Afrikaans Rubrieke

“Oor Koos Kombuis en die Rakleeftyd van Afrikaans” deur Carla Botha

Op vyftien-en-sestien-jarige ouderdom beloof my ma my peper in die mond en ’n houtleppel op die boud
indien ek sou aanhou vloek soos ’n matroos, want sy sê

sy het my nie so groot gemaak nie.

Ek voel wel
soos ’n rebel, ’n vryheidsvegter, soos ’n straatbrak
want as ek saam Koos sing gee dit my volreg tot vloektaal, of so vertel ek myself.

Vir my ma vertel ek: dis nie ék wat vloek nie dis die lirieke
en as mens wil saamsing moet jy die lirieke ken,
ek gaan ook nie neurie nie want dit put my neusvleuels uit!

Ouma het my ook eendag lank gelede laat beloof om nooit
die woord ‘fok’ te gebruik nie.  Ai oumie, jammer ek het gefaal,
maar ek het geslaag in soveel ander dinge.  Ek hoop
die ander dinge kan opmaak vir my taalgebruik,
veral wanneer ‘n taxi voor my inry sonder ’n flikkerlig,
of wanneer ek die oggendnuus lees en verneem
van nog ’n verkragting of moord.  Jammer ouma,
maar dis moeilike tye waarin ons leef —
ons klim ’n ander tipe Drakensberg kaalvoet…
Ene vol trêps en kontrêpsies wat ons menswees
en bestaan aanhou toets.  As dit maar net muisvalle was,
in plaas van slaggate en plaasaanvalle.
Ek wil nie hieroor uitbrei nie.

Ek verkies liewer om sestien jaar later (sonder ‘n vals kitaar)
steeds na Oom, nee Koos Kombuis te luister,
want hy verwoord telkemale wat aangaan in my hart en siel.
Hy kry dit reg om my grysstof opgewonde te laat
borrel met sy kreatiewe skryfwerk.

Hier waar ek sit en skryf, herinner ek myself dat
dit die jaar 2019 is, en steeds is sy lirieke van toepassing
op die huidige situasie in die land.  In Afrikaans My Darling (2003)
noem Koos Kombuis so terloops van Chris Barnard se afsterwe
en Fidel Castro se besoek aan Suid-Afrika, terwyl niemand
’n oogknip nie want Big Brother kry al die aandag.
Ek dink niemand het destyds ’n oog geknip nie want
nés huidiglik, is ons almal al só ge-desensitized met
alledaagse misdade en bollie wat die land
en sy inwoners lam-lê, dat ons die nuus liefs ignoreer.

Moord haal nie eens meer die voorblad nie,
maar word op bladsy 6 gelos, so asof dit ’n terloopse,
en oh by the way nagedagte moet wees.
Intussen moet ek myself herinner om nie verder
my hare uit my kop te trek nie,
want dit val any way vanself uit oor al die ‘komkommer’…
My gedagtegang slaan bollemakiesies.
Wat van ons land en al sy goeie mense…?

Ek sit ‘n CD aan (tot CD’s is nou al uit die oude doos).
Koos begin sing en ek begin saam blêr.
Ek’s nie ‘n sanger nie, ek skryf liewer…
My belofte aan ouma breek
dié keer in ’n duisend klein stukkies,
want Die Fokôl Song eggo daai taboe-woord kliphard,
oor en oor. Dit smaak soet soos die sjokolade
wat ek baie dae gegaps het uit ma se bedkassie laai.

Soet! Soeter! Verbode! Vir ’n oomblik verbeel ek my
hoe Eva moes voel nadat sy die vrug met ope hande
ontvang het van daai slang in die prentjie-paradys
wat altyd in kinderbybels pronk…maar
ek sing en ek sing sodat my brein kan vergeet.

“Van ons vriendelike democracy so maak jouself maar tuis
Fokôl petrol, fokôl diesel, fokôl TV, fokôl krag,
fokôl water in jou whisky
fokôl jokes om voor te lag,
fokôl pille by die kliniek
fokôl dokters as jy vra
fokôl ouens om die vullis op jou pavement weg te dra

Welkom in Suid-Afrika
Ja, welkom in Suid-Afrika”

Koos slaan die spyker alweer op die kop met sy liriek.
Dan skielik, van die os op die jas, verlang ek
na my studentedae — nie dat ek gaande was
oor Pretoria nie, maar wel omdat ou Hatfield (wat ook tot nuut is)
baie van ons topklas, kontemporêre Afrikaanse kunstenaars
gehuisves het.  Ek kan nie onthou of Koos Kombuis ooit
in Hatfield opgetree het nie, maar ek kan wel onthou
dat Klopjag, Ddisselblom, Wasserfall, Karen Zoid en Pieter Koen
gereeld hul stemme kom verhef het in Hatfield Square.
En soms het Pieter sommerso op die kitaar
een van Koos se liedjies gespeel.  En dan
het al wat ‘n student is — dronk en nugter saam gebulder…

Johnny was ‘n genius, Johnny was ‘n fokkop
Johnny, Johnny stadig nou, Johnny, Johnny kap dit flou

So het ‘n paar duisend jonges vele nagte saam gevloek in Afrikaans.
Ons het gedink, gedrink en gevoel dat ons kragtig en magtig is
sonder perke, nes super-helde, want luister; maak oop jou ore; hoor!
Afrikaans is lewendig!
Afrikaans het ’n stem!
Afrikaans word gepraat en gesing en ‘gevloek’.
Afrikaans het volle bestaansreg, en as jy my nie wil glo nie,
gaan sit en luister net na enige Afrikaanse musiekfees of saamtrek.

Afrikaans is soos die East African Giant Snail.
Mens maak die slak nie sommer van kant nie — nie met gif nie,
nie met vuur nie, nie deur kwarantyn nie.
Dis nou vir jou ’n harde dop wat nie sommer vrek nie.
Laat Afrikaans dan maar soos die tamaai slak wees.
Stadig maar seker sal Afrikaans vorentoe beweeg
al word dit hand en tand beveg.

Afrikaans het geen rakleeftyd en nog minder ’n vervaldatum.

En net so ’n laaste gedagte.  Hartlike dankie Oom, nee Koos Kombuis —
mag Afrikaans nooit jou bydra tot die taal betwis of ontken nie.

Foto krediet: Koos Kombuis, Die Pinotage Song ©


carla bothaCarla Botha put daagliks genot uit studente-kaskenades in die klaskamer, en uit ‘n hele paar bekers vars gebroude swart, bitter koffie. Sy is gek daaroor om die pad te vat na vreemde plekke op veraf kontinente, en glo die wêreld is baie kleiner as wat ons wil glo.  Haar vier honde en stertlose kat is die rede vir haar tuiskoms elke aand. Huis is immers waar jou hond(e) wag om gevoer te word.

Sy het ‘n graad in Engels literatuur en kreatiewe skrywerk, asook ’n graad in Sport Didaktiek-en-Afrigtingswetenskap. Sy is tans besig met haar meestersgraad in kreatiewe skryfwerk.

 

  

 

1 comment on ““Oor Koos Kombuis en die Rakleeftyd van Afrikaans” deur Carla Botha

  1. Ja, (oom) Koos het geweet waarvan hy praat

    Like

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: