Afrikaans Resensie

Viviers:  Sy pen nog lank nie droog nie

Deur Carla Botha | 29 Julie 2020

 

Met die intrapslag “…pistool in die hand stadig tussen die mielies deur…” het hierdie verhaal my vasgepen in my stoel.  Ek het geweet dis ’n storie die wat ek wóú klaar lees.

Tinus Viviers is ’n bekende naam in skrywerskringe en het al ses titels die lig laat sien.  Hy is egter nie net ’n skrywer nie, maar ook ‘n gesinsman en kranige gholfspeler.  Sy verwerking van die spanningsverhaal, genaamd Dryfveer, het pas die lig onder sagteband gesien, en sal lesers verseker nie in die steek laat nie.

Die verhaal handel oor ’n besigheidsman, Karl-Jan Schoeman wat onraad vermoed in die besigheid wat hy bestuur, en stadig maar seker slaag hy en Eileen Wessels, ’n rekenaar programmeerder daarin om bedrog binne die besigheid oop te vlek. Hy ontdek ‘n firma-adres wat tot ’n doodloopstraat lei, en bankstate wat nie klop nie.  Dan word daar boonop ’n moord gepleeg wat moontlik voortspruit uit ’n finansiële motief,  ’n polisie ondersoek volg, en ’n geplante wapen sonder reeksnommer word gevind — maar dis iets wat elke leser self moet ontdek soos die storielyn ontvou.

Die fiksie-verhaal is egter ook een waarin die spanningslyn blitsig spoed optel.  Lesers sal in ’n japtrap besef dat die storie ’n hele paar uiteenlopende karakters bevat, elkeen met ’n eie agenda.  Viviers maak gebruik van kort hoofstukke wat dien as katalisator om die storie vinnig voort te stuur, en dit help sodat lesers nie vasgevang raak in lang, vervelige hoofstukke nie — in Dryfveer is daar geen tyd vir verveling nie.

Screen Shot 2020-07-29 at 12.29.13

Viviers se kennis van rekenaars skemer deur in die verhaal, en ondersteun die geloofwaardigheid van die storie en van Eileen Wessels se karakter.  Dit is altyd van noodbelang dat ’n skrywer goeie navorsing doen wanneer ’n storie aangedurf word — en die enigste vraagteken wat werklik opduik in Dryfveer is wanneer dieselfde karakter (Eileen), dink dat vroue in Doebai swart gewade moet dra (wat glad nie die geval is nie).  Nietemin, elke karakter gee Dryfveer lyf, en ontbloot vele intriges en konflik.

Die sagtebandboek met ’n netjies, bypassende buiteblad ontwerp bevat 288 bladsye (106 hoofstukke), en alhoewel dit lywig klink, lees dit rats.  Dryfveer is nou beskikbaar.

 

 

 

 

 

0 comments on “Viviers:  Sy pen nog lank nie droog nie

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: