Afrikaans Rubrieke

“As musiek begin speel…” deur Kerneels

Vroeër die week kom een van die maatskappy verteenwoordigers die kantoor ingestap, waar almal in stilte sit en slegs die geluid van vingers oor sleutelborde gehoor kan word.

“Kan ons nie maar die ou jukebox weer opstart nie? Dis grafstil hier binne.”

Een van die jonger dames skakel die rekenaar in die verste hoek van die oopplan-kantoor aan, teken aan en vra waarna ons wil luister.

Een van die manne kom tik “Bosveld Stereo” op Google in en die volgende oomblik begin die luidsprekers te blêr.

Eers is ek geïrriteerd met woorde soos “Soms is jy hartseer, want jou hart is seer….” Duh. Klink soos die tannie Saterdag in Parys by Die Plek, wie agter my gesit het en vir ‘n ou skoolmaat vertel: “As ek jou nie opgespoor het nie, het ons jou seker nooit opgespoor nie…” Maar soos die dag vorder, begin iemand se fluit opklink saam met die musiek. Nog iemand neurie sag saam. Een van die grafiese ontwerpers se stem klink met elke nuwe liedjie op van heel agter uit die kantoor met “What a song!” Dit laat die jonger mense na fone gryp om te “Shezaam”…

Bosveld Radio speel ouuuuuu musiek. Goed wat Noag moontlik gebruik het om die diere mee ark toe aan te jaag. Ander wat sy vrou gebruik het om die vlieë uit die ark se kombuis te hou. En soms musiek wat gebruik was om hulle te herinner dat dit soveel erger kon wees: Die Briele.

Kort voor lank draai die teetyd gesprekke rondom die ouer dae. Toe die musiek vir ons paar ouer hande nuut was. Treffers wat op die Springbok Radio Hit Parade en LM Radio Treffersparade se Top 20 lysies van beste verkope van seven singles was in die jare toet.

Met die opklink van BZN se Amore, lê ek skielik weer op die mat in die sitkamer van ons ou huis in Drie Riviere in die jaar 1993/4 se tyd. Pa het vir my ‘n ou Beta Video masjien gegee, net toe VHS masjiene begin groot word in Suid Afrika. Beta kassette was skaarser as hoendertande, en ek moes maar werk maak met die stuk of 10 kassette wat ek gehad het. Ek sou in die aande die masjien opstel sodat hy “Rewind”, wat Clive Bruce nog daai jare aangebied het, opneem op een van my kassette. Dit het gewoonlik na agtuur in die aand gewys. Ongelukkig in die tyd wat ons ook in droomland moes wees.

Die volgende middag na skool sou ek dan met oorfone myself op die mat tuis maak, en die musiek videos oor en oor kyk. En BZN was my gunsteling. Ek kon ure na hul musiek videos kyk. Jan Keizer en Carola Smit het my altyd vervoer na eksotiese eilande met hul stemme. Carola het altyd sulke helder rokke gedra en groot blomme in die hare gehad met die mooiste glimlag op haar gesig. En die manier wat sy en Keizer na mekaar gekyk het terwyl hulle sing, het mens altyd laat dink dat dìt is hoe verliefde mense moet lyk. Ek het onlangs op die program “Beste Zangers van Nederland” gesien hoe iemand een van BZN se liedjie sing en hoe Keizer ‘n traan wegpink. Hy mis daai dae seker net so baie soos ons, hul destydse aanhangers.

Na ek my opneem storie aan die kantoor mense vertel sien ek hoe een van die jong aankopers my so half verbaas aankyk. Asof sy nie weet waarvan ek praat nie

“Weet jy wat ‘n videomasjien is?” vra ek.

“Nie regtig nie,” kom die antwoord.

Vanoggend sing Patricia Lewis net so voor 10-uur een van haar heel eerste treffers van die tyd toe Afrikaanse sangers dit goed gedink het om Engelse treffers te “verafrikaans”.

“Het julle actually na die goed geluister?” vra een van die ander jonger dames weer.

Ek staan op. My ogies blink sommer van opgewondenheid om te vertel presies hoeKOM ons na haar musiek geluister het.

Die nuwe Shoprite in Drie Riviere was destyds nog ‘n OK/Checkers gewees toe ons daai CD gekoop het. Patricia Lewis se foto, waar sy in so wit rokkie op groen gras sit, was op die voorkant van die CD. Dit was Pa se heel eerste CD wat hy ooit gekoop het. Langspeelplate was besig om van die mark af te verdwyn om plek te maak vir die veel kleiner CD. Inkopies was natuurlik baie makliker. Ons het destyds nog winkels toe gestap vir inkopies. En ‘n plaat was groot vir ‘n lat van my ouderdom om huis toe te dra.

Die kere wat ons wel met die motor dorp toe gery het vir einde-van-die-maand-besigheid, was die beplanning vir die dag van so aard dat alle inkopies en rekening betalings eers gedoen is voor daar vleis gekoop was. Daai jare was lugversorging in motors ‘n luukse. Eers nà die vleis gekoop is, het Pa sy plate gaan koop. Nie andersom nie.

Daai jare was slaghuise ‘n kuierplek. Om dus vleis te gaan koop was nie net ‘n geval van “Kan ek asseblief een kilogram maalvleis kry? Dankie. Lekker dag” gedoente nie. Die slagters daai jare het lekkergoed op die toonbank gehad vir die kinders wat persoonlik uitgedeel is na ‘n geselsie oor skoolwerk of rugby/stoei met die kind aangeknoop is. Daar was altyd geproe aan die biltong en droëwors. Geselskap was oor waar die vleis vandaan kom en die resep van die wors ensovoorts. En almal was altyd ou skoolvriende van almal. Pa kon dus nie die plate koop voor die vleis nie, anders sou die plate in die kar smelt terwyl ons lekkergoed eet en pa gesels oor Blommetjie die melkkoei van plaas Moeg-gesukkel wat vanaand gebraai gaan word. Van die os op die jas: ‘n gesmelte plaat het altyd oulike blombakke geword. En deesdae sien ek mense gebruik dit vir plekmatjies by troues…

Om terug te kom na Patricia Lewis… Pa het destyds pas ‘n Sony hoëtroustel aangeskaf. Hy kon plate, CD’s en kassette speel. Ek het eintlik daai jare al by Ma geleer van liedjies op bandjies opneem. Dit was nou op die Blaupunkt radio, voor die Sony. Daar was Saterdae aande altyd die Springbok Radio Hit Parade op radio en ons kinders se werk was om voor die radio te sit en te wag tot die aanbieder se stem wegraak en die liedjie in volle swang speel, voor ons die rooi “record” knoppie moes druk om die liedjie op te neem. Ons moes weer die “pause” knoppie druk net sodra die aanbieder se stem amper aan die einde van die liedjie oor die liedjie begin praat. Daai bandjies was dan die middel-van-die-maand-entertainment tot betaaldag, wanneer Pa dan die plate waarop die liedjies was, sou gaan koop. Springbok Radio Hit Parade plate met so baie kunstige kaal vrou met hare wat die res van die plaat se voorkant bedek. As mens vinnig na die plaat kyk was dit net mooi lyne. Maar kyk jy dieper, sien jy die buitelyne van ‘n kaal tannie wie op haar hurke sit, omring deur hare wat lyk soos pouvere… Dan was daar ook ‘n ander groep plate met skrams geklede tannies met groot… kug-kug… hoedens op hul koppe. Maar ek kan nie onthou wat die plate se name was nie.

Weereens, terug by Patricia Lewis. Daai jare was die keuse van CD’s maar baie min. Afrikaanse musiek was half op ‘n stilstand gewees. Gè Korsten het na al die jare nog steeds gehunker na Santa Fe se klokke. Rina Hugo het elke jaar Stille Nag net op ‘n hoër toonhoogte laat opneem en ‘n ander foto op die plaat laat druk en dit verkoop as ‘n nuwe plaat. Soms het Tannie Rina en Gè ge-collaborate om seker te maak daar was iets nuuts op die rakke en ‘n paar rand in hul sakke. Bles was vir ‘n wyle te besig met sy Marietjie om te dink aan sing. Tannie Cora het jaar na jaar haar Mamma Leonie gemis. Sonja Herholdt het verlang na iemand en het vir Jantjie bly vra om huis toe te kom. Niemand weet egter waarheen Jantjie moes gaan nie, want hulle was mos almal van Skipskop afgeskop. Punt is, die musiek was regtig jaar na jaar dieselfde.

Patricia Lewis en Jurie Els met sy CD met, ironies genoeg, die naam van “Vat-Vat” het so saam-saam Checkers in Drie Riviere se rakke getref.  Soos ‘n vars briesie. En Pa het ‘n CD gesoek om die nuwe Sony mee te toets.

Dis maar hoe Patricia Lewis meeste mense se huise binne gekom het. Dit was min of meer al wat daar daai tyd op die rakke was. En of ons dit nou hardop sal erken of nie, die maand daarna het Jurie Els selfs probeer “vat-vat” in ons huis.

Soos DJ Opperman in sy gedig “Sproeireën” sy herinneringe wat vasgevang word in geure so mooi met ons deel, is daar ook sulke herinneringe vasgevang in musiek. Soms ‘n gevoel van opgewondenheid, soms verlange na iemand en soms ‘n traan.


Kerneels droom daarvan om die land se paaie plat ry met sy kar of motorfiets (enigiets met wiele). Om fotos te neem van sy reise en eendag saam met sy stories in ‘n boek te plak. Wanneer hy egter nie drome droom nie, werk hy as ‘n sisteem-bestuurder vir ‘n flexo-grafiese maatskappy. Hy is oortuig daarvan dat hy die mees interessante werk op aarde het. Hy woon in Vereeniging, waar hy en ‘n vriend ook deeltyds met chilli’s boer wat hulself inlê en verkoop onder die handelsnaam, The Little Pickle Co. 

0 comments on ““As musiek begin speel…” deur Kerneels

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: