Afrikaans Rubrieke

“Kinders is net Kinders” deur Christo Olivier

Sy spannetjie het gewen, nogal maklik ook, met sewe paaltjies.  Sy drie spanmaats wat uit is, is almal uitgehardloop. Hyself het met die kolf uitgeblink, soos hy dikwels doen as aanvangskolwer vir hierdie onder-11 spannetjie van ‘n skool êrens in Gauteng.  

Daar word met elkeen van die teenstanders bladgeskud en toe maak hulle ‘n kringetjie, pette af. Daar word dankie gesê vir ‘n lekker wedstryd en ek glo ook vir die talent om met kolf en bal ‘n spel te kan speel waarvoor hulle lief is. Om dan ook vir ‘n wyle te kan vergeet van wiskunde, NW, tegnologie en wat hierdie nuwerwetse vakke ookal genoem word, en te kan droom van eendag… Om ‘n bal te kan slaan soos AB of te boul soos Dale.

Ek wens die afrigter geluk met wat hy met die jong mannetjies regkry. Hy sê dankie, maar voeg vinnig by “hulle stel vir hulleself hoë doelwitte.” Terwyl almal vrolik babbel en nog ‘n oorwinning vier, sien ek hom aangestap kom, oë bloedrooi gehuil. Dis die aanvangskolwertjie. “En nou jong wat’s fout” vra ek verbaas.  “My pa sê al drie die uithardlope was my skuld” snik hy en vee met die agterkant van sy hand nog ‘n traan wat oor sy wang loop af.

Klein mensies wat aan ‘n grootmenswêreld se verwagtinge moet voldoen, wat vroeg-vroeg al die druk ervaar om te móét wen, en die beste te móét wees.

Ek het toe lus en huil saam, want ons leef nie in ‘n perfekte wêreld nie. Daar is nie iets soos perfekte mense nie. Nog minder perfekte kinders.  Klein mensies wat aan ‘n grootmenswêreld se verwagtinge moet voldoen, wat vroeg-vroeg al die druk ervaar om te móét wen, en die beste te móét wees. Natuurlik is dissipline nodig. En om ‘n wenner te wees is lekker.  Om die trofee omhoog te hou en die applous te ontvang laat jou goed voel. Maar die lewe is soos iemand gesê het, ‘n fyn balanseertoertjie met druk van alle kante. Moet dit nie te vroeg al op kinders aflaai nie. Die meneer van die krieketspan sê alreeds hulle stel vir hulself hoë standaarde.

Op die pawiljoen word vlae gewaai en dreun dit soos die jong klomp skreeu en gil wanneer die skoot klap.

Ek sien hoe hulle oefen; vangskote, trappe uithardloop, kop af in die nette, duiksakke stormloop en ek wonder of hulle nog regtig net kinders kan wees, iets kan ervaar wat nie aan prestasie gemeet word nie. Iets wat jy sommer net vir die lekker kan doen.  Maar ek weet nie. My gedagtes gaan onwillkeurig terug na my kleinkinders se eerste atletiek-byeenkoms op laerskool. Op die graswalle sit ma en pa met kosmandjies gepak. Op die pawiljoen word vlae gewaai en dreun dit soos die jong klomp skreeu en gil wanneer die skoot klap. ‘n Span se kreet word uitbasuin wanneer ‘n uitslag aangekondig word. Ander bedel by pa of ma ‘n geldjie vir ‘n chippie of roomys. Hulle vergeet van boeke oortrek; wil net die dag geniet, terwyl die aankondiger vra dat die kinders wat op die hoogspringmatte speel daar moet wegkom.  

Op die baan tree die seuntjies en dogtertjies aan vir die uitdunne van die 60-meter wedloop. Sommige is vinnig soos hasies, gooi uitbundig hande in die lug by die wenpaal. Maar daar is ook die outjie wat laaste kom, nooit in hierdie wedloop moes gewees het nie.  Maar sy juffrou gee hom ‘n drukkie en ek dink, sy gaan hom hopelik nie net leer lees en skryf nie, maar ook leer dat verloor deel van die lewe is, of soos Elizabeth Kubler-Ross sê deel van die lewe se stormwinde is wat ons maak wie ons is.

Miskien moet die krieketspelertjie se pa ook vir hom leer dat ons almal soms foute maak, jou medekolwer uithardloop, die bal aanslaan met ‘n oop doellyn voor jou, ‘n kosbare blompot laat val of jou kar stamp.  Maar dit maak nie van jou ‘n mislukking nie. Die seuntjie wat in die 60-meter laaste gekom het, staan nou op die verhoog met ‘n sertifikaat en balkie vir akademiese prestasie in sy hand. Hy is toe ook ‘n wenner al was hy eens op ‘n tyd nie een van die rooispan se uitblinkers nie.  


Christo Olivier is ‘n Vrystater gebore en getoë, ‘n ietwat private mens wat hou van stilte en lief is vir die Vrystaatse vlaktes, maar ook die berge en die see.

Hy was van kleins af bietjie van ‘n dromer, maar baie bevoorreg om twee van sy groot liefdes – sport en uitsaai – vir meer as 40 jaar te kon uitleef. Dit het hom instaat gestel om drie Springbok-rugbytoere oorsee mee te maak en selfs een jaar van Wimbledon af uit te saai.

Hy saai nog bietjie uit vir Supersport, lees graag, speel bietjie tennis en bring tyd saam met sy twee dogters en drie kleinkinders deur. Vis, skaapboud en frikadelle is van sy gunsteling kossoorte.

2 comments on ““Kinders is net Kinders” deur Christo Olivier

  1. So baie waar. ‘n Kind se beste is genoeg… en soms hoef dit nie eens sy beste te wees nie…. sy probeer is ook alreeds genoeg.

    Like

  2. Baie goed geskryf. Waardering vir hom as mens.

    Like

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: