitgegooi as hulle ge-Konmari is, lees ek. Ek het Donderdag vier skitterende fiksieboeke vir R150 gekoop en was Saterdag vroeg klaar met die eerste een. Lees tog vir Elizabeth Berg. Lieflik. 


So is my lewe nog steeds. Verslaaf aan die media. Ek het Bohemian Rhapsody twee keer gaan kyk in vyf dae en my stom getjank oor Rami Malek se toneelspel, en die treurige lewe van Freddie Mercury. Sommer gehuil ook oor die wonder van die media en film. En oor die betowering van stories. En die skamerige Rami Malek wat Freddie Mercury geword het wat een na die volgende toekenning wen. Ek dink die Oscar is dié jaar ook syne. Hy het ‘n mooie identiese tweelingboet, Sami. En asof die storie oor Rami Malek wat Freddie Mercury geword het, enigsins beter kan wees, lees bietjie hier. Die soete blonde Lucy Boynton wat Freddie se groot liefde van sy lewe – Mary – in die film gespeel het, is nou Rami Malek se rerige lewensliefde. 


Al die nuus hierbo en my persoonlike fassinering is cool. Eks nie skaam daaroor nie. Eks hip en ingelig. Ek lewe van die media. Ek is mediageletterd en weet watter koek ek vir die waarheid kan opeet en watter nie. Mister Trump en sy fake nuus is een van die dinge waaroor ek diep skepties is.

Maar eks effens verleë oor een van my media-nuuskierighede. Vreeslik kommen, ek weet. Maar daai twee prinsesse van Windsor trek my aandag. Ek wil nie kyk nie, maar dis so storie-rig. (Ek weet en ek stem saam: hoe is daar in 2019 bestaansreg vir n koninklike monargie wat miljoene ponde kos?) Ek was ook ‘n sucker vir die arme Prinses Diana. Askies, ek is steeds. Prins Charles is steeds ‘n vark, in my opinie. (Maar ek gaan nie die Huisgenoot en People koop nie, nooit. Nie.) 

My mediaverslaafdheid is egter in ‘n groter konteks gesetel. My proefskrif het gehandel oor ‘n onderwerp wat nie naastenby genoeg aandag kry nie. Nie in 2000 toe ek oor die onderwerp geval het nie, en ook nie nou nie. Dis ‘n volledige skoolvak in alle lande soos Skotland en Hawaii. En dis regtig ‘n onvermydelike moet dat ons almal mediageletterd moet wees, veral met die web en sosiale media. 

Mediageletterdheid. Dis ‘n verbysterend-interessante vakgebied. Ek kan nooit dankbaar genoeg wees date k die vak ontdek het en kon navors nie.

                                     

Ek het tydens daai studiejare van my begin begryp hoe ons onwetend die prooi van die media – koerante, film, musiek, tydskrifte, webwerwe, die internet in geheel, radio en televisie – word en is. Die grondbeginsel is dat geen medium op aarde kan bestaan sonder ons “inkoop” en geld en navolging nie. En baie min media is nie winsgebaseer en winsgedrewe nie, eenvoudig omdat dit duur is om enige medium te bedryf. Papier kos geld, ink kos geld, verspreiding kos geld, radiogolwe en televisieruimte kos geld. Die media kan nie sonder advertensies bestaan nie. En ook nie sonder ons nie. Daaroor mag ons nooit illusies hê nie. 

Toe ek ‘n kind en jong student was, kon ek glad nie begryp hoe die media so goed vir ons is om al die inhoud vir ons te “maak” en te verskaf nie. Ons dink vandag nog steeds so oor baie inhoud in/en die media. 

Ons betaal loskoopgeld vir elke medium en elke adverteerder en elke brokkie nuus. 


Ons glo byvoorbeeld baie naīef, dat Facebook die heel ongelooflikste instrument ooit is om ons met vriende en familie te verbind. Maar jou naam, adres en voorkeure en vriende se name wat deur Facebook geregistreer is, is jou betaalmiddel. Bemarkers en adverteerders vrek vir daardie inligting. Ons is amper soos gyselaars – en ons weet dit nie eers nie. Ons betaal loskoopgeld vir elke medium en elke adverteerder en elke brokkie nuus. 

Solank ons weet die media is nie altyd ons beste vriende nie; dat hulle ‘n betaling en gyselaarsfooi by ons vat vir alle inhoud, is die Kaap Hollands. Dan is ons meer op gelyke voet. Dan mag ons die media verslind en geniet. Want dan kan ons ingeligte keuses maak. Al is ons verslaaf aan Rami Malek en Bohemian Rhapsody en die twee Engelse roses and cream-complexion prinsesse en hulle mans en telgies, weet ons dan ten minste dat die sappige inhoud teen ‘n prys kom. Dit is nie maar net omdat iemand vir ons wil goed wees nie. Die media gebruik ‘n ingewikkelde komplekse proses en bestuurstelsel om geld te maak en ons te laat glo hulle dien ons. Die media se inhoud is maar net een perspektief van een mens of een groep. Dis nie die werlikheid nie. Ons betaal vir elke woord en foto en skinderbrokkie. Ingewikkeld, maar waar. 

So … ek hou duimvas vir Rami Malek en Queen se storie by die Oscars oor ‘n paar weke, en vir Meghan en Kate en daai skatlike klein George. (Ek weet – ek is ‘n common sucker!l)

 


elsabe peplerElsabe Pepler. Ma sonder ‘n kolon in haar lyf. Vrek oor woorde en sinne en nuus en die media. Tweedehandse boekwinkels en biblioteke is belangrik. Super supervisor van nagraadse studente in kommunikasie en ontwerp. My ouma het gesê: “Hierie kind sal nooit ‘n man kry nie; sy’s te parmantig”. Maar ek hou wel baie van honde. En Netflix is beter as … nou ja.

Besoek gerus Elsabe se webtuiste elsabepepler.co.za.

 


Volg Ons Skryf Afrikaans op Instagram


 

0 comments on ““Cool en Kommin” deur Elsabe Pepler

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: