Afrikaans Rubrieke

“Nuwe jaar, nuwe hoofstuk” deur Ilse Smalberger

Die eerste week van ‘n nuwe jaar is verby: ons kan 2018 eintlik nog in die truspieëltjie sien, terwyl 2019 soos ‘n lang, onbekende pad voor ons uitstrek. Vir sommige was 2018 ‘n jaar van ongelooflike hoogtepunte, terwyl ander dit liewers sal wil vergeet. Hopelik, vir die meeste van ons, was daar die goeie saam met die slegte in die jaar wat verby is.

Op plaaslike nuusfront was die land in ekstase toe Jacob Zuma gedwing is om te bedank en Cyril Ramaphosa sy plek as president ingeneem het. Dié gevoel was egter van korte duur, veral toe die regering sy voorneme om die Grondwet te wysig, om grondonteiening sonder vergoeding ‘n werklikheid te maak, bekendmaak.

In 2018 het die Suid-Afrikaanse ekonomie behoorlik wipplank gery, en daar is aangekondig dat die meesterbreine agter staatskaping – die Guptas – vervolg sal word. Hierdie twee langvingers het onmiddellik gevlug, maar op ‘n positiewe noot het dit gelukkig in die Kaap begin reën en daarmee was Dag Zero afgeweer en die Kaap … wel weer hollands.

Die Blitzbokke was weer die rugby Sewes-titelreekskampioene, Suid-Afrika het dertien goue medaljes by die Gemenespele in Australië gewen, en daar was nie ‘n droë oog in die hele Suid-Afrika toe Kevin Anderson deurdring tot die Wimbledon-manseindstrydtoernooi nie. Maar wie kan die kriekettoetsreeks teen Australië vergeet, wat ‘n wrang smaak in die mond gelaat het?

Dit is alles egter nou verby en 2019 is soos ‘n skoon dagboek wat ons oopmaak en waarin daar nog niks geskryf is nie.

Op internasionale gebied, het die omstrede – en dikwels katastrofiese – uitsprake, besluite en beleide van die Amerikaanse president, Donald Trump, bly opslae maak. Konflik in Yemen, Sirië en ander Midde-Oosterse en Afrika-lande het geen einde aan hongersnood, armoede en gevolglike migrasie gebring nie. Die gevaar en mag van sosiale media soos Facebook het aan die lig gekom in die Cambridge Analytica-skandaal en uiterste temperature en klimaatsverandering het droogtes, vloede, aardbewings en tsunamis veroorsaak.

Die wêreld het egter gejuig toe twaalf Thaise seuntjies en hulle sokkerafrigter ongedeerd uit ‘n grot gered is nadat hulle sewentien dae lank vasgekeer was, en vir ‘n dag kon ons onsself verloor in die sprokiestroue van ‘n prins en ‘n Hollywood-aktrise.

Dit is alles egter nou verby en 2019 is soos ‘n skoon dagboek wat ons oopmaak en waarin daar nog niks geskryf is nie.

person uses pen on book
Photo by rawpixel.com on Pexels.com

Baie mense beweer dat hulle glad nie in nuwejaarsvoornemens glo nie. Ek kan egter amper nie dink dat meeste mense hulleself nie voorneem om tog ‘n skoon blaadjie van soorte in die nuwe jaar om te slaan nie: meer oefen, minder eet, minder drink, minder sweets eet, beter georganiseerd wees, meer geduld hê, ophou rook, meer water drink, meer ontspan, minder stres. En as ‘n datum op ‘n kalender jou aanspoor om dit te doen, waarom nie?!

Vir my persoonlik is die uitdaging eerder om die goeie gesindheid, die doelwitte en planne, die goeie gewoontes en die opgewondenheid vir nuwe vooruitsigte wat ek gewoonlik op 1 Januarie voel, vol te hou. Te gou word die jaar net nog ‘n mallemeule van deadlines, moet-doen lysies, balansering van ‘n huis vol mense se skedules, verwagtings en behoeftes, en begrotingsbeplanning en somme maak om Jan Taks tevrede en almal se magies vol te hou. Kort voor lank is jy net-net kop bo water en dreig 2019 om jou weer in te sluk en behoorlik verrinneweerd aan die anderkant uit te spoeg.

woman working girl sitting
Photo by Alexander Dummer on Pexels.com

Hoe dan nou gemaak? Ek wil verbete vasklou aan die gevoel van hoop en positiewe vooruitsigte vir die nuwe jaar. Ek wil volhou met al my voornemens, want ja, ek glo nog aan nuwejaarsvoornemens, en wil teen 5 Mei en 22 Julie en 6 September nóg net so goed op dreef wees met my doelwitte soos op 2 Januarie.

Ongelukkig is ek nie ‘n life coach nie, en het ek nie ‘n sakvol pasklaar antwoorde hiervoor nie. Mense word op verskillende maniere gemotiveer; party maak dit ‘n gebedsaak, ander skep “belonings” vir doelwitte bereik, sekeres beplan en organiseer projekte, verpligtinge en selfs plesier tot op die minuut, en sommige doen dit deur suiwer self-dissipline.

Ek soek my motivering in die woorde en denke van mense wat baie slimmer as ek is en baie meer lewenservaring as ek het. Glo my, as jy iets sinvol sê wat my siel aanraak, sal ek dit oordink en sal ek dit in my lewe probeer terugploeg. Een so wysheid wat ek raakgelees het, is uit die pen van Ralph Waldo Emerson, ‘n Amerikaanse filosoof, digter en dosent wat die volgende gesê het: “Write it on your heart that every day is the best day of the year.”

Mag daar in die volgende 51 weke van jou hoofstuk ‘n wonderlike nuwe storie ontvou. Pyn, frustrasie en teleurstelling sal daar sekerlik wees, maar hopelik ook geluk, avontuur en tevredenheid.

Party mense sê elke jaar is ‘n nuwe boek; verlede jaar se boek is toegemaak en op 1 Januarie begin jou nuwe storie. Ek stem nie heeltemal saam nie. Ek voel jou lewe is ‘n boek, en 1 Januarie is die begin van nog ‘n nuwe hoofstuk. Party se boeke is kort, en ander s’n is lank. Almal se boeke het hoogtepunte en laagtepunte, intriges, romanse, hartseer en komedie. En elke dag is ‘n nuwe bladsy – skoon, oop, gereed om te ontvang.

Die eerste week van ‘n nuwe jaar is verby. Party mense het reeds vreugde beleef, soos al die gesinne wat nuwejaarsbabas ryker geword het, en ander reeds hartseer, soos die wat die eerste paar dae van die jaar familie of vriende aan die dood moes afstaan.

Mag daar in die volgende 51 weke van jou hoofstuk ‘n wonderlike nuwe storie ontvou. Pyn, frustrasie en teleurstelling sal daar sekerlik wees, maar hopelik ook geluk, avontuur en tevredenheid.

Voorspoedige 2019!

 


ilse osa1Ilse Smalberger woon in Kimberley in die Noord-Kaap saam met haar man en katkinders. Ilse groot liefdes (behalwe vir haar familie natuurlik) is kosmaak, lees van spanningsverhale, blokkiesraaisels, Sauvignon Blanc, internasionale nuus, pizza, sport, Rafael Nadal, die see en resepteboeke. Sy hou nie van mense wat diere mishandel of ongeskik is met kelners nie. Bedags skryf sy kopie, doen vertalings, proefleeswerk en af en toe lees sy die nuus op OFM, Sentraal Suid-Afrika se grootste radiostasie.

2 comments on ““Nuwe jaar, nuwe hoofstuk” deur Ilse Smalberger

  1. Cathy parsons

    Ons wag al vreeslik lank vir hierdie hoofstuk.
    Ek hoop om dikker hoofstukke van jou boek te lees te kry.

    Like

  2. Baie dankie Cathy! Ek waardeer xx

    Like

Leave a comment