Ek versamel graag klippies, skulpe en plantsteggies orals waar ek gaan, om die plekke te onthou wat ek besoek, iets daarvan vas te vang en na my huis en tuin te bring.
Ons hou daarvan om rond te snuffel by vlooimarkte, antieke winkels, die boeremark of kunstefees, om iets unieks en spesiaals te vind.
Eerder as om herinneringe te versamel, het baie mense die behoefte om dinge te versamel. Om hulself te herinner aan die reise wat hulle geneem het, om aan hulself of aan ander te bewys dat hulle die wêreld gesien het. Of dalk vir ‘n ander instinktiewe en onverklaarbare rede. Ons gee betekenis aan voorwerpe en hulle word deel van ons storie. Ek glo dat dit wat ons versamel, baie van ons verklap. Ons hou daarvan om rond te snuffel by vlooimarkte, antieke winkels, die boeremark of kunstefees, om iets unieks en spesiaals te vind. Ou muntstukke, ʼn seëlversameling, porseleinpoppe, ʼn nuwe vetplant…
Daar word selfs gesê dat Bloemfontein, wat voorheen bekend gestaan het as die Rosestad, deesdae die Vetplantstad is, so gewild het die kweek en versameling van vetplante geword.
Ek hou daarvan om by elke plek wat ek besoek, te probeer dink watter les ek daar kon leer en dan iets saam te bring wat my daaraan sal herinner. Wanneer die lewe my druk, ek inspirasie of oplossings soek, sal jy my onder ‘n boom op ʼn bankie in my tuin vind. Daar kyk ek na my plante, skulpies en klippies en bepeins die lesse wat ek by elke plek geleer het.
Ek onthou nog die dag: herfs en die pad besprinkel met helder wit en pienk kosmosse en daar is plate sonneblomme in volle blom.
Kaapse-klimop uit die berge naby Clarens, kosmosse en goudgeel sonneblomme wat gegroei het uit saad wat ek langs die pad geoes het. Ek onthou nog die dag: herfs en die pad besprinkel met helder wit en pienk kosmosse en daar is plate sonneblomme in volle blom. Dit lyk asof hulle vrolik langs die pad vir almal waai wat verby ry. Hulle verwelkom jou in ʼn wêreld met ‘n oerou energie wat jou siel sal heel. Die natuur kan genesing bring.
Woestynrosies uit Kroonstad. Dis warm en droog daar gewees, maar die woestynrosies was in volle blom. Hulle kleur wissel van dofgroen, ligpienk, duifgrys en ysblou, afhangende van hoe die son hulle vang. Ek moes een saambring. As ʼn simbool van veerkragtigheid en aanpasbaarheid. Hulle lyk altyd mooi en groei in die koudste winter en warmste somer. Trotseer droogtes en vloede.
ʼn Spekboom-steggie uit Kaapstad.
Ek stap vir oulaas in die hotel se tuin voordat ek moet terugvlieg Bloemfontein toe. Ek pluk ʼn steggie af. Die stormsterk wind maak rimpels en duike op die bloubruin water in die kanale by Canal-Walk. ʼn Egiptiese gans beur wind-op, maar bly op een plek in die lug vassteek. Sy gee nie op nie, al waai die wind haar byna uit-asem. Deursettingsvermoë.
Dryfhout en Abelone skulpe uit Jeffreysbaai.
Ek onthou die dag wat ons ons verkyk het aan ʼn olifantrob wat op Aston Baai, net buite Jeffreysbaai, se strand sy verskyning gemaak het. Dit was die laaste ding wat ons daardie dag verwag het om te sien. Hy het byna soos ʼn groot hond gelyk. Hul natuurlike habitat is die diep Suidelike Oseaan-eilande, soos Marion-eiland. Hulle kom net aan land om te verhaar of te rus, waarna hulle weer na die water terugkeer. Die lewe is vreemd en interessant. Daar is nooit ʼn vervelige oomblik nie.
Dan is daar die grys klippies en wit skulpies wat ek op Bloubergstrand opgetel het.
Rye klein wit perdjies jaag resies op ʼn kobaltblou see by Bloubergstrand. Die helder son, grysblou berg en spierwit sand. Robbeneiland in die verte. Die wind waai liggies op die sand en blaas ʼn koel sandsproei oor die nat sand en skulpe. ʼn Skoon sout-oseaan reuk in ons neuse. As Tafelberg kon praat, watter stories en geheime sou die berg nie vir die see en strande kon vertel nie. Die lewe is misterieus en vol raaisels.
Die realiteit is egter dat al versamel ons ontelbaar dinge en raak ons hoe verknog daaraan, ons niks van hierdie dinge saamneem as ons eendag nie meer op aarde is nie. Miskien kan ons eerder begin dink aan die dinge wat ons gaan nalaat wanneer ons nie meer hier is nie.
Ons laat iets van onsself agter in elke kontak en kommunikasie wat ons met mense het, elke plek wat ons besoek het, elke woord wat ons gepraat of geskryf het.
Kunstenaars, musikante, skrywers en ander kreatiewe siele kan iets van die onsterflike in hul werk vasvang. Hulle probeer om die oomblik waarin hulle leef, te gryp en vas te vang en op ‘n artistieke manier aan te bied. Met hul kuns, musiek en skrywerwerk laat hulle iets na.
Dalk ʼn sprankie hoop gegee het vir iemand wat alle hoop verloor het?
Het jy al daaraan gedink dat as jy ʼn boom plant, dit jou dalk kan oorleef? Die oudste boom wat deur mense geplant is, is glo ʼn 2300-jaar heilige vyeboom in Sri Lanka. Het jy al besef dat jou aanmoediging, vriendelikheid en aanvaarding dalk iemand se lewe kan verander, en lank nadat jy nie meer hier sou wees nie, die wêreld ʼn beter plek kon gemaak het? Dalk ʼn sprankie hoop gegee het vir iemand wat alle hoop verloor het?
En laaste maar nie die minste nie; is dit nie belangriker om herinneringe te skep vir jou geliefdes, as om dinge te versamel nie..?
“Why fit in when you were born to stand out?” deur Dr. Seuss, is Ansja Ferreira se gunsteling leuse. Sy is ʼn “free spirit” wat hou van sprokies, meerminne, engele en feetjies en is ʼn skrywer van stories, liedjies en artikels. Sy het ʼn Honneursgraad in Kommunikasiekunde met Joernalistiek as hoofvak en is tans besig met haar Meestergraad in Kreatiewe Skryfkuns aan die Universiteit van die Vrystaat. Daar is nooit ʼn vervelige oomblik in haar huishouding nie en jy sal haar die meeste van die tyd in die tuin kry tussen haar plante en diere.
Volg Ons Skryf Afrikaans op Instagram
0 comments on ““Die Dinge wat Ons Bymekaar Maak” deur Ansja Ferreira”