Afrikaans Kortverhale

“Dag van die E-pos” deur Tinus Viviers

Elmien lees haar verhaal deur, stoor dit dan met ʼn sug. Sy gaan dit nie eers instuur nie; dit sal waarskynlik soos die ander net teruggestuur word. Of die karakters gaan nie rond wees nie, of dit gaan te kompleks wees na die keurder se smaak. Sy staan op en maak ‘n beker tee, gaan sit lusteloos op haar woonstel se balkon en kyk na die blou skynsel van die Papegaaiberg. Nou sonder enige direkte sonstrale daarop. Sy proe aan die tee. Dis lekker, sou egter beter gesmaak het met geselskap, maar waar kry sy dit? Haar vriende het so te sê almal saam met JJ verdwyn. Haar oë fokus op ʼn donker kol onder een van die pieke, verbeel haar dis ʼn groot gat en wonder hoe dit sal voel om in die donker daarbinne te beleef. Sy sal ook graag wil weet of haar siel dan sal rus, maar skrik dadelik vir haar gedagtes. Sy sal iets daaraan moet doen anders beland sy weer in dieselfde groef as agtien maande tevore.

Sy het voltyds gestudeer en was op ‘n beurs en na-uurse werk aangewese om te oorleef, want haar ouers kon dit nie bekostig nie. Toe druip sy haar een hoofvak en sou die jaar moes herhaal. Daarmee saam het sy haar beurs verloor; Java het sy kelners se dienstye gehalveer en moes sien hoe ʼn BEE-besigheid haar kontrak vir data vasleggings oorneem. Hoe dan anders, Affirmative Action was die ‘buzz word’, en sy was beide blank en Afrikaans. Sy moes dus afskaal. Een maaltyd per dag, wat al kleiner en kleiner geword het. Fliek was uit. So ook kuier saam met vriende. Daarna was dit nie lank nie en het die donker haar ingesluk. Op ʼn dag het sy dit oorweeg om ʼn oordosis pille te drink. Toe daag daar ʼn e-pos op.

Elmien staan op en kom terug met ʼn dik voulêer. Volgens die indeks, sewehonderd drie en tagtig stukke e-pos. Sy gaan sit weer en maak dit oop. Sommige bladsye het uitstaanmerkers. Heel bo, ʼn uitdruk van JJ se eerste e-pos.

Ek is JJ Vermeulen en is besig met ʼn projek wat my erg vasvat. Professor Eloff het my na jou verwys en gesê hy weet jy sal my kan help. Kyk asseblief na die aangehegte dokument wat die omvang van die projek beskryf en ook die voorgestelde vergoeding.

Sy glimlag gelukkig. As die prof daardie dag naby was, het sy hom meer as net ʼn druksoen gegee. Sy het die aanbod summier aanvaar, opdragte gekry en naslaanwerk gedoen totdat sy sinvolle insette kon lewer. Alles was saaklike e-posse. Tot een oggend. Sy maak die lêer oop by een van die merkers. Nommer 51.

Hallo jy, verskoon asseblief my vrypostigheid, maar ek is gewoond om die mense saam met wie ek werk te ken ensovoorts. Vertel my asseblief meer van jouself. O-ja, hoe lyk jy?

Sy het ʼn rukkie gedink, die nuuskierigheid in haarself voel posvat en kortliks met versigtig gekose woorde geantwoord en haar mooiste foto aangeheg. Toe vra sy ook uit, kry ʼn lang e-pos terug waarin hy onder andere van ʼn groot dogter praat, maar geen woord oor ʼn vrou nie. Daarby ʼn foto van ʼn middeljarige man met ʼn pak klere en ʼn dikraambril. ʼn Regte nerd, het sy haarself voorgestel. Sy vat aan nog ʼn merker.

.

Hallo jy. Vandag moet ek net met iemand praat. Iemand wat nie die mense rondom my ken nie en dus nie ʼn gevaar vir lekkasies inhou nie.

Sy lang vertelling het deernis in haar gewek en haar antwoord het diep uit haar siel gekom. Daarna het persoonlike posstukke mekaar vinniger opgevolg totdat daar daagliks minstens een was, al was dit net om te sê: Hallo, dit gaan goed.

Sy blaai verder, stop by nommer 163 en glimlag gelukkig. Dit was die dag toe sy besef het sy is verlief. Sy wou haar blydskap oor goeie nuus met iemand deel; toe skryf sy vir hom.

As ek vroeër geweet het, het ek kom kuier, het hy geantwoord.

Nou kom dan.

Jammer, erg besig. efijlou

ʼn Traan drup op die bladsy. Die niksseggende letters spel lief jou. Sy het daardie nag met die gedrukte kopie onder haar kopkussing geslaap. Die eerste man wat dit vir haar gesê het, en juis nadat sy al begin dink het sy is onsigbaar vir mans, is dit werd om oor te droom. Daarna het hulle e-posse meer intiem geraak, terwyl die projek soos ʼn sneltrein op die laaste stasie afgestorm het.

Sowat ʼn maand later was daar een aand ʼn klop aan haar deur. Hy. Sy’t so skaam gekry vir haar ou rok. Die een wat deur rooiwyn gevlek was. Sy voel kompleet weer die trillings vanaf haar nek tot in haar kruis. Hy het geruik soos haar pa. Sy asem na Colgate en sy wange na Old Spice.

Dit was ʼn lekker kuier. Hulle het die hele Kaap vol rondgery en was by al haar gunstelingplekke. Sy sien weer die pienk gastehuis in Kleinmond voor haar geestesoog. Daar het hy vir haar ʼn stel ringe belowe en het sy haar maagdelikheid met hom gedeel.

Later het hy haar ook as eregas na die gala-aand genooi waar sy werk as projek van die jaar aangewys was. “Die een wat eintlik al die eer toekom,” het hy haar oral voorgestel. “Hoor hoe jok hy,” het sy telkens geantwoord, maar in haar binneste geblom. Laataand het hy ʼn bos rooi rose en ʼn bottel Dom Perignon onder luide applous aan haar oorhandig voor hulle daar weg is. In haar hotelkamer het hy haar hand in syne gevat. Sy het gewag vir die ring.

“Liefste, ek het ʼn probleem. My vrou wil nie skei nie en ek kan nie van jou verwag om te lewe op hier en daar se gesteelde uurtjies nie.”

Sy kon haar trane nie keer nie. “Beteken dit alles is verby tussen ons,” het sy gesnik.

“Ongelukkig, ja.”

Sy kon nie glo wat sy hoor nie en geweet sy moet iets doen, maar nie wat nie. “Lamsak!” het sy hom toegesnou, “as jy wil trou, sal jy ʼn manier vind.” Sy het opgespring uitgestorm en ʼn Uber gebel. Op pad huis toe het sy drie keer haar luiende foon doodgedruk en dit daarna afgeskakel.

Elmien proe weer aan haar tee. Dis koud. Vies gooi sy dit oor ‘n potplant uit. Hy het weer gebel en e-posse gestuur, maar sy het nie geantwoord nie. Haar hart was nie gebreek nie, dit was flenters. Sy het letterlik nagte om gehuil. Die huil het intussen verdwyn, so ook die oproepe en e-posse. In hulle plek het die donker swart gat teruggekeer. Die plek waarin sy nou wil afsak.

Sy gaan weer in om die leë beker in die kombuis neer te sit. In die verbygaan merk sy daar is ʼn nuwe e-pos. Sy haas haar terug rekenaar toe. Dit kan dalk iemand wees wat op ʼn kortverhaal gereageer het. Sy snak na haar asem toe sy sien van wie die e-pos afkomstig is. Nee, sy gaan dit nie lees nie. Op die punt om dit uit te wis, vang haar oog die eerste sin.

Moet groot asseblief nie delete nie, ek is Suzette (Vermeulen) Forster. Sy besluit om verder te lees. Pa se vingers is deesdae te lomp om te tik, toe vra hy ek moet vir jou skryf en sê hy wil jou weer sien. Hy wil ook om verskoning vra omdat hy daardie aand vir jou gejok het oor die egskeiding. Hy en ma was toe al jare lank nie meer getroud nie. Hy het dit net as verskoning gebruik omdat hy geglo het jy sal die ware een nie aanvaar nie. Sien, hy het daardie oggend gehoor hy het MNS en het besluit hy kan nie van jou verwag om onder daardie omstandighede met hom te trou nie. Hy wou eerder sien dat jy ʼn normale lewe lei en kinders sal hê, ensovoorts. Toe jok die pestilensie vir jou. Grrr ek voeter hom sommer.

Weer sien? Sodat hy haar nog ʼn keer kan los? No flippen ways.

Dan bly jy in die swart gat, berispe haar gewete haar.

Sy lees verder.

Die volgende is van my af.

Pa, praat elke dag oor jou. Ek sê jou hy is steeds lief vir jou en verlang hom siek. Gaan asseblief na hom toe. Jy sal nooit gebrek hê nie, nie. Nie aan liefde nie, ook nie aan lewensmiddele nie.

Suzette.

Heel onder staan: sent from my iPhone.

Elmien huil hardop toe sy klik op ‘Reply’. Ek wil nie sy geld of besitting hê nie!!! Ek sou hom destyds gevat het al was hy ook in ʼn flippen rolstoel en sonder ʼn sent. Sy klik op stuur en staar afwagtend na die rekenaarskerm. Gaan haar e-pos enige reaksie gaan uitlok, indien wel, hoe gou?

Dit voel soos ure wat sy met opgehoue asem sit tot daar weer ʼn e-pos inkom.

Hy wag vir jou. Sê daar is ʼn verrassing by ʼn kuierplek. Die naam klink soos koffie.

Elmien hyg na haar asem toe sy by Mugg & Bean instorm. Hy’s nie daar nie! Hy het tog genoem van koffie. Dan bekyk sy die name: Wiener Mischung, French roast, House blend, Mocca Java.

JAVA!

Sy spring om. Hardloop Java toe.

“Waar’s hy?” vra sy hygend vir Ian, die eienaar.

“Weg.” Ian gee ʼn glas aan. “Hy het ʼn dubbel Jack en ʼn nota vir jou gelos.”

“Gee!”

“Drink eers.”

Sy sluk dit weg en vat die nota.

Dink aan iets rooi.

Die hotel waar hulle geëet het! Met ʼn “Cheers, Ian,” draf sy om die hoek.

Haar asemhaling jaag toe sy die trappies na die stoep uitklim. Bo-op die hoektafel waar hulle een aand geëet het, lê ʼn rooi angelier met ʼn nota daaronder. “Goeie idee, maar die rooi is iets van jou.”

Lipstiffie! Die soen! Sy spring om en hardloop steeg toe, verby die restourante Kauai en Bird, steek dan vas voor Cage. Sy kyk soekend na binne en sien ʼn krom man se rug en ʼn loopraam. Die jong vrou oorkant hom knik vir haar. “JJ!” gil sy toe hy opstaan en sy hom herken.


Tinus Viviers is ʼn afgetrede bankier wat dink hy kan skryf. Sy vrou sê sy beste eienskap is dat hy ʼn vlieg tussen sy twee plat hande kan doodklap, en tweedens wat hieraan gelykstaan, is dat hy die beste butler is wat haar vriendinne nog teëgekom het. Oor sy ander goeie eienskappe is sy huiwerig om oor uit te brei. Moontlik omdat hy so goed en gereeld kook.

Hy speel graag daagliks gholf, en sorg teselfdertyd dat sy tuiswerk altyd op datum is. Daarby is hy steeds verlief…op die twee oulikste goetertjies in die land. Oupa se trots.

 

2 comments on ““Dag van die E-pos” deur Tinus Viviers

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: