So byna ‘n jaar na haar egskeiding, in die vroeë 90’s, het sy besef sy gaan nie finansieël die mas opkom nie. Gewese man is soos mis voor son, daar is geen onderhoud nie en daar is ‘n huis en twee kinders wat versorg moet word. En daar is net te veel maand oor aan die einde van die geld. Sy’t nog altyd haar skippie alleen geseil, so hulp vra by pa of ma is nie ‘n opsie nie.
Een aand by ‘n braai (want dis darem ‘n ete verniet), word daar oor die algemeen gesels oor die lewenskoste en onnadenkend en meer as ‘n grap, sê sy; “Ek sal enigiets doen om ‘n ekstra inkomste te verdien, selfs al is dit onwettig, solank ek nie gevang word nie.” Laggend sê die een vriend; “Wel, as ek ‘n vrou was en soos jy gelyk het, sou ek nie gesukkel het nie. Julle vrouens sit op jul beursies!”
Sy het hom ‘n skewe kyk gegee en geantwoord; “Nee dankie, ek is nog nie SO honger nie.”
Toe sy later die aand op pad is huis toe, loop een minder bekende vriend saam tot by die motor en na almal gegroet het, bly hy talm. Sy dink eers hy stel dalk op ‘n ander manier belang, maar hy kyk haar ernstig aan en sê: “Ek het jou dopgehou en na jou geluister. As jy werklik ekstra geld wil maak, nie bang is nie en nie omgee om bietjie on the edge te lewe nie, bel my, dan ontmoet ons vir koffie en ek vertel jou hoe ons mekaar kan help. Hier is my nommer.”
Eers byna drie weke later, toe sy besef die motor het ander bande nodig, gaan krap sy die nommer uit en bel hom. Hulle ontmoet in ‘n koffiewinkel.
Ons voel vere vir die wet oor perlemoen, want ons glo nie ons steel van iemand nie.
En dit is wat hy haar aanbied: “Ons is ‘n span perlemoenduikers, maar dis vir ons te gevaarlik om self die perlemoen weg te steek, in die nag te gaan haal en te vervoer na die kopers. Duikers kan nie bekostig om gevang te word nie. Jy gaan soggens baie vroeg of saans, afhangende van die toestand van die see, die weer en die tyd wat die son opkom of sak, saam met ‘n duiker. Hy duik en jy wag op die rotse en jy HOU JOU OË OOP! ‘n Duiker bring gewoonlik met elke duikslag ‘n sak van so ongeveer 20 kg ontskulpte perlemoen wal toe, plus vier geskulptes, wat hy in sy goodie bag hou en waarvoor hy ‘n permit het, om als wettig te laat lyk. Ons duik nie ondermaat perlemoen nie. Ons voel vere vir die wet oor perlemoen, want ons glo nie ons steel van iemand nie. Maar ons wil ook nie die bron uitroei nie. Daar is ander duikers wat anders dink en doen – ons soek hulle nie.
Die duiker sal vir jou ‘n teken gee as hy op pad uit die water is. Jy moet seker maak alles is veilig en dan sal hy die sak perlemoen in die vlak water los. Hy sal wegloop en homself gaan afdroog, ensovoorts, asof alles normaal is. Jy moet die sak gaan optel en in die bosse gaan wegsteek, en maak seker jy wéét en ONTHOU waar jy die sak los, want verloor jy dit, is dit moeilikheid vir jou. En jy bly weg van die duiker af.
Jy moet dieselfde nag die sak gaan optel, verkieslik in die vroeë oggendure. Uit ondervinding het ons geleer tussen 03:00 AM en 04:00 AM is die veiligste. Dan ry jy direk na ‘n punt wat ons vooraf sal afspreek, los ‘n missed call op my nommer en wag daar. Iemand sal dit by jou kom afhaal en jou betaal. Jy kry R600 vir elke 20 kg sak. Ons duik soms elke dag, selfs 2 keer per dag en dan kan daar ook ‘n week verbygaan wat ons nie kan duik nie as gevolg van weerstoestande. Dit kan dus gebeur dat jy op een slag 40 kg sal moet dra.
As jy ooit gevang word sal iemand jou borg en boete betaal, jy hoef nie daaroor bekommerd te wees nie. Nog iets, naweke het ons eerste opsie op jou tyd. Moet ook nie eers daaraan dink om ons te pimp nie, dit sal nie werk nie. As jy op ‘n dag nie meer kans sien nie, sal ons jou los, maar jy moenie dink jy kan ooit gaan praat nie. Sien jy kans?”
En so het haar geheime lewe as ‘n perlemoen poacher begin.
Sy het nie lank gevat om daaroor te dink nie. Die geld was die deurslaggewende faktor en die risiko in vergelyking daarmee nie te erg nie. En so het haar geheime lewe as ‘n perlemoen poacher begin. Soos wat sy alles in haar lewe met presisie aangepak het, het sy elke keer, elke mission ook tot in die fynste besonderhede beplan. Terwyl die duiker in die water is, het sy die omgewing gefynkam en vooraf presies geweet waar om die sak te gaan wegsteek. Een voordeel was dat sy die mooiste tan in jare gehad het, want mens loop nie in klere by die see rond en trek onnodig aandag nie.
Elke keer het sy dit ‘n uitdaging gemaak om ‘n nuwe wegsteekplek te kry. Tussen die bosse en rotse was dit nie te moeilik om nuwe wegsteekplekke uit te snuffel nie. Dan het sy mental bakens gemaak, sodat sy in die donker reguit na die plek kon loop en die sak kon optel. Sy het stoksielalleen haar sak in die middel van die nag gaan haal en gaan aflewer, soms op die snaakste plekke, sonder dat sy ooit ‘n wapen saamgedra het. Sy het vas geglo dat daar ‘n beskermengel saam met haar loop. Volmaan-aande was vir haar erger as donkermaan, want dan was die nag te helder en sy te maklik sigbaar.
Sy het nooit ‘n sak verloor nie en vir twee jaar lank het dit goed gegaan. Daar was nou geld vir die konfyt op die brood ook en ‘n paar ander lekker dinge. Soms het te min slaap haar ingehaal, maar dan het sy iewers ‘n tweede asem gekry om aan te gaan. Tot die oggend van 6 Januarie. Die inspekteure het lankal van haar geweet, maar kon haar nooit vastrap nie. Daardie oggend was sy net ‘n uur later as gewoonlik, het bietjie verslaap en nie regtig geglo dit gaan saak maak nie. Toe sy uitkom by die parkeerplek waar haar motor staan, toe staan hy voor haar. Sy het besef dis hoe dit nou is, sy is vas.
Toe hulle die perlemoene uitskud uit die sak, was hulle selfs verbaas oor hoe groot dit is en wou weet waar dit uitgeduik is.
Hulle het haar weggevat en in Kleinmond se selle gaan toesluit. Die arme polisiemanne daar het nie mooi geweet hoe om haar te hanteer nie en was eintlik moerse nice met haar. Toe hulle die perlemoene uitskud uit die sak, was hulle selfs verbaas oor hoe groot dit is en wou weet waar dit uitgeduik is. “By Hangklip”, het sy geantwoord. “Wie is die duiker?”, het hulle oor en oor gevra. “Ek is die duiker”, was die antwoord elke keer. “Jy lieg”, het hulle aangehou. “Bewys dit,” was elke keer haar antwoord.
Later die oggend is sy Caledon hof toe geneem, en omdat sy geen rekord gehad het nie, is sy op waarskuwing vrygelaat. Dit het nie gelyk of die landdros veel omgegee het oor wie die duiker was nie. Toe die saak ‘n ruk later voorkom, het sy R9000 boete gekry, of nege maande tronkstraf, waarvan R6000 of ses maande opgeskort is vir 5 jaar. Die R3000 wat betaal moes word, is anoniem by haar prokureur inbetaal.
Toe die saak verby was, het sy hulle laat weet sy wil nie meer nie en dit was dit, tot vandag toe nog. Die vyf jaar van die opgeskorte vonnis is lankal verby en sy lewe al lankal ‘n doodnormale, vervelige, voorstedelike lewe, met ‘n doodgewone, ordentlike werk.
Net soms dink sy met heimwee aan daardie tye, maar weet ook dat dit amper soos die weermag is – een van die beste tye in haar lewe wat sy nooit weer oor wil hê nie. Die wette is nou BAIE strenger, en sy het amper twintig jaar gelede laas self ‘n perlemoen geproe.
NS: – Hierdie is ‘n ware verhaal. Hoe weet ek dit? Want EK is sy.
Sal ek dit weer doen? Definitief nie. Maar ek is nie spyt oor destyds nie, omdat ek vir my kinders brood en soms selfs konfyt daardeur op die tafel kon sit. Ek kon seker ‘n tweede werk gekry het (of ek kon gaan escort het), maar ek het nie. Ek het perlemoen gesmokkel. Dis hoe dit was.
Ironies genoeg werk ek vandag in omgewingsbewaring. Ek is nie soos daai mense wat eers gerook het en nou ophou rook het, en nou verdoem hulle alle rokers nie, maar ek weet ook nou dat ons as mens heeltemal te min doen om die aarde vir ons nageslag te bewaar. Ek regverdig niks wat ek destyds gedoen het nie, maar ten minste weet ek dat ek nie een keer ondermaat perlemoen uit die see weggedra het nie. Dis ‘n skrale troos, maar darem.
Anne-Marie Taylor is versot op waatlemoen en sjokolade. Sy hou nie van roomys nie en nog minder van kosmaak, maar sy sal al jou skottelgoed was as jy vir haar sal kosmaak.
Sy woon buite Stellenbosch in ‘n klein huisie op ‘n wingerdplaas en werk by die WNNR. Sy doen vryskut vertaalwerk (Afrikaans na Engels en vice versa) vir maatskappye en proeflees verslae. In haar vrye tyd, wanneer sy nie werk of Karoo toe ry om vir haar kleindogter te gaan kuier net buite Aberdeen nie, skryf sy.
Slaan my met ‘n nat vis. Ek lig my hoed vir jou.
LikeLike