Afrikaans Rubrieke

“Goeters wat lekker is om te dink” deur Willemien

As dit nie was dat die meeste van ons beskik het oor ’n ruim binnewêreld nie, sou geweld ’n veel groter probleem gewees het. Regtig, as jy dink dit is nou erg, dink net hoe dit sou gewees het as ons nie saggies in ons gedagtes kon vloek nie. Nou die aand op die nuus sien ek ’n Britse antie klap ’n immigrasie-amptenaar. Sy het duidelik geen binnewêreld nie. Die amptenaar vat egter net ietwat uit die veld geslaan aan sy wang. Nie eens ’n sagte “bliksem” uit sy mond nie. Maar ek is doodseker dit was nie die geval in sy gedagtes nie…

In my ruim binnewêreld is daar egter geen reëls nie. Daar is ook net ek, geen ander mense nie.

Natuurlik kan ons nie alles sê wat ons dink nie. Hier en daar is dit teen die wet, maar meestal is dit maar net nie sosiaal aanvaarbaar nie. In my ruim binnewêreld is daar egter geen reëls nie. Daar is ook net ek, geen ander mense nie. Dit is wonderlik. Trouens, ek dink van hierdie goeters wat so lekker is om te dink, is dalk nie heeltemal so lekker om te sê nie. Dit is soos om uit te sien na die somervakansie. Die afwagting is soms beter as die vakansie self.

So sê ek byvoorbeeld derduisende kere per dag hardop in my gedagtes: “Is jy mal?!” of “Siestog, jy is regtig dom”. Nie vir myself nie. Onthou in my ruim binnewêreld is ek nagenoeg volledig perfek. Nee, dis helaas op ander gemik. En moet nou nie maak asof jy dit nie ook doen nie. In ons ruim binnewêreld is ons almal kleuters. Ek trek my neus op, maak snorkgeluide, rol my oë, en my taalgebruik is beperk in die sin dat ek meestal net vloek. Skurwe taal, hoor ek mense sê. Maar my gunsteling-vloekwoordjies is seepglad en rol van my van tong soos spoelklippies in ’n helder waterstroom. Of iets dergeliks glad. Hoe dit ook al sy, ek praat nie volsinne in my ruim binnewêreld nie.

Ek hou nie van onregverdigheid nie. Geen normale mens doen nie, maar vir my is dit ’n bietjie van ’n obsessie.

’n Groot deel van my ruim binnewêreld word opgeneem deur fabelagtige wraakplanne. Ek hou nie van onregverdigheid nie. Geen normale mens doen nie, maar vir my is dit ’n bietjie van ’n obsessie. Indien iemand in my binnekringetjie te na gekom word, wees verseker dat ek in my ruim binnewêreld in die Afdeling vir Gespesialiseerde Wraakplanne besig is om regtig die dam onder die eend uit te ruk. Met militêre presisie en gesperde neusvleuels speel ek daardie scenario waar die wiel vir jou draai, oor en oor in my brein totdat my gesiguitdrukkings, woordkeuses, tydsberekening en jou geskokte ongeloof perfek is. Dit is indrukwekkend en baie steurend om te dink dit is net aangeleerde gedrag oor wat sosiaal aanvaarbaar is wat keer dat ons nie almal die hoender ruk nie. (En waar kom ons aan al hierdie geruk en pluk aan hoenders en eende in damme?!)

Een van die nuuswaardes wat joernaliste gebruik om te bepaal hoe nuuswaardig inligting is, is nabyheid. Hoe nader iets aan jou iets, hoe belangriker word dit vir jou. (’n Bomontploffing in Rusland teenoor ’n bomontploffing op jou voorstoep – heel eenvoudig.) In my ruim binnewêreld – en ek vermoed joune ook – is nabyheid ook bepalend in terme van die detail van my scenario’s. Vir mense wat ek nou nie juis van hou nie maar ook van geen kant af ken nie, is schadenfreude al wat nodig is. As iemand anders Donald Trump se naam gat maak, kry ek lekker en dis genoeg. Hy is ver en iemand anders se probleem.

Dis wanneer jy naby is en jy is my probleem dat ek op Hollywood-skaal funksioneer. Dialoog, garderobe, klankeffekte, dalk ’n paar spesiale effekte. In hierdie opsig is my ruim binnewêreld meer ’n donker onderwêreld. Ek kyk baie televisie en ek het lae standaarde. Ek het die kennis van amper al die boeke in my grootword-dorpie se biblioteek, honderde Huisgenote en al die episodes van The Walking Dead. Ek kan jou kop met ’n swaard af-tjop of sorg dat die res van jou aardse bestaan ’n uitgerekte, smartlike lyding is. My ruim binnewêreld is propvol maniere om jou lewe minder rooskleurig te maak. Het ek genoem dat ek ’n kettingsaag besit? ’n Kleintjie, meer soos ’n naelknipper, maar dis steeds ’n kettingsaag.  

My punt is mense met ’n aktiewe verbeelding, goeie maniere en selfbeheersing is waarskynlik die mensdom se redding.

Teen hierdie tyd wonder jy seker waarop ek afstuur. (Siestog. Jy kan dit seker ook maar nie help nie. Nie met sulke hare nie. Skuus, het ek dit nou hardop gesê?).  My punt is mense met ’n aktiewe verbeelding, goeie maniere en selfbeheersing is waarskynlik die mensdom se redding. Ons dink, maar ons doen nie. En dit is iets om voor dankbaar te wees. Dit en die feit dat ek nie regtig weet hoe om ’n swaard te gebruik nie.


willemien marais

Willemien Marais kan haar ore wikkel en het al ‘n yskas met ‘n mes doodgesteek. Sy lewe as ‘n mens op aarde terwyl sy wonder of sy werklik ‘n mens op aarde is. Maar solank daar Zoo-koekies is, maak dit nie saak nie. Sy woon saam met haar vrou en dogtertjie in Bloemfontein. Willemien is ‘n akademikus, joernalis, effense kluisenaar en aanhanger van fossiele, die buitenste ruim en liquorice bullets.

2 comments on ““Goeters wat lekker is om te dink” deur Willemien

  1. Dit was nou lekker om te lees op die Vrydag middag, want soos ek hier sit wil ek ‘n paar mense se koppe gaan afkap of hul dalk net effens vermink, want hul doen nie hul werk reg nie so hul moet nog kan weet hoekom ek die duiwel in is vir hulle.
    Dankie ek het dit nou regtig geniet veral om te weet daar is ander wat ook soms donker is in hul binneste al moet ons, ons self so beheer dat ons aanvaarbaar is in die gemeenskap.

    Like

  2. Ek love hierdie inskrywing! My ma het altyd gesê as mense moet weet wat sy soms dink, sal hulle nie NAAABY haar kom nie. Ek het dit beslis geërf 😂

    Like

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: