Afrikaans Rubrieke

“ʼn Palet van Goud, Amber, Wynrooi en Roes” deur Ansja Ferreira

Herfs in die Suidelike hemisfeer skop glo rondom 20 Maart af. Dis min of meer wanneer Moeder Natuur haar verfkwas uithaal en haar palet vermeng in goud, amber, wynrooi en roes. Sy maak haar reg vir die skouspelagtigste verskynsel van die jaar. Sy dans, tol en draai met haar blarerok en sy begin haarself toegooi onder ʼn kombers van koper, amber, geel, bruin en rooi. Sy maak reg om te slaap en rus.

Herfs inspireer die skrywer en die kreatiewe siel in my. Wanneer ek na die blare kyk wat soos gekleurde reën neerval, hardloop my verbeelding weg en dink ek soms dat Moeder Natuur, nes ʼn tipiese vrou, daarvan hou om haar uitrusting en haarkleur te verander. Ek hou daarvan om my te verbeel dat sy in die herfs in ʼn vurige rooikop verander, wat ronddartel met haar sigeunerrok van herfsblare.

ʼn Mat van dooie blare kraak onder my voete en die reuk van die aarde, hout, klam grond en droë blare hang in die lug.

Vroegoggend en snags is daar ʼn knyp in die lug en die koeler weer gee my meer energie. ʼn Mat van dooie blare kraak onder my voete en die reuk van die aarde, hout, klam grond en droë blare hang in die lug. Die bome wil my iets leer. Wanneer hulle hul blare afgooi, wys hulle dat dit goed is om dinge te laat gaan. Ons kan leer om te erken hoe ons die bagasie, verouderde gewoontes en houdings van ons verlede dra. Uit hierdie bewustheid kan ons leer om dit te laat gaan. Af te gooi soos die bome hul blare afgooi. Die verandering aan te gryp en te omhels. En ons kan lig word. Vry word. Lééf.

Die boom kan ons iets leer van veerkragtigheid, deursettingsvermoë en innerlike krag. Die boom staan die hele winter gestroop van sy blare, maar Moeder Natuur sorg dat blare en bloeisels weer sal groei in die lente.

Herfs is die tyd wanneer ons begin regmaak vir wynproe, sjerrie, koffie, kerrie en lekker gekookte kos en ons jasse, serpe en stewels uit die kas haal. Een van die hoogtepunte in die Vrystaatse winter is die Vrystaat Kunstefees waar oud en jonk bymekaar kom om kreatiewe siele se skeppings te bewonder, te geniet en daaroor te praat.

Dit is wanneer ons waardering kry vir die klein dingetjies in die lewe.

Dit is ʼn plek waar die natuur kan genees en krag gee aan liggaam en siel.

Daar is min plekke in ons land wat so asemrowend is, soos herfs in die Oos-Vrystaat. Dink aan Fouriesburg, Clarens en Golden Gate. Op pad soontoe staan daar plate heldergeel sonneblomme en pienk, wit en pers kosmosse langs die pad. Die mense stop langs die pad om foto’s te neem. Golden Gate het sy naam gekry omdat die son ‘n sagte skaduwee op die sandsteen gooi en dit in ‘n gloeiende goudkleur verander. Dit is ʼn plek waar die natuur kan genees en krag gee aan liggaam en siel. Wanneer jy jou siel wil voed. Jy sien die grootsheid van die Skepping. Besef hoe klein ons mense is. Die stilte, die wind, berge, gras en diere. Die plek praat met jou.

Herfs kan ons laat besef dat ons deel is van iets groters.

Herfs kan ʼn mens ook laat nadink aan verandering en die seisoene in ʼn mens se lewe. ʼn Mens se lewe lê in al sy glorie voor jou soos ʼn groot onbekende oseaan en nie een van ons weet wat dit vir ons gaan inhou nie. Daar gaan tye wees wat die water gaan in-en-uittrek. Daar gaan laagwaters, hoogwaters, springgetye, tye van storms en selfs tsoenami’s wees en dan weer tye van rustigheid en kalmte.

Alles is deel van een groot prentjie. Dis ʼn eindelose sirkel van ontkieming, groei, blom, vrug dra, verlep, doodgaan, in die grond val en weer opkom. Die seisoene sal altyd daar wees: winter, lente, somer en my gunsteling seisoen, die lieflike herfs. Dis wanneer ek kan stil word, kyk na die blare wat van die bome af val en peins oor ons wonderlike, wrede en onbeskryflike mooi lewe.

Foto krediet

 


Why fit in when you were born to stand out?” deur Dr. Seuss, is Ansja Ferreira se gunsteling leuse. Sy is ʼn “free spirit” wat hou van sprokies, meerminne, engele en feetjies en is ʼn skrywer van stories, liedjies en artikels. Sy het ʼn Honneursgraad in Kommunikasiekunde met Joernalistiek as hoofvak en is tans besig met haar Meestergraad in Kreatiewe Skryfkuns aan die Universiteit van die Vrystaat. Daar is nooit ʼn vervelige oomblik in haar huishouding nie en jy sal haar die meeste van die tyd in die tuin kry tussen haar plante en diere.

0 comments on ““ʼn Palet van Goud, Amber, Wynrooi en Roes” deur Ansja Ferreira

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: