“Hoekom gebeur dit met ons pappa,” het die seuntjie vir sy pa gevra wat in gietende reën ‘n papwiel moes omruil. “Dis maar die lewe seun,” was die eenvoudige antwoord. Jip, dis die lewe, “dit wat met jou gebeur terwyl jy iets anders beplan,” soos die Amerikaanse skrywer en joernalis Allen Saunders dit mooi opgesom het.
Maar ons weet mos die lewe is baie ander dinge ook. Vir sommige ‘n leerskool, ‘n misterie, ‘n uitdaging, ‘n raaisel, ‘n legkaart met baie stukkies wat nie in mekaar pas nie. Vir ander is dit ‘n spel, ‘n avontuur of ‘n lied soos iemand nou die dag vir my sê al ken ons nie altyd die woorde of die wysie nie.
Vir Rick Warren is die lewe ‘n toets, groot veranderings, beloftes wat nie onmiddellik waar word nie, onmoontlike probleme, onbeantwoorde gebede, onverdiende kritiek en sinlose tragedies.” Iets soos Vanderbijlpark dink ek. Sinloos? Nee, sê Warren. “Niks wat gebeur, is sonder betekenis nie.” Betekenis? Op hierdie aarde sal ons waarskynlik nooit daai antwoord vind nie.
Ek gaan soek nogtans iets daarvan in die Vanderbijlpark tragedie, veral omdat ek lank terug self kinders by die skool afgelaai het en deesdae, al is dit net soms, ook kleinkinders. Soms met ‘n geskarrel, ‘n gryp van tasse, uitspring, ‘n vinnige ek-is-laat, moet hardloop, ‘n waai met die hand en ‘n bye oupa. Ander kere is dit rustiger, is daar tyd vir ‘n drukkie, jy moet ‘n mooi dag hê, lekker toets skryf en ‘n ek is lief vir jou. Nooit, maar nooit kom die gedagte by jou op dat dit dalk die laaste keer kan wees nie. Dis tog nie hoe die lewe veronderstel is om te wees nie. Of is dit? Miskien tog. Ons ervaar dit maar net verskillend.
Soms ry jy vrolik op die hoogste brander; ander kere gryp hy jou net en sleep jou holderstebolder saam sodat jy geen beheer het oor waar hy jou uitspoel nie.
Elkeen se pad loop maar anders. Ons sien mos maar net deur ‘n spieël in ‘n raaisel het Paulus geskryf. Soms ry jy vrolik op die hoogste brander; ander kere gryp hy jou net en sleep jou holderstebolder saam sodat jy geen beheer het oor waar hy jou uitspoel nie. Dit help nie om daarteen te skop nie, jy het nie ‘n keuse nie, soos uitgespel deur die verpleegster Evelyn gespeel deur Kate Beckinsale in die rolprent Pearl Harbor aan haar een minnaar Rafe : “All I ever wanted was for us to have a home and grow old together, but life never asked me what I wanted?’’ En dis hoe dit is. Die lewe vra nie altyd vir jou wat jy wil hê nie. Adam Small is reg: Dikwels val die dice maar net verkeerd vir jou, dis al.”
Helaas, is dit ‘n lewensles wat ons nie graag wil leer nie, ‘n toets wat ons dikwels druip. Hoekom kan die gordyn van die lewe soms nie net so effens weggetrek word nie? “Wat as” of “sê nou maar” is nie taal wat ons graag wil hoor nie. Ander kere aanvaar ons eenvoudig wat gister normaal was, sal vandag weer so wees. As die loopbrug by die skool vir hoeveel jaar geen krake getoon het nie, hoekom sal hy op een betrokke dag net ineenstort met hartverskeurende gevolge. Sommige was gelukkig, het die ramp oorleef, ander wat nog baie drome gehad het se lewensdraadjie is in ‘n oogwink kortgeknip, iets wat nêrens in hulle beplanning was nie. Hulle was op die regte plek, maar op die verkeerde tyd, soos amper drie-duisend mense op 11 September 2001 in Amerika.
Net meer as 2,600 mense in die World Trade Centre het hulle lewens verloor. Vir sommige wat daar moes gewees het, het die dice reggeval bloot weens omstandighede, soos ‘n wekker wat nie afgegaan het nie of klein besluitjies wat baie van ons seker daagliks neem soos om uit te gaan om te gaan rook, eers gou by die haarkapper in te loer of die motor vir ‘n diens te neem net om te hoor die garage maak eers later oop. So, wag maar ‘n bietjie.
Marya Gwadz het haar eersteling verwag, was naar, het sleg geslaap, later as gewoonlik werk toe gegaan en toe boonop met die ondergrondse trein ‘n stasie te vroeg afgeklim net om te sien hoe die rook uit die reuse torings borrel. Crystal Brown het ‘n werksaanbod gehad en sou die dag vir ‘n onderhoud na die Handelsentrum gegaan het, maar weens ‘n gebreekte verlowing die vorige dag was sy hartseer en is die afspraak uitgestel.
Toeval? Vir sommige ja, ander se lewens klink soos ‘n sprokie; ‘n feëverhaal. Hulle streep was bloot nog nie getrek nie. Violet Jessop was ‘n kelnerin en verpleegster wat drie ernstige seerampe, onder andere die Titanic, oorleef het. Daar is later na haar verwys as “Miss Unsinkable” en ‘n Nederlandse fietsryer, Maarten de Jonge was tweekeer bespreek op vliegtuie wat neergestort het, maar elke keer het die geluksgoding breed vir hom geglimlag. Eers was dit Vlug 370 van die Maleisiese Lugredery wat net verdwyn het en nooit opgespoor is nie en toe vlug MH17 wat oor die Oekraine neergeskiet is. In die eerste geval het hy bloot na ‘n vroeër vlug verander, en in die tweede een het hy ‘n goedkoper kaartjie op ‘n ander vlug gekry. Die laaste bladsy van hulle lewensverhaal was duidelik nog nie geskryf nie.
Leo Buscaglia sê hy soek lankal nie meer na antwoorde op al die hoekoms en waaroms nie. Niemand kom in elk geval lewendig uit hierdie lewe nie. So, die tyd om te leef, te leer, te gee, te deel, iets te vier en om lief te hê, is nou. Jy kry dalk nie soos van die mense hierbo ‘n tweede kans nie.
Christo Olivier is ‘n Vrystater gebore en getoë, ‘n ietwat private mens wat hou van stilte en lief is vir die Vrystaatse vlaktes, maar ook die berge en die see.
Hy was van kleins af bietjie van ‘n dromer, maar baie bevoorreg om twee van sy groot liefdes – sport en uitsaai – vir meer as 40 jaar te kon uitleef. Dit het hom instaat gestel om drie Springbok-rugbytoere oorsee mee te maak en selfs een jaar van Wimbledon af uit te saai.
Hy saai nog bietjie uit vir Supersport, lees graag, speel bietjie tennis en bring tyd saam met sy twee dogters en drie kleinkinders deur. Vis, skaapboud en frikadelle is van sy gunsteling kossoorte.
Goed geskryf. Dis waar, soms kom die antwoord eers as jy dit nie meer soek nie
LikeLike
Ek glo nie aan die geluksgodin nie – ek glo nie aan toeval nie – ek glo wel aan ‘n Vader wat op die regte tyd bemoeienis met ons lewens kom maak omdat Hy alleen ‘n blik in daai toekoms het. Ek het die blog baie geniet, van die opskrif tot jou laaste sin!
LikeLike