Afrikaans Rubrieke

“Oor Blydskap en Eskom en Prediker” deur Ilse Smalberger

Na afloop van die onlangse Blydskapdag deel Ilse ernstiger idees oor dié dag en wat dit in Suid-Afrika beteken…

***

Vandag is Internasionale Dag van Blydskap.  Indien jy nie geweet het nie, is die dag deur die Verenigde Nasies uitgedink – spesifiek deur ‘n man met die naam Jayme Illien. Hy het die voorstel aan senior VN-amptenare gemaak om ‘n wêreldwye dag van blydskap te vier en daardie dag is nou toevallig elke jaar op die 20ste Maart.  

Ek weet nie hoekom Illien so blye mens was nie.  Ek wonder of hy een oggend onder die stort gestaan het, ‘n vrolike deuntjie gefluit het en toe gedink het, “sal dit nou nie lekker wees as almal op aarde so bly kan wees soos ek nie!”

Al wat ek weet, is dat Illien nie nou in Suid-Afrika woon waar ons die dryfsand van Eskom se Fase 4-beurtkrag moet trotseer nie.  Fase 4-beurtkrag maak my beslis nie bly nie en dis moeilik om te voel die lewe is ‘n lied as jou krag enige oomblik kan afgaan.

Wel, nie enige oomblik nie. Ek lees nou die dag iemand sê op Facebook dat as Eskom so doeltreffend met die generering van elektrisiteit was, as met die toepassing van hulle beurtkragskedules, dan was hulle nie nou in die moeilikheid nie.

Maar terug na die Internasionale Dag van Blydskap. Vanjaar se tema is Happier Together en die fokus is op dít wat ons in gemeen het, eerder as dit wat ons van mekaar skei. Soos beurtkrag, byvoorbeeld.  Ons almal in Suid-Afrika het dit in gemeen en daarom kan ons almal na hartelus vir Eskom op Twitter uitskel en ten minste só van ons frustrasie ontslae raak.

Ek is jammer, Mnr. Illien, ek probeer regtig hard om vandag gelukkig te wees ter viering van die dag waarin jy so baie breinkrag belê het.  Kom ek probeer weer.

Een ding wat my baie gelukkig maak, is reën. Ons het verlede week ‘n baie lekker bui reën hier in die sentrale binneland gehad.  Die reën het op ons almal geval, en mens en dier verkwik. Ons was almal baie bly daaroor.

Sien jy, Mnr. Illien, heh? Ek kan daai positiwiteitskakelaar aansit met die kliek van ‘n knoppie.  Net jammer dis nie so eenvoudig om my kombuisligte aan te skakel nie. Maar nee! Vandag sal ek nie kla oor Eskom, die politiek, inkomstebelasting of die petrolprys nie.  Nie vandag nie!

Vandag sal ek blydskap verkondig, al moet elke laaste glimlag wat ek oor het uitwurg.  Want môre kan die moedeloosheid my weer oorval. Moedeloosheid met Eskom, ja, en met soveel meer…  

Moedeloosheid want ons lewe in ‘n stukkende, stukkende wêreld. ‘n Wêreld waar kinders mekaar met messe by die skool doodsteek, of volwassenes klein kindertjies voorlê en letterlik hulle lewens verwoes.  ‘n Wêreld waar mense met outomatiese gewere by skole of kerke instorm en voor die voet skiet. ‘n Wêreld waar weerspatrone heeltemal hand uitruk weens klimaatsverandering, en waar belangrike mense in magsposisies dit eerstens nie glo nie, en tweedens niks daaraan wil doen nie. Moedeloosheid, want die donker kruip al nader. Dit sypel deur ons grensposte, en vloei deur ons stede en soos ‘n reuklose gas, dring dit ons huise binne.  

As hierdie gedagtes by my opkom, lê die angs vlak in my bors.  Die gedagtes rol en maal en tuimel, totdat dit soos ‘n omgekeerde boks Lego-blokkies op ‘n speelkamer se vloer lê.  

Ek gaan sit op my stoep en vryf my katte en kyk op na die bloue hemel en dink waar my krag vandaan sal kom.

Dan dink ek aan Albert Einstein wat gesê het, hy dink nie aan die toekoms nie — dit kom gou genoeg.  Ek gaan sit op my stoep en vryf my katte en kyk op na die bloue hemel en dink waar my krag vandaan sal kom.  Ek dink aan die goeie in my lewe – en daar is soveel goed. Ek probeer dink waar ek kan help, kan gee van my goed of my tyd, of my kennis, want daar is altyd iets om te gee en altyd iemand wat dit nodig het.  Dis nie ‘n quick fix nie, maar een van my gunsteling aanhalings van Franklin D Roosevelt is, when you get to the end of your rope, tie a knot and hang on.

Hang on.  Byt vas. Byt vas vir nog ‘n dag.  Ek wonder baie keer hoe die “mense in die ou tyd” (by gebrek aan ‘n beter term) oor die toekoms gedink het.  Of oor die hede? Kom ons neem die mense wat in die Middeleeue geleef het, of in die Victoriaanse era. Wel, as jy ‘n lid van die adelstand, of ‘n ridder was, dan was dit sekerlik nie so sleg nie. As jy egter ‘n dienskneg was, was jou lewe minder lekker.  Jy het gewerk van sonsopkoms tot sonsondergang en die werk was hard!

Of bietjie nader aan die huis; hoe was die lewe van die Voortrekkers, of Kaapse Hugenote of die inheemse stamme?  Waaroor was hulle bekommerd? Wat het hulle gedink oor die toekoms? Was hulle bekommerd oor peste en plae, wie hulle goed wil vat en wat van hulle kinders gaan word?

Prediker sê daar is niks nuuts onder die son nie.  Partykeer dink ek Prediker sal bietjie stomgeslaan wees met hierdie Babelse verwarring waarmee ons deesdae moet saamleef.

Vergun my nog een laaste aanhaling.  Klink dit bekend?

The children now love luxury; they have bad manners, contempt for authority; they show disrespect for elders and love chatter in place of exercise. Children are now tyrants, not the servants of their households. They no longer rise when elders enter the room. They contradict their parents, chatter before company, gobble up dainties at the table, cross their legs, and tyrannize their teachers.

Die skrywer van hierdie aanhaling was Socrates – wat bykans 400 jaar VOOR Christus geleef het. So ja, Prediker het dalk tog ‘n ding beet.

Daar is niks nuuts onder die son nie – kom ons laat dit so goed as wat ons kan, oor mekaar skyn.


Ilse Smalberger ons skryf afrikaansIlse Smalberger woon in Kimberley in die Noord-Kaap saam met haar man en katkinders. Ilse groot liefdes (behalwe vir haar familie natuurlik) is kosmaak, lees van spanningsverhale, blokkiesraaisels, Sauvignon Blanc, internasionale nuus, pizza, sport, Rafael Nadal, die see en resepteboeke. Sy hou nie van mense wat diere mishandel of ongeskik is met kelners nie. Bedags skryf sy kopie, doen vertalings, proefleeswerk en af en toe lees sy die nuus op OFM, Sentraal Suid-Afrika se grootste radiostasie.

1 comment on ““Oor Blydskap en Eskom en Prediker” deur Ilse Smalberger

  1. Nou kyk nou! ‘N blydskap dag, ek het dit nie geweet nie..
    Ja ek stem, dit lyk elke dag asof donker ons van alle kante bekruip en as mens dit sien en verder dink oor die toekoms, bestorm angs mens. Toe lees ek iewers, as mens aan die toekoms dink en jy raak angstig is dit omdat jy nie God in daardie oomblik saam met jou geneem het nie. So as ek nou angstig raak, wonder ek hieroor….

    Like

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: