Afrikaans Rubrieke

“50, 150 of 264 Skakerings van Grys?” deur Elsabe Pepler

Die befaamde erotiese boek, 50 Shades of Grey, het na vyftig skakerings van grys verwys om opwinding, fassinasie en asemloosheid te beskryf. Google vertel my dat daar meer as 150 nuanses van grys is; 264, om presies te wees. Maar die menslike oog kan dit nie alles onderskei nie.

Ek het nog altyd gedink wit, grys en swart – en veral beige! – is nie kleure nie. Dis toestande.

‘n Beige toestand, dink ek, is erger as baie ander ellendes. Ek gaan desperaat moet wees om ‘n beige kledingstuk te dra. Maak nie saak wat jy dit noem nie: beige bly beige.

Deesdae is grys ‘n groot modekleur; ‘n universele neiging. Daar is lieflike en aaklige name vir verskillende gryse. Maar net die naam en spelling van die woord vertel alreeds iets van … mmm, grys. Loodgrys, asgrys, staalgrys, renostergrys, aandgrys, fossielgrys, hawegrys, rookgrys, magma- of lavagrys, houtskoolgrys, stormgrys.

Wikipedia lig my in dat die volgende emosies tipiese konnotasies met grys is: pessimisme, depressie, verveeldheid, neutraliteit, onsekerheid en besluiteloosheid, en ouderdom. En hoera: ook tevredenheid en elegansie.

Daar is darem mooi gryse ook: pêrelgrys, fluweelgrys, forelgrys, silwer, pienkgrys en blougrys. Aspersiegrys en leiklipgrys.

Dis 2019 in helder Kaapstad, maar my hart en kop is nog in vroeg Desember van 2018. Meer spesifiek, in die noordelike halfrond, in ‘n fraai rustige dorpie, Sassenheim, in Holland. Ek kyk elke dag na ons nimmereindigende blou lug met terloops wasige wit wolke. Dit het my ‘n reis en kuier in Holland gekos om te begin verstaan wat my oorsese Mia-kind amper daagliks oor weeklaag en huil. “Mamma, dis grys buite. Dis nog meer grys as gister. Oral, alles.”

Ek hét as hupse jong meisie op Koninginnedag in Amsterdam gestaan en my verwonder aan die helderrooi spatsels van jasse en serpe in al die grys. Maar noudat my oudste daar woon, is die ewige grys ‘n gereelde gesprekspunt.

Ek is deur my Mia se liefdevolle lewensmaat, die lange Roeland, onder groot geheimhouding in November ingevoer vir haar dertigste verjaardag.

Sy was vanaf haar eerste verjaardag volledig betrokke by elke volgende verjaardag. Partytjies is beplan, temas is uitgedink, wenslysies is gesirkuleer, uitnodigings is gestuur en dan het sy in hoofletters en hoofstukke verjaar. Sy het geskenke gesoek met spesifieke voorskrifte.

So was dit met die onlangse ronde dertig. Sou dit nou beter wees om ‘n ontbyt te hou of aandete?, het sy September al begin wonder. Ek moes op my tong byt oor my gesukkel met paspoort, visas en tasbeplannings vir die groot verjaardagverrassing waarvan sy nie mag weet nie. Ek het ewe onskuldig ontbyt aanbeveel.

3

Ek was opgewonde. Maar ook vrek bang, want Rumatoïede Artritis (outoimmuunsiekte) is op die beste van tye ‘n gemene, onvoorspelbare en pynlike vyand. Ek was bang vir die spoed wat ek nie meer het nie; bang vir pyn; bang dat ek ‘n nat vadoek sou wees – ‘n regte ou pretbederwer as ek nie kon loop nie.

Die lewe is uitdagend genoeg sonder ‘n enkele stukkie kolon (of dikderm, wat moes waai oor ulseratiewe kolitis en kolonkanker), en ‘n interne stoma.

Toe ek op 21 November om 00:30 by die Kaapstadse lughawevensters na die vliegtuig kyk terwyl ons staan en wag om aan boord te gaan, dink ek skielik: geen mensgemaakte ding kan in die lug bly met tonne bagasie én 360 mense nie. Die jong man en sy vroutjie agter my het senuweeagtig gelag toe ek dit vir hulle sê.

Wyse mense wat weet, sê dikwels as mens iets oor jouself wil leer, moet jy reis na verre bestemmings.  Ek het skielik heelwat goed in retrospeksie begin verstaan.

Danksy die hoflike en liewe Roeland het ek Schiphol en Sassenheim gehaal. Hy het vooraf gevra of ek 3000 meter na die motor sal kan stap. Natuurlik, het ek hom verseker. Eina.

My aanvanklike indruk buite was dat dit grys is. Die lug is grys, die atmosfeer is grys, die son is grys en die geboue ook.  Mia het darem ‘n hoë helder skreeutjie gegee toe sy my dié aand in die kombuis by die stoof aantref.

Ek kon die volgende dag dorpie toe loop in die koue grys met google-maps van Mia. Die besef dat ek nie aan my handsak hoef te klou nie, en dat ek superveilig is, was amper op ‘n manier steurend. Die euro se waarde was ook vreemd. Dinge is duur in rande.

Wyse mense wat weet, sê dikwels as mens iets oor jouself wil leer, moet jy reis na verre bestemmings.  Ek het skielik heelwat goed in retrospeksie begin verstaan. My Afrika-sonkind met haar heuning-vel en goudblonde hare se voetjies sleep oor te veel grys. Daar is nie die sonskyn-vitamien D nie.

Die grys neem mens oor en beset jou siel. Sy oefen verbete, en drink hope Vitamien D, dit help bietjie. En natuurlik het sy haar groot beskermende liefde aan haar sy, al noem hy haar Die Brigadier. Hulle klein kombuis is vyf dae na my aankoms plat- en uitgeslaan en vier lang weke later kon sy Kersfees onthaal met ‘n groot nuwe, luukse, gemeganiseerde kombuis. Pure Ikea — hout en wit.

7

My Bloemfontein-en-Kaap-kind is al dertig maande – soveel jare as haar lewe – weg uit Suid Afrika en stralende Kaapstad. Sy’s ‘n dapper mens. Sy het leer Hollands praat, en is deur die Universiteit van Amsterdam aanvaar vir haar meestersgraad wat sy binne ‘n jaar voltooi het. Toe dit alles mooi netjies in plek is en sy verwoed begin spaar in Januarie 2016, ontmoet sy onbepland die liefde van haar lewe hier in Kaapstad.

‘n Twee-plus-meter lange blonde, blou-oog man wat kans sien vir ‘n 1.5 metertjie bondel Afrika-energie. Sinchronisiteit se sweepslag. Romanse op sy beste, onverdund. Niks grys daaraan nie. Die Hollander het tydelik in Suid-Afrika as CA gewerk.

Al die punte het bymekaar gekom en Julie se afskeid het nader gespoed. Van die lughawe af het ek betraand saam met my ander dogter na die rumatoïede spesialis in Stellenbosch gery vir hope steroïde inspuitings.

In 2016 en 2017 het ek maar bloot gedink ek is nogal siek. Ek het dae om in my ouma en ma se blougrys stoel gesit en soort van gehoop ek verdwyn stil-stil. Ek het gehoop as ek my neus toedruk en nie asemhaal nie, sal alles maar net klaar wees.

Ek was kwaad vir mense. Ek het getreur. Onophoudelik. Ek kon niks doen nie. Ek was uitgeput. My oudste meisiekind was weg. My jongste een het sekerlik baie dae wanhopig gewonder waar is haar mamma. My hondjies het by my voete gelê en vraend na my gestaar.

Ek het eers verlede jaar besef dat my grys periode en lewenslose fase een van intense trauma en verlies was. Ek het gerou — en ek het dit nie geweet nie. Noudat ek terugkyk, verstaan ek dat PTS (post-traumatiese trauma) jou saggies kan wegsteel. Of ten minste in ‘n grys wese, ‘n soort skadu, kan verander.

20181201_145348

Ek kry nou werklik elke ouer en mens jammer wie se kind of kinders oorsee gaan woon; ek weet selfs van talle mense wat meer as een kind in verskillende kontinente het. Een man vertel my hul vier seuns is in vier verskillende vastelande. Natuurlik moet ons verheug wees dat hulle uit die oorlogsone van SA kan weggaan en veilig is.

Dat hulle goeie uitdagende betrekkings kry en by universiteite daar kan studeer.

Dat hulle nie werkloos is en gekaap word en aangeval word nie.

Mia-kind was in 2015 gekaap, helder oordag op ‘n Vrydag, 12:00, in Woodstock – die punt van ‘n geweer in een van die vier mans se hande. Daar, glo ek, het haar simbiose met sonnige Suid-Afrika geskeur.

Natuurlik kan ons ook verheug en dankbaar wees dat van ons ander kinders nog by ons is. Dit is, na alles, net twaalf ure se vlieg (en heelwat rande) om in Europa te kom. Hulle studeer, presteer, kry goeie werk, trou en en beleef ‘n ander veilige, wêreld met uitstekende dienste, opvoeding en wette. Hulle kry kinders, en oupas en oumas vergaan van grys verlange. Daar is Skype, Whatsapp, Facebook en Google Drive.

Maar dit vat nie die lang grys verlange na Sondagmiddagetes of saamfliek, of stappies by die Promenade of tee en beskuit of materiaalwinkelbesoeke of Woolworths-drentel weg nie. Dit help nie as jy haar wil raad vra oor iets wat sy nie kan sien of ruik nie. Dit help nie as sy bel en verdrietig sê sy wil jou geurige, dik wintersop hê nie. Dit help nie as jy drukkies wil gee en jou kinders se skoon sjampooreuk-koppe wil soen nie – al het mens genadiglik nog enetjie onder die dak met wie jy elke aand kan saam-eet en bespiegel oor die wonderlike Rami Malek in Bohemian Rhapsody, en in winkels gaan rondloop.

Maar onverwags en skielik het ek iets van die skreeuende, stroomop, wettelose, eksentrieke, interessante en kriminele SA gemis. Daai breë wit glimlagte in die taxis. Die oogkontak. Die luide geskreeu. Die massiewe branders by Kaappunt. Wilde diere in wildtuine. Robuuste kulturele kos.

Ek was gelukkig, opgewonde, dankbaar om vir myself te gaan sien hoe my kind in die grys winter in die Hollandse platteland woon, en in Den Haag werk. Ek het in my kamer gestaan en na die grys daarbuite gestaar, dertien van die vyftien dae. Net twee dae was daar tekens van son en bietjie blou lug.

Daar het ek op die vyfde Desember die belangrike Sinterklaas-avond beleef. En ek was effe ontsteld oor die Zwarte Piete oraloor. Sekere kulturele toepassings word nie meer in SA geduld nie en ek dink dis goed so. Holland moet maar inval, dink ek. Sinterklaas of Kersvader kan alleen sy geskenkaflewering hanteer, veral as hy Mev Sinterklaas se hulp inroep.

4

Ek het na die ander witkopkind en die hondjies in die hemelblou Kaap met die turkooisblou see en grasgroen berge verlang. Ek kon plas in soveel water in ‘n groot bad soos ek wou in Sassenheim – niks waterbeperkings nie. Mens kan treinry in die middel van die nag en jy kom niks oor nie. Mens het nooit kragonderbrekings of droogte nie. Ondervloerse verhitting en warm handdoekrelings is behaaglik.

Maar onverwags en skielik het ek iets van die skreeuende, stroomop, wettelose, eksentrieke, interessante en kriminele SA gemis. Daai breë wit glimlagte in die taxis. Die oogkontak. Die luide geskreeu. Die massiewe branders by Kaappunt. Wilde diere in wildtuine. Robuuste kulturele kos.

Die Hollanders, smaak dit my, se kos is nie so kleurvol en luidrugtig soos ons s’n nie. Hollanders verkies om nie oogkontak te maak nie en mens raak nie sommer aan die gesels in enige tou nie.

My liggaam het ‘n tipiese grys rekening gelewer. Vir die eerste keer ooit – ooit! – is ek in ‘n rolstoel gestoot, deur die betowerende fluweelgrys Leiden. (Dis die pragtigste en sentimentele studentedorp denkbaar. Keistene, baie ou kerke, kanale en pepernote. Marke met reuse melkgeel kase. Duisende fietse.)

Maar ek was binne loodgrys en ontsteld oor my verlies aan kontrole en en die weerloosheid in ‘n rolstoel. Dit was ysig koud, die reën het geval en ek het longontsteking ontwikkel.

5

Ek het myself nog nooit as ‘n verbete en lojale Suid-Afrikaner beskou nie. Ek het kleintyd al gevoel dis belaglik om te sing: “ons sal lewe, ons sal sterwe, ons vir jou Suid-Afrika”.

Ek het bly glo my oer-identiteit is in Holland. Alles daarvan het meer bekend gevoel as Afrika se hitte, ongebreidelde energie, spontaniteit en uitbundigheid.

Ek is anders; ek is koel, grys, Europees, het ek bly glo. 

Ek ken Mozart en Van Gogh en mistige berge.

Ek weet van katedrale en hogere filosofiese sielkundiges soos Jung en Freud.

Maar as dit kom by grys en blou, blom ek oor saffierblou en smarag-groen en knalrooi sonsondergange. Bloupers donderweer, wit strande, oranje strelitzias en skelpienk bougainvilla. Spierwit en bloedrooi rose.

Grys wat net aanhou in 264 verskillende skakerings vir weke op ‘n slag, is glad nie so sexy nie, dink ek. Selfs nie net eers 50 nuanses daarvan nie.

 


 

elsabe-fotoElsabe Pepler. Ma sonder ‘n kolon in haar lyf. Vrek oor woorde en sinne en nuus en die media. Tweedehandse boekwinkels en biblioteke is belangrik. Super supervisor van nagraadse studente in kommunikasie en ontwerp. My ouma het gesê: “Hierie kind sal nooit ‘n man kry nie; sy’s te parmantig”. Maar ek hou wel baie van honde. En Netflix is beter as … nou ja.

0 comments on ““50, 150 of 264 Skakerings van Grys?” deur Elsabe Pepler

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: