Afrikaans Rubrieke

“Ons het nuwe k*k nodig” deur Willemien Marais

PicsArt_10-08-02.04.15Ons is almal mooi groot. Moenie ’n * sit wanneer jy vloekwoorde in jou blog gebruik nie. So laat weet die topbestuur van Ons Skryf Afrikaans. Ag, k*kketiek*k, dink ek. Ek vloek juis so graag. Sonder ’n * ook, maar veral met ’n *. Die * is soos om ’n gesprek te begin met “Ek wil nou nie lelik wees nie…” en dan is jy so lelik as moontlik, want jy het mos nou verduidelik dat jy dit nie eintlik kan help nie. Sit ’n * en jy kan wegkom met m**rd. (Mens spreek die * as ’n poep uit. Google “Story Time with Darlene Davenport” vir meer inligting oor die uitspreek van leestekens. Maar kom net weer terug as jy klaar is, ek het nog baie te sê.)

Mense kan tog vreeslik sensitief wees oor twee k’s en ’n *.

Soms selfs meer so as oor twee k’s en ’n a. Regtig, julle? Dit is vir my duidelik dat ons dringend nuwe k*k nodig het. Raak jy nie ook siek en der dagens sat van al dieselfde ou nonsens nie? Dis soort van ’n gegewe dat die lewe nie maklik sal wees nie, maar dit hoef darem seker nie so herhalend te wees nie.

Selfs ons kru taal raak herhalend. Tale ontwikkel egter die hele tyd. Elke jaar stuur hulle (dalk h*lle, want niemand is seker wie dit is nie) ’n lysie rond met nuwe woorde. En elke jaar is ek tot in my siel teleurgesteld dat daar nie ’n lekker nuwe vloekwoord is nie. Dis ’n bietjie soos klassieke musiek en kuns. Ons het die Renaissance gehad en sedertdien nie juis weer noemenswaardige vordering gemaak nie. As ek jou vra om name van groot komponiste en skilders te noem, is die kans baie goed dat die spulletjie al ’n hele paar eeue gelede langbome toe is.

As die kriteria is, dat dit iets moet wees wat lank terug geskep is, steeds gebruik word en dat die enkele nuwes nie naastenby so indrukwekkend is nie, gee dit vloekwoorde aansienlik meer status. Dit hoort op dieselfde verhoog as La Traviata (“U en u f*kken metgesel word uitgenooi na die première van die bef*kte La Traviata”) en op die aanwysings na die Mona Lisa in die Louvre (“In die volgende galery sien u Da Vinci se Mona Lisa – kyk mooi, want sy is d*nners klein”).

Ek wil trouens so ver gaan as om vloek as ’n vertakking van die Skone Kunste voor te stel. Ek sien museums, uitvoerings, huiskonserte waar almal keurig vloek in afgeronde sinne wat werkwoorde bevat. Universiteitsgrade van ’n BA tot ’n Ph-f*kken-D. Hysbakke met strelende vloekwoorde oor die luidsprekers. O, en inbelsentrums: “Jy is nommer 34 789 in die ry. Ons geen nie ’n f*k om nie.”

Dalk is dit die oplossing vir van ons land se probleme. Ons begin klein met nuwe kaggelk*kkies en werk dan stelselmatig tot by str*nt op ’n Nk*ndl*-vlak. Ek is regtig lus om ’n slag oor iets nuuts te kerm. Of vir iemand anders die donner in te wees. Skuus, die d*nner in te wees. As ek dan nou drie-uur in die oggend op my tande moet kners, kan dit net sowel vir meer boeiende k*k wees. As stres die oorsaak van ons dood moet wees, wil ek darem stres oor iets van belang. Komaan, julle. Ons het nuwe k*k nodig. Die toekoms van Afrikaans is daarvan afhanklik.


dav

Willemien Marais kan haar ore wikkel en het al ‘n yskas met ‘n mes doodgesteek. Sy lewe as ‘n mens op aarde terwyl sy wonder of sy werklik ‘n mens op aarde is. Maar solank daar Zoo-koekies is, maak dit nie saak nie. Sy woon saam met haar vrou en dogtertjie in Bloemfontein.

Willemien is ‘n akademikus, joernalis, effense kluisenaar en aanhanger van fossiele, die buitenste ruim en liquorice bullets.

 

 

 

2 comments on ““Ons het nuwe k*k nodig” deur Willemien Marais

  1. Lindie Coetzee

    Lekker skrywe Willemien. Het geniet om dit te lees.

    Liked by 1 person

  2. Aaah Willemien. So goed om weer iets uit jou pen te lees! F*kken briljant soos altyd.

    Liked by 1 person

Leave a comment